Epiloog

14 September, 2026

1 Samuel 28

Samuel se lewe was gekenmerk deur sy baie besonderse verhouding met God. Verder ook deur die reuse invloed wat hy uitgeoefen het op almal met wie hy in aanraking gekom het, Eli, Saul, Dawid en nog vele ander. Nou is Samuel dood, maar steeds oefen hy selfs van anderkant die graf ‘n invloed uit op mense!

Die verhaal vertel in 1 Samuel 28:3 vir die tweede keer van Samuel se dood. Daar was alreeds in 1 Sam. 25:1 vertel dat hy gesterf het en dat almal oor hom gerou het. Nou kom herhaal die skrywer hierdie inligting. Dit is egter baie belangrik, want die hele verhaal van vandag is op hierdie inligting gebaseer.

Alles het begin met die Filistyne wat vir die sóveelste keer teen Israel opgetrek het om oorlog te maak teen hulle. En hier speel twee dramas hulle gelyktydig af. Aan die een kant was daar Dawid, wat steeds die voortvlugtige was, want Saul wou hom dood hê. Uit desperaatheid sluit hy en sy seshonderd soldate aan by die Filistyne. Dit was alles goed en wel terwyl hulle teen ander volke geveg het. Maar skielik sit Dawid met ‘n dilemma, want die Filistyne wou nou hê dat hy teen sy eie volk moes gaan veg! Hoe Dawid hom uit hierdie tameletjie uitgewurm het, is ‘n storie vir ‘n ander dag. Dit word vertel in my boek: “Dawid, God se Liedjieskrywer.” Jy kan dit lees by: chl.co.za/dawid

Die tweede drama wat hom afspeel, is dat Saul baie benoud was oor hierdie geveg. Hy het die hele Israel opgeroep om te kom veg, maar steeds was hy bitter onseker. Samuel was maar altyd daar om met die Here te praat en Sy raad te vra oor wat Saul te doen staan in gevegte. Samuel is egter dood, en nou is die enigste kommunikasiekanaal tussen Saul en God afgesny. Saul probeer sélf bid, maar God antwoord hom nie. Selfs wanneer hy uit desperaatheid die urim gebruik om deur loting God se wil te bepaal, werk dit nie. Die probleem was dat Saul ál die brûe agter hom verbrand het! Hy het só goed begin as koning, maar gaandeweg het hy al verder en verder van God af weggedryf.

Saul het swaar gesteun op Samuel vir kommunikasie met God, maar nou is Samuel, sy enigste hoop, nie meer daar nie. As ‘n laaste desperate poging om met God te kan praat, besluit Saul om ‘n ding te doen wat ‘n gruwel in God se oë is, om Samuel uit die dood te laat oproep.

Net so terloops, meld die verhaal dat Saul persoonlik daarvoor verantwoordelik was om ontslae te raak van al die sogenaamde dodebesweerders, oftewel mense wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle kon praat met die afgestorwenes. Hy het hulle voor die voet uitgeroei!

En nou versoek Saul sy amptenare om juis vir hom só ‘n dodebesweerder te loop soek, want hy wil haar raad hê. Die manne trippel benoud rond. Hulle weet baie goed wat Saul met daardie mense gedoen het. Dan tree een kêrel na vore. Ja, hy het so verlangs gerugte gehoor dat daar so ‘n persoon is by En-Dor. “Neem my daarheen!” beveel Saul die manne. En so maak Saul die goeie werk wat hy gedoen het om van hierdie goddelose praktyke ontslae te raak, ongedaan!

Die groot koning Saul word gestroop van sy koningskap wanneer hy sy koninklike klere uittrek en homself vermom. Dan gaan klop hulle aan by die waarsegster. “Ek wil met die gees van iemand praat wat dood is,” deel Saul die vrou mee. Sy is eers baie skepties, want hierdie lyk altevol baie vir haar na ‘n lokval, alhoewel sy Saul gladnie herken het in sy mondering nie. Maar Saul stel haar gerus. Dit is só ironies dat hy selfs die Here se Naam aanhaal wanneer hy haar met ‘n eed verseker van haar veiligheid!

Die vrou stem in, en op versoek van Saul roep sy die gees van Samuel op. Skielik gebeur daar iets onverklaarbaar. Of dit wél Samuel was wat vanuit die doderyk met haar gepraat het, weet ons nie. Wat ons wél weet is dat iemand met die vrou gepraat het en dat sy dadelik vir Saul herken het. Sy het sélf baie groot geskrik toe sy die stem uit die “anderkant” hoor, só groot het sy geskrik dat sy in angs geskree het! Die vraag is of sy nie maar net nóg ‘n bedrieër was wat stories opgemaak het, en nou skielik vir die eerste keer werklik ‘n stem van oorkant af gehoor het nie? Daarom haar groot skrik!

Sy beskryf selfs vir Saul die “wese” wat sy uit die doderyk sien, en Saul herken vir Samuel. Saul het diep gebuig voor hierdie wese. Dit vertel vir ons van Saul se groot eerbied vir hierdie formidabele ou profeet, maar ook van die laaste sprankie hoop van ‘n patetiese man.

In Samuel se boodskap aan Saul spreek hy die doodsvonnis oor Saul en sy seun Jonatan uit. Vir hom is dit ‘n verskriklike skok! Is daar nog énigsins sin oor in die lewe? Die volgende dag sterf Saul sowel as Jonatan op die slagveld. Nou is Samuel se taak finaal afgehandel want nou kan Dawid sy regmatige plek op die troon inneem, die plek wat God aan hom belowe het!

Die vraag is: was dit werklik Samuel wat hier opgeroep was uit die dood? Die antwoord is eenvoudig: ons weet nie! My persoonlike opinie is dat dit eerder God was wat met die vrou gepraat het in ‘n visioen.

Dit bring ons aan die einde van nóg ‘n baie interessante karakter uit die Ou Testament.

Gebed:

Here, dankie vir alles wat ek kon leer uit die wonderlike lewe van die groot profeet, priester en rigter, Samuel!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026
Epiloog
14 September, 2026