Efesiërs 6:1-4
As ons gedink het dat verhoudinge in die huwelik ‘n probleem is, dan moet ons weer ‘n slag dink, want hier spreek Paulus nou twee baie netelige verhoudingsprobleme aan: dié tussen ouers en kinders asook dié tussen slaaf en eienaar.
Vandag is die verhouding tussen ouers en kinders in menige huishouding ‘n baie teer sakie! Dit wil net lyk asof ouers géén beheer oor hulle kinders meer het nie. Kinders ruk totaal handuit en hulle is dikwels totaal onbeheerbaar, veral as hulle die tienerjare bereik. Dikwels is dit egter die kleintjies wat alrééds handuit ruk en hulle arme ouers grys maak voor hulle tyd!
Hier in Ballito sien ons die resultate baie duidelik elke jaar nadat die matrieks hulle finale eksamen geskryf het. Ons dorp word letterlik oorstroom deur die jongmense wat hierheen kom om die vakansie van ‘n leeftyd te kom hou. Vandalisme vier hoogty, dronkpartytjies, oorverdowende musiek en lawaai dwarsdeur die nag. Vakansiewoonstelle word bemors en beskadig en daar is dikwels ‘n bakleiery. As jy hulle ouers daarvan laat weet, dan is die antwoord soos klokslag: “My kind sal nóóit so ‘n ding doen nie!”
Ongelukkig eindig dit nie by die matrieks se wegbreekvakansie nie. Ná hulle volg die studente wat eweneens vir almal die lewe kom versuur!
Wat het van ons samelewing geword? Wat het verkeerd geloop? Wat het in ons kinders gevaar? Waar het ons opvoeding van ons kinders skeefgeloop?
Vir wat dit werd mag wees - een van die groot filosowe (ek dink dit was Plato) het geskryf dat “deesdae se kinders totaal onbeheerbaar geword het!” Hy het hierdie uitlating gemaak lank voor Christus se geboorte. Die probleem is al so oud soos die berge. Die “Generasie Gaping” word dit dikwels genoem.
Maar kom ons begin by die begin: In ‘n gelowige gesin het ouers en kinders ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar - ‘n gróót verantwoordelikheid! Kinders moet hulle ouers eer, selfs al is hulle veeleisend en onredelik. Maar ouers moet ook hulle kinders met liefde grootmaak, selfs al is hulle moeilik en onaangenaam. Hierdie twee dinge kan egter slegs gebeur as dit geskied uit eerbied vir Christus, soos ons in Efesiërs 5:21 gelees het.
Paulus begin praat met die kinders en hy gee hulle twee opdragte. Hulle moet aan hulle ouers gehoorsaam wees en hulle eer. Hierdie is twee totaal verskillende dinge. Tot die dag wanneer ‘n kind nie meer onder sy ouers se gesag staan nie, moet hy aan hulle gehoorsaam wees. Eerbied vir jou ouers moet egter lewenslank duur. Dit is so tragies dat sommige ouers weggesmyt word wanneer hulle oud word. Hulle word êrens in ‘n tehuis vir bejaardes geplaas en van vergeet! As kind het jy ‘n verantwoordelikheid teenoor jou ouers wanneer hulle die dag oud is. Hulle moet dan stééds eer ontvang! Dit kan daartoe bydra dat hulle ouderdom ‘n seën word en nie ‘n las nie.
Ouers het egter óók ‘n baie groot verantwoordelikheid, om hulle kinders met liefde op te voed. Tug is ‘n baie belangrike hulpmiddel om kinders op te voed. Ons moet egter baie mooi verstaan wat tug eintlik beteken, dat dit nie straf is nie, maar eerder ‘n liefdesaksie om ‘n kind die regte weg te leer. Om te skree en tekere te gaan, werk net eenvoudig nie! Om kwaad te word, nog minder. Lyfstraf is ‘n baie teer kwessie, waaroor ek my nie wil uitlaat nie. Dit is egter belangrik om só op te tree dat jy nie jou kinders opstandig maak nie. Jou optrede moet jou kind leer wat God se liefde en dissipline is. Dit moet beslis nie wys dat jy ‘n ongenaakbare of wispelturige tiran is nie!
Persoonlik dink ek egter dat die probleem veel dieper lê as die feit dat kinders nie gedissiplineer word nie. Die feit is dat kinders dikwels nie in die huis geleer word van al die Bybelse waarhede nie. Kinders wat grootgemaak word met Bybelkennis en geleer word wat dit beteken, raak selde rebels en onbeheerbaar groot.
Ongelukkig is ouers dikwels te besig om hulle kinders van Jesus te leer. Dikwels kan hulle nie, want hulle het sélf nie die basiese kennis om dit te doen nie! Die enigste oplossing is dus om die kinders na die kerk te neem sodat hulle dáár geleer kan word van die Here en die Bybel. Ons mag dit egter nie alleen in die hande van die kerk laat nie, want wat ‘n kind tuis leer is van onskatbare waarde. As jy nie die kennis het nie, is daar talle puik boeke wat jy kan gebruik om jou kinders van God te leer.
Die ander saak wat natuurlik ook van uiterste belang is, is die voorbeeld wat ouers stel. Ek sien dikwels ouers by die kerk aankom om slegs hulle kinders te kom aflaai vir Sondagskool en dan weer terug te gaan huistoe, sonder om sélf by ‘n erediens uit te kom. Watter soort voorbeeld is dit? En dan sien ek ook dikwels ouers wat skielik gereeld eredienste bywoon terwyl hulle kind in die finale jaar katkisasieklas is, net om ná die kind se belydenisaflegging nóóit weer in die kerk te kom nie!
Dan wonder ons nog wat skeefgeloop het met ons kinders! Hierdie is egter slegs die seekoei se oortjies! Ons kan ure gesels oor hierdie sensitiewe onderwerp!
Gebed:
Here, ons opleiding van ons kinders skiet so ver tekort. Help ons asseblief om dit reg te stel.