Wie Was Johannes?
Dit is die jaar 98nC. ‘n Stokou Johannes sit op die stoep van sy huisie op die eiland Patmos. ‘n Salige glimlag verlig die ou, verrimpelde gelaat. “Here, ek is gereed om U weer te sien. My werk op aarde is uiteindelik voltooi! Ek het alles sorgvuldig neergeskryf wat U aan my openbaar het, sodat almal dit kan lees en wéét dat U die Ewige Koning is wat vir ewig regeer!”
Daar is baie geskryf oor die Apostel Johannes, baie daarvan slegs legendes. Die bekende kerkvader Hiëronimus het vir Johannes die simbool van die arend gegee. Hy het verduidelik dat Johannes soos ’n arend na die hoogste hemelse waarhede opstyg wanneer hy oor die ewige Woord van God skryf.
Maar wie is hierdie Johannes dan nou eintlik?
Johannes is gebore in Betsaida in Galilea in ongeveer die jaar 6nC. en hy sterf volgens oorlewering op die rype ouderdom van 94 in die jaar 100nC. in Efese. Jesus het in ongeveer die jaar 25, die eerste dissipels geroep dus was Johannes waarskynlik maar ‘n knaap van 19 toe hy sy dissipelskap aanvaar het. Hy was dan ook die jongste van al die dissipels.
Sy pa se naam was Sebedeus, maar daar is onsekerheid oor sy ma, waarskynlik was sy Salome. Hy het ‘n ouer broer gehad met die naam Jakobus. Hy was ook een van die twaalf apostels. Ons kan aflei dat hierdie twee broers gedurig aan die stry was, daarom het Jesus hulle die bynaam gegee van Boanerges, “Manne van die donder!”
Pa Sebedeus was ‘n visserman van beroep, soos sy pa voor hom waarskynlik was. Hy het weer sy kennis van visvang aan sy seuns oorgedra, en so het dit gekom dat Johannes en sy broer Jakobus ook vissermanne was. Hulle het saam met Pa Sebedeus gewerk toe Jesus hulle geroep het om Hom te volg.
Jesus het Johannes baie lief gehad ten spyte van sy opvlieënde humeur. Hy verwys na homself in Joh. 13:22 as “die dissipel vir wie Jesus baie lief was.” Ná Jesus se kruisiging en opstanding styg Johannes saam met Petrus uit as een van die steunpilare in die gemeente, ten spyte van sy jeugdige ouderdom. Dikwels sien ons waar hierdie twee saam is wanneer dinge gebeur. Dit begin wanneer die twee manne saam na die graf toe hardloop om te gaan kyk wat gebeur het, wanneer die berig kom dat Jesus se liggaam verdwyn het uit die graf.
Later jare het Johannes ook uitgestaan as ‘n uiters besielende skrywer. Hoeveel boeke hy werklik geskryf het, weet ons net eenvoudig nie. Daar is egter vyf boeke wat moontlik aan Johannes gekoppel word. Die eerste is die Evangelie volgens Johannes. Hy het nie maar op ‘n dag gaan sit en die boek begin skryf, en ‘n paar maande later gefinaliseer nie. Dit het oor ‘n baie lang tydperk ontstaan, en hy het waarskynlik klein gedeeltes geskryf, wat oor ‘n lang tydperk gegroei het. Uiteindelik is dit gefinaliseer en saamgestel iewers tussen die jare 90 en 100, toe Johannes al ‘n stokou man was. Ons weet nie of hy sélf die finale afrondingswerk aan die boek gedoen het, en of dit dalk een van sy leerlinge was nie.
Die eerste Johannes-brief is geskryf nadat die Johannes-evangelie gefinaliseer was, moontlik in die omgewing van 95nC. Daar het sekere wanopvattings in die gemeente ontstaan, en Johannes het hierdie brief geskryf om ‘n regstelling te maak oor sekere interpretasies wat die mense gehad het. Ons is nie baie seker of Johannes wél self hierdie brief geskryf het, en of dit dalk dieselfde persoon was wat verantwoordelik was vir die afronding van die Evangelie nie.
Ons is ook nie seker oor die 2 en 3 Johannes briewe nie. Dis waarskynlik eerder geskryf deur een van Johannes se leerlinge, en nie deur homself nie. Nogtans is sy invloed op die skryf van hierdie briewe baie groot.
Maar wat van Openbaring? Het Johannes hierdie boek ook geskryf? Ons is nie seker nie. Die outeur van Openbaring noem homself in Op. 1:4 Johannes. Maar is dit Johannes die Apostel? Daar is ook twee ander moontlikhede, Johannes die Evangelis en Johannes van Patmos. Baie Bybelkenners is van mening dat dit Johannes van Patmos was wat Openbaring geskryf het, en nie die Apostel Johannes nie. Volgens 19de-eeuse tradisie was dit egter die Apostel Johannes wat Openbaring geskryf het nadat hy na Patmos verban was. Vandag kan ons slegs raai! Openbaring word geskryf in ongeveer 95nC.
Maar wat maak dit in elkgeval saak? Vir die doel van hierdie boek, gaan ons aanneem dat dit wél die Apostel Johannes was wat Openbaring geskryf het.
Dit is tóg interessant om te weet dat van ál die Apostels, slegs Johannes ‘n natuurlike dood gesterf het. Judas Iskariot het homself gehang en al die ander is dood as gevolg van vervolging en selfs aaklige marteling.
Ek gaan my bes probeer om vir jou die lewe van ‘n uiters merkwaardige man te beskryf met die relatief min inligting wat oor Johannes beskikbaar is.
Gebed:
Here, dankie vir Johannes en die wonderlike rol wat hy gespeel het in soveel miljoene lewens. Dankie dat hy ook my lewe kon aanraak, nie alleen deur dit wat hy geskryf het nie, maar ook hoe hy sy lewe geleef het!