Lukas 22:47-53
Dis donker - pikdonker in die Laeveld se doringbosse. Die maan is nog nie op nie, en dit voel asof die sekelbosse met hulle aaklige dorings jou wil omklem. Ek gooi nog ‘n stukkie hout op die vuurtjie. Dis maar net ‘n ou vae trosie! Kort-kort kyk ek om, net om dóódseker te maak dat ons nie dalk van agter bekruip word deur die een of ander vleisvreter nie! ‘n Takkie kraak. “Wat was dit?” sê-vra Mosbolletjie met ‘n bewing in haar stemmetjie. Die flitslig sny tyssen die dorings en ruigtes deur op soek na ’n antwoord, maar daar is niks. Dis doodstil! Nie eers ‘n naguiltjie of kriek of padda nie. Niks! Onheilspellend!
Skielik word ek bewus van ‘n beweging - ‘n skim in die buitekring van die flou lig van die vuurtjie. Ek val amper van my stoel af van skrik! ‘n Duikertjie! Groot onskuldige bruin oë kyk my vraend aan. Kom maar net soek vir ietsie te ete.
Die donker kan skrikwekkend wees. Dalk is dit omdat die bose dikwels daarin skuil. Hy gebruik die duisternis as dekmantel vir sy sluwe, verraderlike planne!
Ja, dit was juis in die pikswart duisternis van Getsemane, daar teen die hellings van die Olyfberg, waar die bose sy verraderlike daad kom pleeg het. Terwyl Jesus besig was om te worstel in gebed, het Judas na die Joodse leiers gesluip. “Kom,” het hy vir hulle gesê, “dis nou veilig om Hom te vang!” In die pikdonker van die nag het hy hulle gelei tussen die olyfbome deur na waar hy geweet het Jesus sou wees. Hy het immers sélf baie nagte daar saam met Jesus deurgebring - aan Jesus se voete gesit terwyl Hy hom en sy mede-dissipels geleer het van die dinge van die Koninkryk. Daardie tydjies in die tuin, sonder die alewige skares mense was kosbaar. Maar alles het versuur, en nou is daar net verraad in Judas se donker hart.
Jesus het pas klaar gebid, en Hy was nog besig om Sy dissipels te vermaan omdat hulle nie kon wakkerbly nie, toe die klomp mense skielik uit die pikdonker opdoem, met niemand anders nie as Judas aan die voorpunt. Hulle is tot die tande toe gewapen met enigiets wat kon slaan of sny. Gevul met afgryse moet ons sien hoedat Judas vorentoe tree en vir Jesus soen - die soen van verraad. ‘n Duiwelse soen!
Skielik kry die half-aan die slaap dissipels lewe en pluk hulle swaarde uit om Jesus te verdedig. Die voorbok, Petrus begin wild rondkap met sy vlymskerp wapen en ‘n onskuldige slaaf, wat waarskynlik net daar was om ‘n lamp te dra, byt in die stof. Petrus se swaard tref hom teen die kop, en met afgryse moet die arme man sien dat sy oor morsaf is. Hy wil nog kerm, maar dan raak Jesus die man se oor in deernis aan, en hierdie slaaf word die laaste mens wat Jesus ooit genees tydens Sy drie jaar lange bediening.
“Hou op daarmee!” Jesus bestraf Sy dissipels. Geweld is beslis nie die antwoord op hulle probleme nie.
“Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel,” sê Jesus vir die priesterhoofde wat Hom kom gevange neem, “en julle het nie ‘n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans!”
Die duisternis waarin hierdie manne teen Jesus opgetrek het, was simbool van die verstikkende geestelike duisternis waarin hierdie geestelike leiers verkeer het. In die lig van die dag kon hulle Hom nie vang nie, want Jesus was altyd omring deur mense vir wie die lig opgegaan het, mense wat vir Jesus gesien het vir Wie Hy werklik was. Hulle sou teenstand kry as hulle Jesus sou arresteer. Daarom moes hulle die donker gebruik as dekmantel sodat niemand hulle sou sien nie.
Johannes se Evangelie maak iets groot van hierdie teenstelling tussen lig en duister. In Joh. 8:12 skryf hy byvoorbeeld van een van Jesus se uitsprake waarin Hy sê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisernis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Hoe ironies is dit nie, dat Jesus, die Groot Lig, juis in die duisternis verraai is, en onder dekking van die duisternis deur dienaars van die duistere magte gevange geneem word. Hoe verskriklik donker moes die harte nie gewees het nie, van daardie manne wat voorgegee het dat hulle mense is van die lig, priesters van God, leiers uit die priesterkring. Hoe verskriklik donker moes dit nie in Judas se hart gewees het nie - hy wat ‘n leerling was, ‘n vriend van Jesus, iemand wat drie jaar saam met Jesus geleef het en elkeen van Jesus se duisende wonderwerke aanskou het! Ons kan maar net gis oor wat presies daar verkeerd geloop het.
In hierdie neerdrukkende verhaal is daar ‘n baie ernstige waarskuwing aan elke gelowige: Pasop dat jy nie ook in die duister beland nie! Al die betrokkenes in die verhaal was mense wat aktief gestaan het in die godsdiens. Judas was selfs ‘n getroue volgeling van Jesus. Deur sonde het hulle in die duister beland. Moenie dieselfde pad loop nie!
Gebed:
Here, bewaar my asseblief van die duister - dat ek nie sélf ook daarin beland nie.