Puinhope van Jerusalem

27 August, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Puinhope van Jerusalem

Daniël 9:1-3

VIDEO | LUISTER

Daar is ‘n nou verband tussen hoofstuk 8 en 9 van Daniël. In beide boeke tree die engel Gabriël op. Maar hierdie was nie die laaste boodskap wat Gabriël moes aflewer nie: ‘n paar honderd jaar later het dieselfde engel by Maria gestaan en die geboorte van die Saligmaker, Jesus Christus aangekondig. Hierdie engel moes aan Daniël kom openbaar dat die Ou Testamentiese geskiedenis nie sou uitloop op ‘n permanente katestrofe nie. Selfs die verskriklike Antiochus sou beslis nie die einde van alles wees nie. In hoofstuk 9 ontvang Daniël die openbaring van ‘n heerlike verlossing wat die lyne trek na die koms van Jesus. Met Jesus se koms begin ‘n totaal nuwe tyd. Die troos wat hoofstuk 9 ons vandag bied, is dat absoluut niks die koms van God se Ryk kan stuit nie. Selfs in ‘n pikswart, bloedstollende duisternis van onheil en die gruwelikste gebeurtenisse, bly die Here naby Sy volk.

Daniël begin die hoofstuk met ‘n datering: “die eerste regeringsjaar van Darius, seun van Ahasveros”. Dit is dieselfde Darius waarvan ons lees in hoofstuk 6. Ahasveros is egter nie dieselfde koning waarvan ons lees in Ester nie.

Daniël het grys geword in ballingskap onder die magtiges van die aarde. Hy het Babel beleef in al sy glorie sowel as gruwel, en hy het verskrikking, korrupsie en bedrog op die hoogste vlakke beleef. Kort-kort was daar nuwe heersers, maar elke nuwe besem het tegelyk geblink, gestink en dan gesink! Vandag moet tonne woestynsand weggegrawe word om so ‘n ietsie van die stad se eertydse glorie bloot te lê.

Volgens ChatGPT het Sadam Hussein in 1985 begin om die stad Babilon te herbou - bo-op die ruïnes van die ou antieke stad. Ons moet onthou dat daar reeds vir jare argeologiese uitgrawings gedoen is in hierdie stad, en toe kom hierdie arrogante despoot en maak al die navorsing tot niet. Hy het egter verder gegaan en sy eie naam laat graveer op baie van die ou antieke stene, tot groot konsternasie van die argeoloë. Een van die inskripsies het gelees: “Gebou deur Saddam Hussein, seun van Nebukadnesar”. Hy het ook ‘n reuse portret van homself en Nebukadnesar laat oprig by die ingang van die bouvalle. Jy kan hier meer hieroor lees: Saddam Hussein

Daniël het een ding baie goed besef: As jy na die geskiedenis wil kyk, dan doen jy dit in die lig van die Skrif. Calvyn het jare later gesê dat die Bybel die bril moet wees waardeur ons na alles kyk. Hoe waar! As ons vandag in die lig van wat in Openbaring opgeteken is na die wêreld rondom ons kyk, dan gaan daar vir ons ‘n groot lig op. Hoofstuk 9 van Daniël wys ons dan ook dat die belangrikste nie is om die kerk voor te berei vir die gruwels van die Antichris nie, maar ons moet eerder die heerlikheid van die finale oorwinning van die Godsryk raaksien. Eerder as om met ‘n beklemming om die hart te wag vir die bose aanslag, moet die wonderlike vooruitsig ons vul met ‘n jubelende vreugde. Kom ons lees dus die koerante en kyk na die nuusgebeure deur ‘n Bybelse bril.

Daniël het die profetiese boek, Jeremia oopgerol en gelees, en daarin sien hy dat die Here ‘n tyd bepaal het vir die “puinhope van Jerusalem” - sewentig jaar. Nadat hulle vir sewentig jaar onder Babel se mag gesug het, sou die Jode weer terugkeer na Jerusalem. Getalle het natuurlik ‘n geweldige belanrike rol gespeel in die lewe van ‘n Jood, en in hierdie geval was dit nie alleen die einde van ‘n tydperk vir Daniël nie, maar dit het ook ‘n simboliese betekenis gehad. 3 Is die getal van God, 4 die getal van die wêreld en 7 die getal van Immanuel (3+4=7 - God + wêreld = God met ons – Immamuel).

Die getal van die Immanuel is die getal van verlossing, en hier word dit ‘n volheidsgetal omdat dit met 10 vermenigvuldig is (7x10=70). Wat dit dan in werklikheid vir Daniël sê, is dat die volheid van slawediens onder Babel aangebreek het, en dat die lig van verlossing in die stikdonker nag van Babel se tirannie helder daar voor skyn.

Wat doen Daniël as hy tot hierdie besef kom? Hy gaan nie maar rustig agteroor sit om die “sirkus” te sien verby kom nie - hy verootmoedig hom voor God, en dan gaan hy oor in gebed. Hy trek rouklere aan, vas en gooi as op sy kop. (Rouklere in daardie tyd was ‘n gebreide bokvel met hare, wat net so oor die kaal liggaam aangetrek is. Dit herinner jou daaraan dat nie eers gerieflike klere ‘n mens se reg of voorreg is nie, en dat alles bloot genade is.) Dan stuur hierdie gryse ou Godsman ‘n hartroerende skuldbelydenis op as hy tot God bid. Maar daarvan lees ons DV. môre.

Besef ek en jy vandag ooit nog watter asemrowende groot genade God aan ons bewys het? Besef ons ooit hoe bevoorreg ons is om vryelik te kan aanbid? Moontlik moet ons ook ‘n slaggie “rouklere” aantrek om te besef dat ons absoluut niks van hierdie genade verdien het nie, maar dat dit alles slegs God se onmeetbare liefde is wat ons gebring het waar ons is.

Gebed:

Dankie Here vir U wonderlike genade oor my. Leer my asseblief om dit waarlik te waardeer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026