Handelinge 10:1-23
Die gróót prediker, só het Petrus bekendgestaan! Binne ‘n kwessie van 'n relatief baie kort tydperk het daar ‘n reuse transformasie in sy lewe gekom wat hom verander het van rowwe visserman tot geliefde leraar. Ons het Petrus leer ken as die ongekunstelde visserman wat deur Jesus geroep was om Hom te volg sodat hy ‘n “visser van mense” kon word. Ons het telkemale gesien hoe verskriklik impulsief Petrus kon wees. Hy het in die onstuimige see gespring en op die water probeer loop soos Jesus en dit boonop nog so byna reggekry ook! Hy het gepraat voor hy gedink het en dikwels ál die verkeerde dinge gesê! Sy impulsiewe beloftes soos dat hy sy lewe vir Jesus sou aflê en dat hy Hom nooit óóit in die steek sou laat nie en slegs enkele ure later sy hartseer verloëning van die einste Jesus! Ja, dit was die óú Petrus. Maar toe kom Pinkster en ons sien ‘n splinternuwe Petrus wat na vore tree as ‘n ware, onverskrokke en verstandige leier wat ál die régte dinge sê!
Daar was egter nog één ding waarmee Petrus in sy lewe móés planmaak, sy Joodse agtergrond. Sien, Petrus was nou wél ‘n Christengelowige maar hy kon maar net nie verby die jare en jare se Joodse tradisies kom wat van babatyd in hom ingedril was nie. Waar iets egter vir ons dikwels onmoontlik mag lyk, kom die Here en Hy maak dit wél moontlik. Vir Petrus het die heel eerste stappie gekom toe Simon die leerlooier hom uitnooi om by hom in Joppe tuis te gaan. Petrus het hom uit sy geloof uit geskrik toe hy hierdie uitnodiging kry! Sien, ‘n leerlooier werk met die velle van dooie diere en die goed is mos onrein! ‘n Godvresende Jood het daarom nóóit as 'n leerlooier gewerk nie. Dit sou hom immers óók mos onrein maak. Nou moes Petrus by hierdie “onrein” man tuisgaan. Dit was sekerlik baie moeilik vir Petrus maar die troos was dat ten minste die man darem ‘n Jood was!
En toe kom dáárdie droom! Dit was twaalfuur die middag en Petrus het op die platdak van die huis gaan sit en ontspan en gebid soos dit enige goeie Jood betaam. Onder in die huis was die vrou besig om kos te maak en die heerlike geure het Petrus rasend van die honger gemaak. Terwyl hy daar sit, sien hy in ‘n visioen ‘n reuse doek uit die hemel neersak. Petrus is nuuskierig: wat sou daarin wees? Dit lyk nogal swaar! Maar wat Petrus daar sien, vervul hom met afgryse want die doek is vol diere! Maar nie sommer net enige diere nie - alles gemeng! Daar is skape, beeste, varke, akkedisse, duiwe, aasvoëls. Dis om van naar te word! Rein en onrein diere, alles sommer deurmekaar! Terwyl Petrus nog grootoog na hierdie Babelse mengelmoes staar, kom daar ‘n Stem uit die hemel: “Kom Petrus, slag en eet.”
“Nog nooit nie, Here!” protesteer hy. "Ek het nog nooit in my lewe iets wat besoedel of onrein is geëet nie!” Petrus se onmiddellike reaksie is wat jy van énige goeie Jood sou verwag. Hy is immers ‘n Jood in murg en been en die wette wat hy so goed ken en wat van kleins af in hom ingedril is, sê tog ál te duidelik dat g’n Jood enigiets mag eet wat onrein is nie. Dan kom die stem uit die hemel weer: "Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie." Drie keer word die opdrag herhaal voordat die doek weer die hemel in verdwyn. Petrus is bitter ontsteld! Alles waarin hy tot dusver geglo het, is skielik op sy kop gedraai. Wat moet hy daarvan maak?
En terwyl hy met ‘n kloppende hart sit en peins oor die verskriklike gesig, staan daar drie manne voor die deur. Hulle wil vir Petrus spreek. “Kaptein Cornelius het ons gestuur.”
Petrus is steeds só in vervoering oor die visioen, dat hy hulle nie eers hoor klop nie. Die Here moet hom wakker skud uit sy denke. “Daar is drie mans wat jou soek. Ek het hulle gestuur. Moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie!” Petrus hoor helder en duidelik die Stem van God.
Cornelius was 'n centurio, ‘n kaptein in die Italiaanse kohort regiment wat in Ceasarea, die hoofsetel van die Romeinse goewerneurs in Judea, gestasioneer was. Hy het die Joodse geloof aangeneem en het baie vroom geleef, maar die feit dat hy nie ‘n Jood van geboorte was nie het hom steeds “onrein” vir enige Jood gemaak. 'n Engel het in 'n visioen na hom gekom en hom opdrag gegee om Petrus te laat haal.
En hier staan die drie “heidene” voor Petrus. Wat moet hy maak? Skielik gaan daar vir Petrus ‘n lig op: dít is waaroor die visioen was! Rein en onrein diere was alles deurmekaar! Hoe kan ek as mens iemand onrein verklaar? Téén alle Joodse voorskrifte in word die drie binnegenooi om die nag daar te slaap. Dit was Joodse tradisie dat as vriende of selfs vriende se vriende by jou opdaag, al ken jy hulle gladnie eers nie, dan gee jy hulle slaapplek. Natúúrlik is hierdie drie “heidene” vriende, want God het hulle dan gestuur! Hy het Sélf so gesê!
Vir Petrus is hierdie die begin van ‘n totale nuwe lewe. Hy kry skielik ‘n lewe vrygemaak van die kettings van tradisies. Maklik was dit beslis nie, want ál die jare was dit in hom ingehamer en nou skielik moet hy daarmee breek. Ek en jy sit dikwels ook met tradisies wat indruis teen wat die Here vir ons wil hê. Daar is dinge soos rassevooroordele, sosiale verskille, kerktradisies - noem maar op! Natuurlik is alle tradisies nie sleg nie maar sommiges weerhou jou daarvan om voluit vir God te leef. Dit is dáárdie soort tradisies waarvan jy moet ontslae raak, soos Petrus ook uitgevind het. Nie alleen het die Here daardie dag vir Petrus laat verstaan dat dit nie saakmaak wat jy eet nie, maar ook dat een groep mense nie verhewe is bo ‘n ander nie. So durf ek nie neersien op énige mens nie, maak nie saak wie of wat hy is nie!
In more se oordenking volg ons DV vir Petrus verder op sy opwindende nuwe avontuur!
Gebed:
Here, vergewe my waar ek steeds so dikwels vooroordele het teen mense wat anders as ek is. Help my asseblief om U wonderbare liefde teenoor almal uit te leef!