Paulus, Sendeling na die Heidene

17 April, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paulus, Sendeling na die Heidene

Inleiding oor Paulus

VIDEO | SPOTIFY

Daar is vir my twee persone in die Nuwe Testament wat uitstaan bo al die ander. Die een is Petrus, die Rots. Die ander een is daardie groot sendeling en skrywer, Paulus. Hy kan vir enigeen ‘n rolmodel wees! Hierdie man was fenominaal!

Paulus het egter ‘n leefstyl gehandhaaf wat g’n mens vandag sal kan hanteer nie. Daar was beslis nie plek vir gemaksug of kleinserigheid nie! Paulus het deur bitter swaar tye gegaan, en nie maar net een- of tweekeer in sy lewe nie, want keer-op-keer beleef Paulus ontberinge wat jou hare laat regop staan! Dan skud hy bloot maar net weer die stof van sy klere af en gaan voort asof niks op aarde ooit gebeur het nie!

Ek het gemeld dat Paulus onder meer ‘n skrywer was. Hy was verantwoordelik vir die grootste aantal boeke wat in die Bybel opgeneem was. Boonop is hy die eerste een wat geskrifte die lig laat sien het in die Nuwe Testamentiese era. Die vier evangelies het eers baie jare na Paulus se briewe ontstaan. Om die waarheid te sê, Paulus was waarskynlik al dood toe Markus die eerste evangelie geskryf het.

Ten spyte van al sy skryfwerk, lyk dit asof Paulus persoonlik selde 'n pen in die hand gehad het. Hy het moeilik gesien en hy moes van ander mense gebruik maak om sy skryfwerk te doen terwyl hy gedikteer het. Af en toe het hy 'n sinnetjie of wat geskryf, maar dan met groot moeite. In Galasiërs 6:11 skryf hy byvoorbeeld: “Van hier af skryf ek eiehandig aan julle, kyk net die groot letters!

Lukas was een van die persone wat baiekeer as sy sekretaris opgetree het. Dalk was dit juis die inspirasie wat hy hieruit kon put wat hom aangespoor het om die Evangelie volgens Lukas te skryf en later ook die opvolg daarvan, Handelinge, wat ‘n groot deel van Paulus se lewe beskryf. Hierdie twee boeke beslaan in volume die grootste bydrae tot die Nuwe Testament.

Inderdaad het Paulus se lewe al etlike skrywers geïnspireer om oor hom te skryf, soos onder meer Jaco Thom met sy pragtige boek: “Paulus, die Dertiende Apostel”. Hierdie is 'n lekkerlees roman waar Jaco 'n bietjie verbeelding gebruik het om te skryf van Paulus wat nie in die Bybel opgeteken is nie. Inderdaad is daar baie dinge van Paulus waaroor ons eintlik maar net kan raai. Was daar ooit 'n vrou in sy lewe? In Jaco Thom se roman oor Paulus maak hy die aanname dat daar wél 'n meisie was en dat die liefde geblom het. Maar na Paulus se Damaskuservaring het sy hom soos 'n warm patat gelos! Dit is egter suiwer spekulasie. Nog 'n vraag waaroor daar al baie gegis en gewonder is, is wat daardie “doring in die vlees” was waarvan hy praat? Wie was die werklike Paulus? Wat het in sy binneste en in sy binnekamer aangegaan? Wat is die dinge waarmee hy in sy binneste geworstel het?

Ek gaan poog om saam met jou die ware Paulus te ontdek en om sy lewensverhaal kronologies te probeer neerpen. En jy sal my vergewe as ek per geleentheid aannames maak wat ek nie werklik kan staaf nie. Ek belowe egter dat ek my bes sal probeer om nie sommer wilde gedagtes uit die lug te gryp nie, maar slegs te skryf uit die agtergrond wat beskikbaar is.

Wie was Paulus? Waar kom hy vandaan?

In Filippense 3:5,6 lees ons wat Paulus oor homself skryf: “Ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam van Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër, in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

Paulus is gebore in die jaar 10nC in die stad Tarsus in Silisië. Agt dae later neem Pa hom na die sinagoge. Salig onbewus van wat hom sou tref, het die seuntjie in sy trotse pa se arms gelê. Die volgende oomblik gil die knapie as hy die operasie ondergaan wat alle klein Joodse seuntjies ondergaan, en sy pa gee hom die naam “Saul”. Dit was traumaties, maar nou, na sy besnydenis was hy 'n Jood in murg en been!

Sy pa was 'n Fariseër, en dus was dit ook die paadjie wat vir die jong Saul uitgelê was. 'n Seun volg mos immers in sy pa se voetspore. Soos ons uit Filippense sien, lê Saul se voorgeslagte diep gewortel in die volk van God. Hy stam af uit die stam van Benjamin, nes sy naamgenoot Saul, die eerste koning van Israel.

Aangesien sy pa 'n Fariseër was, het klein Saul al van kleintyd af begin om die basiese beginsels van die wet te leer ken. Teen die tyd wat hy kon begin verstaan, moes hy gedeeltes van die Tora uit sy kop leer, sodat dit nie maar net gelees word nie, maar deel van sy lewe sou word.

Klein Saul word algaande touwys gemaak in die gebruik van gebedsrieme. Daar is een wat twaalf keer om jou arm gedraai word, een keer vir elke stam van Israel. Nóg ‘n gebedsriem word om jou kop gedraai Hierdie een het 'n dosie aan wat om jou voorkop vaskom, waarin vyf velletjies perkament is met vyf skrifgedeeltes op. Aan die gebedsriem wat om jou arm kom is daar 'n soortgelyke dosie met vyf skrifgedeeltes. Verder word daar ook nog 'n gebedsdoek oor jou kop gedrapeer. Sy pa het hom geleer dat gewone mense hierdie gebedsrieme aansit slegs terwyl hulle die oggendgebed doen, daarna haal hulle dit af. Fariseërs haal egter nie die gebedsrieme af voor die aandgebed eers verby is nie. Hulle loop heeldag lank daarmee.

Dankie tog dat ons nie vandag gebedsrieme nodig het om ons te herinner om te bid nie. Ons het vrye toegang tot die Here, enige tyd van die dag of nag!

Gebed:

Here, baie dankie dat ek met U kan gesels. En dankie dat die wet nie vir my 'n voorvereiste is om U kind te wees nie. Leer my om dit uit dankbaarheid te onderhou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026