Petrus se Val

19 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Petrus se Val

Matteus 26:69-75

Jesus is na die Hoëpriester se huis geneem om verhoor te word. Petrus is die enigste “brawe” dissipel wat dit naby die verhoor waag, nadat hy die soldate op ‘n veilige afstand gevolg het. Intussen gaan die verhoor voort deur die middernagtelike ure, ‘n uitmergelende verhoor.

Nou verskuif die toneel egter weer na Petrus, wat waarskynlik die hele tyd die verhoor probeer volg het. Alhoewel hy die enigste van die dissipels is wat die moed gehad het om naby Jesus te bly, is alles egter nie pluis nie. Daar het ‘n diep kloof ontstaan tussen hom en sy Here, ‘n kloof wat hy sélf deur sy angs en onsekerheid gegrawe het. Hierdie was die een stukkie van sy geskiedenis wat hy later so bitter graag oorgeskryf sou wou hê. Dit was seker die donkerste oomblikke in sy lewe!

In die binnehof sit Petrus met ‘n bitter kol op sy maag. Hy spits sy ore om te probeer hoor wat daar binne aangaan. Hy voel bitter skaam oor sy optrede vroeër die aand, en ook dié van sy maats. Nadat almal van hulle onomwonde verklaar het dat hulle Jesus deur dik en dun sou bystaan, spat hulle uitmekaar en hardloop die nag in toe hulle al die soldate sien. Hoe kón hulle dan so lafhartig wees? Nou probeer Petrus darem ‘n bietjie opmaak daarvoor deur die verhoor “by te woon.”

Dis ysig koud en Petrus trek sy bokleed oor sy kop om die koue so ‘n bietjie te probeer uithou. ‘n Diensmeisie kom uitgeloop. Skielik steek sy vas om ‘n tweede keer na Petrus te kyk. Hy voel haar oë op hom brand. Hy trek selfbewus die doek nog laer oor sy gesig. Hulle moet hom tog net nie hier staan en herken nie!

Jy was ook saam met Jesus, die Galileër!” konfronteer sy hom. Skielik sak daar ‘n stilte toe en al die koppe draai na die geboë figuur wat onder die doek wegkruip.

Petrus gee ‘n senuweeagtige laggie: “Nee juffrou, jy maak seker ‘n fout. Ek weet nie waarvan jy praat nie!” Hy voel hoe sy hart woes in sy keel klop en hy raak doodsbleek. Die meisie skud haar kop en stap weg. Bewend staan Petrus op en loop na die uitgang van die binnehof. Dit was so amper-amper. Ten spyte van die koue, pêrel die sweet op sy voorkop.

Skielik praat ‘n ander diensmeisie hier reg langs hom: “Haai julle! Hierdie man was saam met daardie Jesus van Nasaret! Ek herken hom!”

Petrus vererg hom bloediglik vir die snip: “Ek ken die man nie! Hoor jy my? Ek ken Hom nie!”

Uiteindelik oorval die koue vir Petrus en hy gaan staan by die vuur om ‘n bietjie warmte in sy liggaam te kry. In die gloed van die vuur, kyk een van die manne hom stip aan: “Ja dis waar! Jy is beslis een van daardie Man se volgelinge! Jou spraak gee jou ook weg want mens herken ‘n Galileër op ‘n afstand!”

Kan julle dit nie in julle koppe kry nie? Ek ken Hom nie eers nie! Ek sweer dit! Los my nou uit!” Daarmee vloek Petrus kras om sy misnoeë te kenne te gee.

Hoe ver kan ‘n mens nie val nie! Petrus ontvang die hoogste eer waarvan enige dissipel kon droom, om die ware identiteit van Jesus namens die kerk te bely. En dan val daardie selfde Petrus in die diepste, donkerste put van verloëning. Enkele ure tevore het Petrus nog baie selfversekerd gesê: “Miskien hulle, maar nie EK nie……”. Petrus moes op ‘n baie harde manier leer van ‘n mens se absolute afhanklikheid van God. As jy op jouself vertrou kan jy dalk baie ver en baie hard val.

As jy egter waarlik vir Jesus liefhet, val jy nie uit Sy genade uit nie. Daar is die moontlikheid van herstel. Petrus en die ander dissipels het dit agtergekom toe hulle later Jesus se opdrag ontvang het (Mat. 28:16-20) en dit waarlik uitgeleef het.

Die kontras wat ons in die verhaal sien is verstommend: terwyl Petrus besig is om Jesus te verloën, en openlik Jesus se Naam te vermy, is Jesus besig om namens Petrus asook álle Christene die belydenis af te lê voor die amptelike Jodendom, dat Hy die Messias, die Seun van die lewende God is.

Ons eie belydenis is nie onbelangrik nie, maar ten diepste gaan dit oor Jesus se belydenis namens ons. Wat ook baie belangrik is, is Petrus se bitter berou nadat hy so liederlik geval het. Dit was ‘n ware berou en dit het uiteindelik daartoe gelei dat hy daadwerklik daaraan gewerk het om die situasie reg te stel. Later sien ons hom voor dieselfde Joodse Raad getuig van Jesus. Hierdie keer skroom hy nie vir ‘n oomblik om te erken dat hy vir Jesus intiem ken nie. Judas het ook berou gehad, maar hy het dit totaal anders hanteer, maar daaroor praat ons in die volgende dagstukkie.

Maar waar los dit my en jou? Ja, dalk is daar ook groot sondes in ons verlede. Dalk waar ons óók vir Jesus liederlik verloën het. Mense vra my dikwels of die Here ooit sulke groot sondes sou vergewe? En die antwoord is ‘n onomwonde: “JA!” Lees gerus maar weer Jesaja 1:18, waar die Here beklemtoon dat Hy die ergste sonde skoon sal was. As Hy vir Petrus kon vergewe, en hom boonop op sy voete help sodat hy ‘n kragtige getuie kon word, is dit baie beslis ook moontlik vir jou en my! Hy het die VOLLE prys betaal op Golgota.

Gebed:

Here, soos Petrus val ek so dikwels, veral as ek dinge in my eie krag wil doen. Help my asseblief dat ek al my vertroue op U alleen stel, en as ek die dag val, dat ek U hand sal neem om my op te help.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026