1 Samuel 23:1-15
Dawid het een groot prioriteit in die lewe en dit is om te sorg dat hy uit die moordlustige hande van Saul bly. Intussen het hy in die Bos van Geret in Juda gaan wegkruip. Saam met hom is daar 600 manne met hulle vrouens en kinders wat saam met hom skuil, want iewers is elkeen van hulle in die moeilikheid op die een of ander manier. Saam is hulle veilig onder Dawid se bekwame leiding.
Op ‘n dag kom daar ‘n berig aan by Dawid van ‘n groot krisis in Keïla Die Filistyne is besig om die stad te plunder! Keïla is ongeveer 15 km noordwes van Hebron, slegs ‘n hanetreetjie van waar Dawid wegkruip. Sy eerste instink is om te gaan help, maar Dawid is ‘n vlugteling in sy eie land en oorlog teen die Filistyne is baie beslis nie op sy agenda nie. Keïla se veiligheid bly egter vir Dawid pla. Hulle kan dan so maklik gaan en die stad bevry. Dan bid Dawid: “Here, wat moet ek doen? Moet ek maar net sit en toekyk hoedat die Filistyne my volksgenote plunder?”
En dan kom die antwoord van die Here helder en duidelik na Dawid: “Dawid, gaan, val die Filistyne aan en bevry Keïla!”
Nou is daar by Dawid géén twyfel oor wat hom te doen staan nie. Hy roep die manne bymekaar: “Ons het ‘n krisis! Keïla is in die moeilikheid en ons moet gaan help!”
Maar die manne is nie gelukkig nie - “Ons is dan juis hier om weg te kom van al die gevaar af. Ons moet nou ‘n slag aan ons eie veiligheid dink! Ons kan mos nou nie in die leeu se bek gaan staan en inloop nie - hierdie Filistyne gaan ons vermorsel!”
Nou verkeer Dawid in ‘n tweestryd: “Here, wat moet ek doen? Die manne wil nie saamwerk nie - moet ek dit laat vaar? Wat moet ek doen Here?”
En weereens kom die antwoord van die Here helder en duidelik: “Dawid, maak gereed, gaan af na Keïla, want Ek gaan die Filistyne in jou hand gee.”
Nou is Dawid dóódseker van sy saak! Hy verduidelik vir sy manne dat die Here aan hulle kant is en dat Hy die geveg aan hulle sou gee. “Ons trek dadelik op!” is sy finale antwoord en die manne gaan haal hulle wapens.
Dawid kyk die klomp wat hier voor hom aantree deur. Dis nie ‘n georganiseerde weermag nie maar ‘n klomp uitgewekenes - mense wat gevlug het vir vervolging. “Moet ek met hierdie klomp die Filistynse oorlogsmasjien aanpak?” gaan dit deur sy gemoed. Maar Dawid het al geleer dat wanneer die Here ‘n opdrag gee, dan neem Hý oor!
Wanneer Dawid met hierdie bont klomp by Keïla opdaag, kyk die Filistyne minagtend na die lamlendige weermag. Dan breek die geveg los en ‘n bloedige veldslag volg. Dawid en sy manne tree as oorwinnaars uit die stryd en hulle word ’n instrument in die hand van die Here! Boonop keer hulle terug met ‘n groot buit - al die pak- en trekdiere wat die Filistyne gebruik het om die goedere wat hulle geplunder het mee te vervoer, word afgeneem. Vir Dawid-hulle is hierdie diere baie werd. Dit sou ook net ‘n logiese stap wees om hulle hier in Keïla te vestig. Maar nie vir Dawid nie, want wanneer die priester Abjatar hom by Dawid en sy geselskap kom aansluit, verneem Dawid dat Saul op pad is om die stad te beleër. Daar sou hulle soos rotte vasgekeer word!
Weereens word die Here geraadpleeg want Dawid wil niks doen sonder om met die Here daaroor te praat nie. Daar is nou ‘n priester, en Abjatar raadpleeg die Here namens Dawid. “Saul sal die stad verwoes en die inwoners sal jou uitlewer as jy hier aanbly!” is die Here se antwoord. Nou moet hulle vlug. Vir Dawid is die Sifwoestyn met sy wye ruimtes en bergvestings hulle voorland. Hier sal hulle veilig wees teen Saul se obsessie om hom dood te maak.
Raadpleeg ons nog ooit die Here voordat ons dinge doen of besluite neem? Vir Dawid was daar nie ‘n ander weg nie - die Here is die Een wat die beste weet. Sonder Hom doen Dawid niks, en wanneer die Here raad gegee het, het Dawid dit gevolg want die Here is immers soveel groter en wyser as enige mens.
Maar wat van ons vandag? Hoe neem ons besluite? Ons eerste reaksie is om die een of ander kundige raadgewer te gaan sien en dan neem ons besluite op grond van sy kundigheid. Of ons neem besluite gebaseer op ons logika of ons slim redenasies. En só dikwels loop dit uit op ‘n ramp! Nee, dis nie verkeerd om op grond van kundiges se aanbevelings besluite te neem nie. Daar is egter iets baie, baie belangrik wat hiermee moet saamgaan en dit is om te vra na die wil van die Here! Die Here wil júís hê dat ons in volle afhanklikheid van Hom ons besluite sal neem. Soms druis die antwoord wat die Here gee in teen alle logika, maar dan vra Hy dat ons Hom steeds vertrou! Kom ons maak vandag ‘n punt daarvan om die Here te ken in elke saak, groot en klein en om Sy antwoord onvoorwaardelik te vertrou!
Gebed:
Here, ek wil vandag U leiding volg. Wys my asseblief die regte pad - wys my asseblief duidelik watter besluite ek moet neem!