Paulus Vertel van Damaskus

29 June, 2026

Handelinge 22:1-22

Wanneer Paulus die vertroue van die skare het, begin hy vertel van sy Damaskuservaring. Hy vertel dat hulle besig was om te reis na Damaskus, juis om daar die mense van “die Pad” (soos Christene daardie tyd genoem is) te gaan vervolg. Hy het beplan om almal wat hierdie leer aanhang te gaan uitsleep en in die tronk te stop. En toe skielik, toe hulle die middag naby Damaskus kom, straal daar 'n helder lig uit die hemel wat Paulus totaal verblind. Al sy reisgenote het die lig gesien.

Paulus het op die grond neergeval. Toe kom daar 'n stem uit die hemel: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my?” Toe Paulus vra wie dit is wat met hom praat, antwoord die Stem uit die hemel: “Dit is vir My wat jy vervolg.” Jesus het uit die hemel met hom gepraat, en toe stuur Hy vir Paulus na Damaskus, waar alles vir hom verklaar sou word.

Paulus was blind na hierdie ondervinding, en sy reisgenote moes hom na Damaskus lei, waar 'n sekere Ananias, 'n hoogs gerespekteerde Jood na hom gekom het en hom vertel het waaroor dit alles gegaan het.

Paulus vertel vir die skare, wat steeds met volle oorgawe na hom luister, dat hierdie Jesus van Nasaret sy lewe dramaties verander het. Na sy ontmoeting met Jesus het hy 'n totale nuwe visie en lewenstaak gehad. Om die waarheid te sê, het die Here hom aangestel as getuie van Sy opstanding!

Wanneer jy die Evangelie met iemand deel, moet jy dit kontekstualiseer. Wat beteken dit? Eenvoudig: jy moet dit binne die konteks plaas van die omstandighede waarin jy dit deel. As ons terugdink aan die vorige hoostuk, en hoe dit amper wou voorkom asof Paulus eintlik sy eie stert geprys het, dan wil jy amper sê: “Maar só deel jy mos nie die Evangelie met mense nie!”

Maar binne die konteks van die omstandighede sou géén ander metode waarskynlik énige resultate opgelewer het nie. Die mense sou hom net bly uitjou het! Maar met hierdie totaal onortodokse benadering kon Paulus daarin slaag om die mense se aandag gevange te hou.

As ek met iemand praat wat alreeds 'n goeie agtergrond van die Bybel en godsdienstigheid het, sal ek 'n totaal ander benadering gebruik as wanneer ek met iemand praat wat totaal onverskillig staan teenoor geloof.

'n Hindoe, wat meer as driemiljoen gode dien, en Jesus dalk sien as maar net nóg 'n god, sal ek anders benader as 'n Moslem wat glo dat daar slegs een God is, en wat Jesus nie kan sien as deel van die God-heid nie.

Op dieselfde wyse sal ek vir 'n kind die Evangelie “inkleur” met 'n storie wat hy sal onthou en vir die intellektuele persoon sal ek dit moontlik koppel aan baie Skrifgedeeltes en dalk selfs aanhalings uit geskiedkundige geskrifte.

In kort: daar is nie een enkele standaardmetode om die Evangelie met iemand anders te deel nie. Nou weet ek ook sommer dat 'n paar mense nie met my gaan saamstem nie: “Wat dan nou van die EE III metode? Dit is 'n onfeilbare model! Of wat van Getroue Getuies? En Campus Crusade se 4 Geestelike Wette?”

Hierdie is almal uitstekende riglyne om jou te help om die Evangelie met mense te deel, en hoe meer van hulle jy onder die knie kan kry, hoe beter! Die kennis wat jy hieruit kry kan jy gebruik en kombineer met die omstandighede waarin jy die Evangelie met die persoon deel.

Terloops, Oom Malan Nel het sy boek: Getroue Getuies pas totaal herskryf. Die titel van die nuwe boek is: Dissipels Maak Dissipels.

Maar terug by Paulus se toespraak: Hy vertel dat hy ná sy Damaskuservaring na Jerusalem is. Hy het na die plek gegaan waar hy oor die jare gewoond was om met die Here te praat, die tempel. Daar het hy gaan bid, soos wat hy al sóveel keer gedoen het. Maar hierdie slag was dit anders, want terwyl hy in gebed was, het hy 'n geestesvervoering beleef. Hy het 'n visioen gehad waar hy vir Jesus gesien het. Die Here het hom gewaarsku om dadelik uit Jerusalem weg te gaan, want die mense sou nie sy boodskap aanvaar nie!

Paulus het dit begryp, want dit was nog vars in almal se geheues dat hy die gelowiges wreed vervolg het, en selfs betrokke was by Stefanus se steniging.

Daar in die tempel kry hy toe sy opdrag van Jesus om weg te gaan en die Evangelie na die heidene toe te neem.

Hierdie laaste sin was een te veel vir die skare, en hulle begin weer skreeu: “Weg met hom! Weg met hom!”

Het iemand ooit tot geloof in Jesus gekom deur hierdie aangrypende toespraak van Paulus? Ons weet nie! Maar een ding is seker, die boodskap het helder en duidelik weerklink! Iemand in daardie gehoor móés beslis daardeur geraak wees!

Hoeveel mense het ek al tot geloof gelei? Ek het nie die vaagste idee nie! Maar ek het al duisende kere die Evangelie gesaai, en my innige gebed is dat baie van daardie saadjies gegroei het en hopelik vandag al sélf vrug dra en die saad van die Evangelie saai.

Gebed:

Here help my asseblief om onverpoosd tydig en ontydig te saai, en gee my asseblief die wysheid om altyd die regte metode te gebruik om by die regte omstandighede te pas!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026