Sardis

22 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sardis

Openbaring 3:1-6

Die pragtige stad Sardis was rondom ‘n hoë heuwel gebou, wat strategies vir hulle uitstekende militêre sekuriteit verleen het. Dit was bitter moeilik vir enige vyand om dit in te neem. Juis hierdie feit het gemaak dat die inwoners op hulle louere gerus het, en nie behoorlik wag gestaan het nie, gevolglik is die stad by twee geleenthede verower deur ‘n vyand! Maar ‘n vyand van ‘n totaal ander aard oorval die stad in die jaar 17nC toe sy getref word deur ‘n verwoestende aardbewing. Dit was chaos! Die stad was in puin. Keiser Tiberius en Klaudius het egter weer die stad herbou, en dit het uiteindelik herrys uit die puin.

Sardis het ‘n groot Joodse gemeenskap gehad.

Sardis laat my in soveel opsigte dink aan Ballito. Inderdaad het die inwoners van Ballito oorgerus geraak. Natuurlik is dit lekker om by die see te bly, en as jy só naby kan bly dat jy amper die branders op jou voorstoep het, dan is dit nog soveel lekkerder. En as daar nooit iets groot met die see gebeur nie, dan raak jy oorgerus, en jy bou al nader en nader aan die see. Maar dit is nie al nie: As jy na ‘n natuurlike strand-opset gaan kyk, dan sien jy ‘n baie spesifieke patroon van plantegroei, van uiters geharde pioniersplante wat die “bossies” agter hulle beskerm. Hierdie “bossies” is dikwels verdwergde rooimelkhoutbome, wat ‘n honderd jaar oud kan wees, maar lyk soos struike. Ongelukkig versper hierdie “onooglike” plante jou uitsig na die see, en stadigaan word hulle uitgeroei om die eiendom groter waarde te gee. Was hierdie uiters belangrike plante ongeskonde gelaat, dan was Ballito se strandgebied steeds beskerm!

En toe, een skrikwekkende nag, op 19 Maart 2007, tref ‘n verwoestende storm die kus totaal onverhoeds. Niemand is ooit vooraf gewaarsku van ‘n moontlike oorstroming nie. Maar daardie nag slaan reuse golwe etlike huise, woonstelblokke en restourante op die strand aan flarde. Rioolpype word losgeruk en die vuil besoedel die see. ‘n Pragtige wandelpad verdwyn totaal, verwoes deur die geweld.

Ek het na my asem gesnak toe ek daardie verskriklike oggend op die strand kom en die chaos en verwoesting sien. Van sommige woonstelle het slegs ‘n leë dop oorgebly. Van die pragtige goue strande het niks oorgebly nie, net aaklige kaal rotse. Ballito is verwoes!

Soos Sardis weer herbou is na die verskriklike ramp, so het die see uiteindelik weer die sand terug gegee om Ballito se verwoeste strand te herstel. Ballito se pragtige goue strande is weer ongeskonde. Die rioolpype, wandelpaaie, geboue, gapende afgronde en afskuwelike hope rommel het egter jare geneem om weer te restoureer tot hulle ou glorie.

Daar is egter ‘n ander aspek van Ballito wat my ook aan Sardis herinner: Wanneer Johannes in opdrag van die Heilige Gees aan die gemeente skryf: “...julle het die naam dat julle lewe, en tog is julle dood….”, dan noop dit ‘n mens om diep introspeksie te doen. Ballito is op die oog af ‘n borrelende vakansiedorp. Dis ‘n skatryk dorp, met paleise van miljarde rande, wat hang teen die heuwel, wat eintlik ’n hoë sandduin is.

Ook die kerk is aan die gang op verskeie terreine, hier is nie minder nie as 56 kerke in Ballito! As jy op Kersoggend hier ‘n kerkdiens wil bywoon, moet jy ure voor die tyd reeds daar wees om ‘n plekkie te kry.

Maar as jy egter ‘n bietjie gaan delf, kom jy agter dat daar diep binne ‘n doodsheid is, selfs in die kerk, net soos Johannes beskryf. Op die oog af sien jy mooi dinge wat gedoen word in die verskillende gemeentes. Maar dit word deur slegs ‘n handjievol lewende lidmate verrig. Elke keer is dit maar weer dieselfde ou paartjies wat alles doen - die res is stagnant, dikwels morsdood! Hulle ry maar net saam as passasiers.

Liewe leser, ek skryf oor Ballito, want ek ken die dorp en die gemeenskap. Hierdie rykmansdorp is vrot van binne! Maar wat van die gemeenskap waar jy bly? Hoe lyk jou dorp, jou gemeenskap van binne? En hoe lyk jou gemeente? Is dit nie daar maar presies dieselfde nie?

Johannes skryf dat dit egter nog nie te laat is om sake reg te stel nie. “...bekeer julle …. word wakker…”. As jy dalk vanoggend weet dat jy een van hulle is wat stadigaan wegdryf, dan is die dringende boodskap ook aan jou om wakker te word en om te draai, terug na God toe. Johannes dra die wonderlike belofte van Jesus oor aan elkeen wat getrou bly: “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe haal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.” Wat ‘n wonderlike belofte! Daardie belofte is vir jou en my. Gryp dit aan!

Gebed:

Here, maak my asseblief lewendig vir U Koninkryk, en gee my die ywer om altyddeur U liefde prakties en met passie uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026