Johannes 12:1-11
Die dissipels is nie gelukkig nie. Hulle harte klop in hulle kele, want hulle weet dat hulle Meester Sy dood tegemoet loop! Hulle vertrek na die dorpie Betanië, net buite Jerusalem. Nou is hulle natuurlik ook reg in die gevaarsone, waar die Joodse leiers op hulle wag. Die regte oomblik moet nou net aanbreek om Hom gevange te neem en tereg te stel.
Jesus-hulle word uitgenooi vir ‘n ete deur Sy vriend Lasarus en dié se twee susters, Marta en Maria. Daardie aand kom lê hulle rondom die tafel soos gebruiklik. Marta is soos gewoonlik die een wat rondhardloop en hulle bedien. En dan, terwyl sy so ywerig aan die werk is, verdwyn Maria, en kom te voorskyn met ‘n albasteflessie. Alle oë is op haar gerig. Asems word ingetrek, want jy kan sommer sien dat hierdie ‘n baie duur fles is. Wat sou sy daarmee wou maak? Sy gaan reguit na Jesus toe, breek die nek van die fles en begin om die ganse inhoud daarvan oor Jesus se voete uit te giet.
Nardusolie word gemaak van die wortels van die nardusplant, en dit word ingevoer uit Indië. Dit is peperduur. ‘n Enkele druppel of twee is genoeg om ‘n heerlike geur te versprei. Vir Maria is dit egter nie genoeg nie, en die hele inhoud, ‘n volle halfliter word oor haar Meester se voete uitgegiet. Die hele huis word gevul met die hemelse geur van Nardus.
‘n Doodse stilte hang oor die groep. Niemand rep ‘n woord nie. “Weet Maria wat sy so pas gedoen het?” maal in elkeen se gedagtes. Maar Maria is nog nie klaar nie. Sy maak haar hare los, en dan begin sy om dit as handdoek te gebruik, en Jesus se voete droog te maak met haar goedversorgde haredos. Nou het sy almal éérs sprakeloos. Jy kan letterlik hoor hoe die toeskouers snak na hulle asems. So ‘n ding word net eenvoudig nie gedoen nie!
‘n Vrou se hare was vir haar baie belangrik, en sy het groot moeite gedoen om dit te versorg. Wat Maria gedoen het, was dus baie, baie spesiaal, want ‘n vrou sou slegs haar hare só gebruik as die man vir haar baie spesiaal is. Hiermee wil sy vir die man sê dat sy haar héél beste vir hom wil gee. Dit sou egter baie vergesog wees om Maria se aksie teenoor Jesus as ‘n seksuele aangetrokkenheid te sien. Vir haar was Hy haar Meester. Hy het vir haar meer as énigiets beteken en vir Hom sou sy enigiets doen.
Judas Iskariot is die eerste om die stilte te verbreek. Hy is ‘n bitter ongelukkige man. Hy meet Maria se aksie onmiddellik in geldwaarde, want hierdie duur olie kon eerder verkoop gewees het. Sy redenasie is dat die geld vir die armes gegee kon word. Baie edel, sou ons kon sê. Maar Judas het ‘n verskuilde motief gehad: hy was geldgierig! ‘n Rabbi het hom nie bekommer oor die alledaagse dinge soos kos en geld nie, sy volgelinge moes hiervoor sorg. Jesus se dissipels moes dus deurentyd sorg dat daar kos, blyplek en ander noodsaaklikhede is. Judas was die een wat die finansies hanteer het. Hulle het egter vermoed dat daar van die geld in sy eie sak beland het. Hierdie flessie nardusolie het Judas se geldgierige ogies laat skitter, want dit was ‘n hele jaar se salaris werd.
Het Maria geweet wat op Jesus gewag het? Het sy vermoed dat haar Meester skaars ‘n week later dood sou wees? Sy sou Hom salf met die beste wat sy het terwyl Hy lewe. Sy aanbid ‘n lewende Here! In skrille kontras hiermee kom Nikodemus ‘n week later met ‘n volle vyftig liter speserye om Jesus vir ewig in die graf weg te bêre (Joh 19:39).
Jesus is rustig oor Maria se handeling. As Judas haar oor die vingers wil tik oor sy so mors, is Jesus se reaksie dat Maria hierdie reukolie spesiaal moes hou vir hierdie dag, want dit is om Hom te salf vir Sy begrafnis. Vir die armes kan hulle maar weer anderdag iets gee, maar nou is Jesus die héél belangrikste.
Vir Maria was dit van uiterste belang om haar álles te gee vir ‘n lewende Here. Nie alleen offer sy baie duur reukolie op nie, maar sy waag ook haar reputasie deur haar hare te gebruik. So maklik kon iemand dalk iets anders gelees het in haar handeling, maar sy het nie omgegee nie. Sy het besef dat Jesus se tyd om was, en dat daar dalk later nie weer ‘n geleentheid sou wees nie.
Ek dink dit is baie belangrik dat ons Jesus moet dien terwyl daar vir ons nog ‘n geleentheid is om dit te doen. So maklik wil ons sê dat ons wél eendag aan Sy voete sal sit, eendag ná die wederkoms. Maar dit is ook belangrik dat ons hier en nou alles in die stryd moet werp, en ál ons lof en verheerliking aan Hom, die Koning van alle Konings sal bring. Maria was dankbaar vir wat Jesus vir haar gedoen het, en sy het haar dankbaarheid op ‘n tasbare wyse getoon. Is jy dankbaar vir wat Jesus vir jou gedoen het, en steeds elke dag doen? Dan is dit mos net reg om ook op ‘n tasbare wyse vir Hom dankie te sê. Nie maar op ‘n halfhartige wyse, deur ‘n paar druppeltjies olie aan Hom af te staan nie, maar om jou álles vir Hom te gee. Géén offer is te groot om vir Jesus te gee nie.
Gebed:
Here, ek gee dikwels so halfhartig, en my dankbaarheid is so flou. Ek wil U dien met alles wat ek het.