Saul het Alweer Spyt

28 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Saul het Alweer Spyt

1 Samuel 26

VIDEO | OUDIO

Dawid en Saul het na die episode in die grot versoen, en Saul het belowe om nie meer vir Dawid te vervolg nie. Nogtans bly Dawid in die onherbergsame woestyn. Waarom keer hy nie terug na sy huis nie? Eenvoudig - hy het lankal geleer dat hy nie vir Saul kan vertrou nie. En dan is dit presies ook net weer só! Stadigaan bou die ou wrewel weer in Saul op, totdat dit uiteindelik uitbars. Hy roep sy manne bymekaar: “Dawid is vir my ‘n groot gevaar - hy moet uitgeroei word! Vind uit waar hy wegkruip.”

Baie gou kom iemand na vore wat weet waar Dawid hom bevind, want hoe kruip jy nou effektief weg met seshonderd manskappe en al hulle aanhangsels? Hierdie keer is dit die inwoners van Sif wat verklap waar Dawid hom bevind, en dan trek Saul op om sy “gevaarlike vyand” te gaan vernietig. Soos gewoonlik hang daar weer ‘n donker wolk oor Saul se gemoed wanneer hy met drie afdelings uitgesoekte soldate die Sifwoestyn binnevaar. Naby die onherbergsame gebied waar Dawid hom bevind, slaan Saul kamp op. Hiervandaan sal hulle vir Dawid gaan jag soos ‘n wilde dier!

Dawid het egter al lankal gehoor dat Saul op pad was. Hy stuur ‘n paar spioene uit om uit te vind wat Saul beplan. Hulle vertel vir Dawid waar Saul sy kamp gemaak het. Dawid besluit om saam met ‘n paar manne te gaan kyk wat daar aangaan.

Onder bedekking van die nag sluip Dawid en Abisai Saul se kamp in. In die maanlig sien hulle Saul se wa met iemand wat daarop slaap. Dit kan maar net Saul wees want rondom die wa lê etlike soldate vas aan die slaap. Dawid som die situasie op - naby Saul se kop sien hy ‘n spies regop staan in die grond. Daardie einste spies het Dawid al verskeie kere rakelings gemis wanneer Saul in een van sy woedebuie was, ’n dodelike wapen! Was Dawid nie so rats nie....... Dawid herken vir Abner, die groot generaal waar hy naaste aan Saul lê, vas aan die slaap!

Abisai beduie na Saul se spies, en dan maak hy ‘n beweging asof hy die koning doodsteek daarmee. “Asseblief,” pleit sy oë, “net een enkele steek met daardie spies sal Saul die ewigheid instuur!”

Dawid skud sy kop: “Nee, Saul is stééds die gesalfde van die Here! Ek durf nie my hand oplig teen die koning nie, al is Saul dan nou ook totaal in my mag!” Dan beduie Dawid vir Abisai om die koning se waterkruik te vat, én die spies. “Kom, laat ons hier wegkom.” beduie Dawid sodra Abisai die spies uit die grond uitgetrek het. Stil soos hulle daar ingesluip het, sluip die twee skimme weer weg uit die flou ligkring van die kampvuur…...

Dawid en Abisai klim rats teen die rantjie uit tot héél bo. Hier is hulle veilig en buite bereik van Saul se wapens. Dan skree Dawid hard: “Koning Saul! Abner!” Onder in die kamp kom dinge in beroering. “Abner, antwoord jy dan nie?” spot Dawid die leërhoof.

Half deur die blare wil Abner weet: “Wie is jy dat jy na die koning roep?” Hy is sommer vererg oor hierdie astrante man wat homself nie wil wys nie.

“Abner, jy is mos ‘n man,” koggel Dawid voort. “Waarom staan jy dan nie wag by die koning nie?”

Nou is Abner éérs woedend! Hoe durf iemand hom só valslik staan en beskuldig? Wie dink die man dan is hy?

Maar Dawid is nie klaar met Abner nie: “Abner, daar was ‘n sluipmoordenaar in die kamp en so ampertjies was jou koning bokveld toe! Watter soort soldaat is jy dan? Só maklik kon julle albei dood gewees het. Sê my ‘n bietjie, waar is die koning se spies? En waar is die waterkruik wat reg langs sy kop gestaan het?”

Abner word yskoud as die waarheid tot hom deurdring. Hierdie sluipmoordenaar het reg tussen hom en die koning deurgestap en hy weet van niks! Maar dan herken Saul Dawid se stem: “Is dit jy wat praat, my seun Dawid?”

Dawid verduidelik mooi dat hy werklik géén kwaad aan die koning wil doen nie. Waarom vervolg Saul hom dan so onverbiddelik?

En weereens is dit Saul wat bitterlik berou het en bieg dat hy ‘n growwe fout begaan het. Weereens belowe hy plegtig dat hy nooit weer vir Dawid sal vervolg nie en dat Dawid asseblieftog huistoe moet kom.

As dit nie so tragies was nie, dan was hierdie eintlik ‘n komiese gebeurtenis! Die tragiese is dat daar ‘n stukkie Saul in die meeste van ons is. Ek sukkel om ‘n sekere persoon lief te hê soos Jesus dit van my vra want hy irriteer my grensloos. En dan, wanneer iemand baie hard met my daaroor praat, besluit ek om hom waarlik lief te hê. Maar sodra hy weer iets doen wat my irriteer, dan is dit weer sulke tyd! Dan verdwyn my liefde weer soos mis voor die son en agteraf sê ek maar net weer lelike dinge van hom. Kom ons wees elkeen ‘n “Dawid” wat vergewe en vergeet, ten spyte van al die vervolging!

Gebed:

Here, leer my asseblief ware liefde wat vergewe en vergeet!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026