Lukas 9:18-22
Wie is Jesus? Lukas laat hierdie vraag weergalm oor die berge en heuwels en valleie van die woestyn. Eers was dit Johannes die Doper wat half huiwerig die vraag gevra het voordat hy deur Herodus onthoof is. Toe kom Herodus self met hierdie tergende vraag. En nou kom gooi Jesus die vraag voor Sy dissipels se voete: “Wie is EK?”
Soos ons al by ‘n paar geleenthede gesien het, was Jesus eenkant alleen besig om te bid, iets wat Hy gereeld gedoen het, en wat net weereens die geweldige belangrikheid van gebed vir ons beklemtoon. As Jesus dit nodig gevind het om in gebed te verkeer, hoeveel te meer is dit nie vir jou en my bitter nodig om te bid nie? Dit is ons geestelike asemhaling. Sonder asem kan ons nie leef nie, en sonder gebed gaan ons geestelik dood.
Wanneer Jesus se dissipels om Hom saamdrom, vang Hy hulle totaal onkant met Sy vraag. Maar Hy stel dit op ‘n baie slim manier, om hulle goed aan die dink te sit. Hy vra eers met ‘n ompad, wat die mense oor Hom dink: “Wie sê die mense is Ek?” Die antwoord wat Jesus kry is presies dieselfde antwoord as wat Herodus gekry het: dat Hy die een of ander profeet is of selfs die reïnkarnasie van iemand soos Elia. Maar dan raak dit ongemaklik as Hy die vraag omswaai en direk vir húlle vra wat hulle dink. Daar hang ‘n ongemaklike stilte, voordat Petrus dit waag: “Die Gesalfde van God.”
Maar kon hulle dan nog steeds nie duidelik sien dat Jesus die Messias is nie? Na al die wonderwerke wat Jesus gedoen het, en al die dinge wat Hy gesê het, moes hulle tog sékerlik besef het dat Jesus wél die Messias is! Hoe is dit moontlik dat hulle dit nie kon raaksien nie? Was Petrus dan die enigste wat hierdie insig gehad het? En steeds het hy dit baie huiwerig gesê!
Petrus het hierdie belydenis net in ‘n oomblik van helderheid gedoen, want later sien ons hoedat hy telkemale maar weer in twyfel verval.
Stel jouself in die sandale van daardie mense. Verbeel jou vir ‘n oomblik jy is in daardie tyd. Een mooi dag begin 'n wonderlike Profeet optree, en Hy doen die mees asemrowende wonderwerke - maak dit Hom dan outomaties die Messias wat sou kom? Die probleem is dat Hy gladnie Goddelik lyk nie! Hy is ‘n doodgewone mens net soos die res van ons, Iemand wat ook maar honger word, seerkry en smart beleef, moeg word en nodig het om te bid. En dan is daar boonop die dinge wat Hy doen wat die kerkleiers so bitterlik ontstel! Hy kan tog nie die Een wees nie? Boonop het die profete voorspel dat die Messias die volk sou verlos, en kyk net hoe word ons nog steeds maar deur die Romeine onderdruk! Dit lyk nie of hierdie Profeet énigsins van plan is om ‘n verlossingsdaad uit te voer nie. Hy wil selfs vir ons probeer vertel dat ons hierdie einste Romeine wat ons soveel sonde besorg, moet liefhê! Nee wat! Ons stem almal saam dat Hy ‘n baie oulike Profeet is, Iemand baie besonders, maar die Messias? Nee, nie sommer nie!
Dankie tóg! Vandag weet ons baie anders! Vandag kan ons met sékerheid sê dat ons wéét dat Jesus waarlik die Messias is, die Verlosser, en dat Sy verlossingswerk iets totaal anders behels het as wat die Jode verwag het.
Die vraag is egter: Hoe beleef ek en jy vir Jesus? Is dit maar net ‘n wete en geloof dat Hy die Verlosser is, of het ek ‘n lewende verhouding met Hom? Dink maar gerus baie ernstig oor hierdie vraag.
Na Petrus se belydenis, belet Jesus uitdruklik Sy dissipels om vir die mense te vertel dat Hy eintlik die Gesalfde van God, die Messias is. Hy verduidelik dat dit eers nodig is dat Hy moet lyding verduur en uiteindelik doodgemaak word, en eers dán kan dit aan die hele wêreld uitgebasuin word. Dit maak nie heeltemal vir ons sin nie. Sou dit nie dalk goed wees as daar alreeds ‘n reuse skare was wat Hom aanvaar het as die Messias nie? Dink net hoeveel dit vir die verspreiding van die Evangelie sou beteken!
Die antwoord is ‘n besliste “Nee!” God se plan met Jesus was nie om ‘n klomp gelowiges bymekaar te maak nie. Sy plan was om die ganse wêreld die kans op verlossing te bied. Dit kon alleen geskied as Iemand sou betaal, die sondeskuld van die wêreld op Hom sou neem sodat ál die skuld betaal is. Die mense sou dan met vrymoedigheid na God kon gaan in die wete dat hulle sonde vergewe is. Jesus was die enigste Een wat so ‘n taak sou kon uitvoer, want Hy was waarlik sonder enige sonde, sodat daar nie gesê kon word dat Hy maar net gestraf is oor Sy eie sonde nie. Nee, Hy sou die straf van ander mense alleen dra. Die blote feit dat soveel mense die dinge gesien het wat Hy gedoen het, en Hom ten spyte daarvan uiteindelik tóg verwerp het, het net Sy lyding soveel groter gemaak.
Dankie tóg! Daar was ook ‘n ander sy van die saak: dat Jesus op die derde dag opgestaan het uit die dood en vandag heers as Koning. Kom ons eer en aanbid Hom daarvoor.
Gebed:
Here Jesus, ons bring aan U al die eer en dank vir U verlossingswerk.