Handelinge 11:1-18
Koerantplakkate in Jerusalem skreeu dit uit in groot, vet letters: “GROOT PREDIKER VERLOëN SY TRADISIES!” Die Jerusalem Times is sommer vroegdag al uitverkoop want op die voorblad pryk die woorde: “APOSTEL SMYT SY ERFENIS WEG!” Die ontstoke verslaggewer vra sarkasties: “Kan heidene ooit Christene word?” In ‘n berugte skinderkoerant is daar 'n soetsappige berig oor daardie sogenaamde "wonderwerker" wat nou so laag gedaal het dat hy hom met die semels gemeng het! Nou wag almal net dat die varke hom moet opvreet!
Nee, natúúrlik was daar nie koerante in Jerusalem daardie jare nie, maar as daar was sou dit seker die opskrifte gewees het. Die feit is egter dat Petrus in die sop was! Vir die ander apostels was dit ‘n groot verleentheid en ontnugtering dat hulle groot leier dit durf waag het om die Evangelie in die huis van ‘n heiden, ‘n onbesnedene te gaan verkondig! Soos húlle dit verstaan het, was God se genade immers eksklusief slegs vir Israel bedoel. Dit was nog al die eeue so, van oorl’e Oupa Abraham se tyd af! Altans, so het die gelowiges in Judea op daardie tydstip geglo. “Petrus moet onder stok gekry word!” het hulle geredeneer. Hy was besig om die gelowiges ‘n slegte naam te gee en om die eeue-oue Joodse tradisies weg te smyt!
En so beland Petrus weereens op die rooi tapyt, hierdie slag egter nie voor die Joodse Raad nie maar voor sy eie mense. Voor hom sit die ander apostels asook ‘n klompie ander beswaarde gemeentelede met stroewe gesigte. “Petrus, jy het saam met mense gebly wat onbesnede is. Nog erger: jy het saam met hulle geëet. Het dit nooit by jou opgekom dat hulle dalk vir jou kos sou voorsit wat nie volgens die streng Joodse voorskrifte voorberei is nie? Jy was in kontak met onrein heidene! Dit het jou eie reinheid aangetas! Wat het jou besiel, broer?”
Ons moet onthou dat hierdie gelowiges steeds Jode was. Hulle het steeds geglo dat hulle al die wette van Moses moes nakom en streng volgens die Joodse tradisies moes leef. Dit ten spyte van die feit dat hulle as vrygemaaktes die nuwe lewe in Christus gesmaak het. Om nou skielik vir hulle te sê dat hulle met dit alles moes breek, sou fataal wees.
Petrus moes dus baie mooi verduidelik waarom hy gedoen het wat hy gedoen het. Hy vertel van die angswekkende visioen van die mengelmoes van diere wat vir hom voorgesit is en hoedat God vir hom verduidelik het dat hy niks onrein durf verklaar wat God rein geskep het nie. Toe vertel hy van die drie manne en hoe God sélf vir hom gesê het dat hy saam met die manne moes gaan en by Cornelius moes gaan bly. Die manne skud hulle koppe in verwondering as Petrus vertel van die koms van die Heilige Gees na Cornelius en sy gaste. Hulle het daar feitlik dieselfde belewenis gehad as wat die klompie Joodse gelowiges op Pinksterdag beleef het. Nou het hierdie nuwe “heidense” gelowiges presies dieselfde gawes ontvang as die Joodse gelowiges.
Hierdie was die aanbreek van die tweede fase van die vroeë kerk. Fase een het gebeur op Pinksterdag, toe die Joodse gelowiges toegerus is met hemelse krag. Die tweede breek aan wanneer die Heilige Gees die grens tussen Jood en nie-Jood vir eens en altyd oorbrug met Sy koms by Cornelius se huis.
Petrus verduidelik dat Johannes die Doper per geleentheid gesê het dat hyself met water doop, maar dat die Een wat ná hom kom mense met die Heilige Gees sou doop. Jesus het Johannes se woorde bevestig kort voor Pinksterdag. Inderdaad het dit waar geword en nou het dit ook vir heidene waar geword. Wie is hy, Petrus, om in God se pad te staan wanneer die hemelse gawes uitgedeel word? Natúúrlik kon hy dit nie weier nie. Petrus maak dit baie duidelik dat God sélf ingegryp het op bonatuurlike wyse, nie alleen in sy eie lewe nie maar ook in dié van Cornelius en die ander heidene saam met hom. Daarom kon mense van nou af presies weet wat God se plan is met die verlossing van alle mense wat hier op aarde is.
In die hemel het die engele sekerlik asem opgehou oor die uitslag van hierdie “verhoor.” Toe die gemeentelede aandui dat hulle tevrede is met Petrus se verduideliking, was daar in die hemelsale ‘n reuse sug van verligting geslaak! Groot opgewondenheid het geheers in die gemeente want God se genade het nou ook uitgekring na die heidene. ‘n Spontane lofprysing het getuig dat hulle kritiek verander het in lof en blydskap!
Wanneer mense die werk van God raaksien, verander hulle kritiek in lofprysing. Maar helaas, so dikwels sien ons net eenvoudig nie God se werk raak nie! Herken én erken ons nie die dade van God in sekere omstandighede nie! Dan gaan staan ons vierkantig in die pad van die Evangelie, soos wat so amper-amper in die Jerusalemgemeente gebeur het. Dit is dus van uiterste belang dat ons gedurig in gebed sal verkeer sodat God ons die onderskeidingsvermoë sal gee om Sy werke duidelik raak te sien. Ons moet bid dat God die skille van ons oë sal afhaal sodat ons kan weet wanneer God aan die werk is en dat ons nooit in Sy pad sal staan om só die verspreiding van die Evangelie te verhinder nie!
Gebed:
Here, ek bid vanoggend vir wysheid sodat ek U werke sal raaksien. Maak asseblief my ore oop vir die influistering van die Heilige Gees en maak my gehoorsaam wanneer ek U stem hoor!