Handelinge 21:37 tot 22:22
Gister het ons gesien hoedat Paulus gevange geneem is. Tot die groot verbasing van die Romeinse bevelvoerder praat Paulus Grieks met hom. Hy het Paulus verwar met ‘n Egiptenaar wat ‘n tyd tevore in opstand gekom het, en uiteindelik met vierduisend man die woestyn ingevlug het. As die kommandant hoor dat Paulus eintlik van Tarsus afkomstig is, gee hy hom die kans om die skare toe te spreek. Paulus wuif vir hulle, en die skare kom tot bedaring. As Paulus begin praat, sak daar ‘n doodse stilte oor hulle toe, want nou moet hulle hoor dat hy hulle in hulle moedertaal, Aramees toespreek. Boonop spreek hy hulle aan as “Broers en vaders”, en sommer dadelik begin hulle respek vir hierdie man kry, die man wat hulle gedink het ‘n vreemdeling is.
Paulus stel homself bekend, en hy sê dat hy ‘n rasegte Jood is uit die beroemde stad Tarsus, en nog meer, dat hy aan die voete van die beroemde rabbi Gamaliël die wet van Moses gestudeer het, en net soos alle toegewyde Jode ‘n kampvegter was vir die saak van God. Dit was baie belangrik dat Paulus die regte inligting oor homself verskaf, veral oor sy herkoms. In daardie jare was dit ‘n man se herkoms wat bepaal het wie en wat hy was. Sy pa, oupa en oupagrootjie het sy status bepaal, en nie watter soort werk hy het, of watter soort motor hy ry nie.
Nou het hy hulle aandag én respek en kan hy die belangrike inligting weergee. Paulus vertel van hoe hy as toegewyde Fariseër aanvanklik die “mense van die leer van Christus” met alle mag wou uitroei, en dat hy selfs met goedkeuring toegekyk het toe een van hulle leiers, Stefanus, doodgegooi is met klippe. Die skare hang aan die lippe van hierdie Jood-in-murg-en-been.
Maar dan kom daar ‘n draai in Paulus se verhaal, en hy vertel van sy ervaring op die pad na Damaskus, waar hy in opdrag van die Joodse Raad gelowiges sou uitroei en in die tronk stop. Hy vertel van hoe Jesus aan hom verskyn het, en van die helder lig wat hom totaal blind gelaat het en van die stem uit die hemel, die stem van Jesus van Nasaret, wat sy lewe daar totaal verander het.
As ons hier Paulus se vertelling oor die Damaskusgebeure lees, en ons lees die eerste berig wat Lukas hieroor geskryf het, dan sien ons etlike verskille en veral klemverskuiwings. Dit noop baie mense om te sê dat die Bybel nie konsekwent is nie. Waarom? As ‘n mens die storie van Rooikappie vir ‘n kind vertel, dan kleur jy die prentjie pragtig in met kleurvolle beskrywings van die pragtige, onskuldige ou dogtertjie en die wrede, nare wolf. Vertel jy dit egter vir ‘n volwassene, dan gaan die klem op totaal ander dinge val, soos die onverantwoordelikheid van die meisiekind om alleen deur ’n woud te stap en die feit dat daar menslike eienskappe aan ‘n wolf toegedig word. En dit word twee totaal verskillende stories! Vir ‘n gelowige word die verhaal van Paulus se bekering totaal anders vertel as vir ‘n Jood wat sélf aan die vervolging van gelowiges deelneem. Ons moet die verskillende vertellings in die regte konteks lees, net soos ook baie ander gevalle in die Bybel.
Op die trappe van Fort Antonia, die hoofkwartier van die Romeinse garnisoen, reg langs die tempel, staan Paulus en hy dra die goeie nuus oor aan ‘n groot skare Jode. Alhoewel hy dit in hulle eie taal en vanuit hulle eie tradisies vir hulle vertel, beteken dit nie vir een oomblik dat hy die Evangelie afbuig na hulle vlak om hulle ore te streel nie. Inteendeel, hier waar hy eintlik in groot moeilikheid verkeer, vertel hy onverskrokke vir hulle dat Jesus die Messias is.
Maar hier vertel Paulus ook iets wat ons tot dusver nog gladnie gehoor het nie. In ‘n verassende uitspraak hoor ons vir die eerste keer hoedat hy ná sy bekering na Jerusalem gekom het, en dat hy, terwyl hy in die tempel was, in ‘n geestesvervoering geraak het. Hier het die opgestane Here hom gewaarsku om uit Jerusalem pad te gee omdat niemand in die stad sy verkondiging sou aanvaar nie.
Ons moet onthou dat Paulus die hoofvervolger van die kerk was tot kort voor hierdie ervaring. En die gelowiges het weggehardloop as hulle hom sien. Aan die ander kant was die Joodse Raad woedend vir hom, want hy het skielik ‘n verraaier geword. Hy het nêrens meer ingepas nie! Dit was ‘n onhoudbare situasie. Jesus het dus vir Paulus weggestuur.
Maar dit was nie so eenvoudig nie, en wat hy verder vertel, het die Jode nou nie juis laat op en af spring van opgewondenheid nie! Hy deel hulle mee dat hy gestuur is om te gaan werk onder die heidene. Vir enige rasegte Jood was dit die grootste vernedering ooit! Hierdie man wat hulle so pas aangespreek het as “broers!” Hy het homself verontreinig deur hom met die spul onrein heidene te meng!
Hulle was woedend. So ‘n man behoort nie eers te bly lewe nie! “Weg met hom!” gil hulle. “Hy verdien die doodstraf!”
Maar hieroor sal ons in die volgende dagstukkie verder lees. Mag hierdie dag en naweek vir jou ‘n besondere een wees, propvol opwinding en gevul met die goedheid en liefde van God.
Gebed:
Here, maak my asseblief ook soos Paulus, onverskrokke om die blye boodskap van U verlossing te verkondig.