Paulus Gevange Geneem

25 June, 2026

Handelinge 21:27-36

Paulus help vier manne om 'n Nasareërgelofte af te lê. Hy betaal vir hulle offer tydens die reinigingshandeling, wat sewe dae duur. Dit is Pinksterfees, en daar is Jode van regoor die wêreld in Jerusalem om saam te kom feesvier. Onder andere is daar ook van Paulus se ou “vriende” uit Asië, die manne wat hom tydens sy sendingreise so baie gas gegee het. Hulle kan hulle oë nie glo as hulle vir Paulus in die tempel raakloop nie. Die manne kry amper 'n hartaanval van pure skok. “Dan was dit tóg Paulus wat een van die manne saam met 'n Griek hier in Jerusalem gesien het!” hyg een kêrel.

“Ja, en hy het hom sékerlik in die tempel ingevat!”

“En al die kennisgewings is hier baie duidelik selfs in Grieks en Latyn aangebring, dat slegs Jode die tempel mag binnegaan!” kerm 'n ander Jood.

Paulus het wél saam met Trofimus, 'n Griek deur die stad gestap, maar hy is dééglik bewus daarvan dat dit gróót sonde sou wees om 'n heiden in die tempel in te neem, hulle mag nie verder as die voorhof gaan nie. Dus maak hy séker dat die manne saam met hom daar wegbly. Paulus is dus totaal onskuldig aan die dinge wat hierdie Jode hom toedig.

Die ontstoke Jode roep hulle volksgenote nader en dan neem hulle sommer aan dat Paulus die tempel verontreinig het met heidene. Hulle hardloop en gryp vir Paulus en sleep hom hardhandig uit die tempel uit. Baie gou is daar 'n klomp nuuskieriges wat wil weet wat aan die gang is. Binne sekondes weet almal dat Paulus 'n baie ernstige misdaad gepleeg het, en in 'n japtrap is daar 'n oproer.

Die nuus versprei soos 'n veldbrand, en in 'n ommesientjie is die hele stad daar. Inderhaas sluit die priesters die tempeldeure om te voorkom dat die tempel verder ontreinig word deur 'n moord ook! Terwyl hulle vir Paulus wegsleep, slaan hulle hom pimpel en pers. Die mense is woedend, en Paulus kry géén kans om te verduidelik dat hy eintlik onskuldig is nie. Mense wil nie rede verstaan nie! Hulle is woedend, en hulle het bloed geruik. Nou wil hulle vir Paulus dáár en dan dood hê!

Intussen bereik die berig van die oproer die ore van Klaudius Lisius die chiliarg oftewel die bevelvoerder van die Romeinse garnisoen soldate. Terloops, ‘n garnisoen bestaan uit tussen 600 en 1000 soldate. Die Romeine het 'n kaserne, Fort Antonia, aan die noordwestelike kant van die tempel gebou reg langs die tempel, met trappies wat die kaserne met die tempelterrein verbind, sodat hulle baie gou op die toneel kon wees as dinge dalk sou skeef loop. Die tempel was beskou as 'n brandpunt waar humeure baie gou kon opvlam en gróót moeilikheid kon uitbreek. Dis tog só tragies dat júís die plek waar liefde gekweek moes word, die plek was waar mense mekaar aan die keel gegryp het!

Wanneer die chiliarg van die moeilikheid hoor, vat hy dadelik 'n afdeling soldate om die opstand in die kiem te smoor.

As die Jode die soldate aangehardloop sien kom, bedaar hulle dadelik. Die soldate neem vir Paulus in hegtenis en boei hom met twee kettings. Klaudius probeer uitvind wat hierdie arme drommel dan gedoen het dat die mense so kwaad is vir hom, maar die skare rumoer en skreeu so hard, dat die kommandant niks kan hoor nie.

“Vat hom kaserne toe!” beveel hy sy soldate, en hulle begelei Paulus na Fort Antonia. Die skare is egter só kwaad vir Paulus, dat die soldate genoodsaak is om vir Paulus na die kaserne te dra, terwyl die skare woedend skreeu: “Weg met hom! Weg met hom!”

Nou het die uitsprake van Agabus en ander gelowiges, dat Paulus in Jerusalem vervolg sou word, waar geword. Maar Paulus skram nie vir één oomblik weg hiervan nie. Hy is bereid om die pad enduit te loop, al gebeur wát ookal!

Paulus se prediking was nie maar net lippetaal en mooi woordjies nie. Hy het gedoen presies wat hy gepreek het. Hierdie was die taal van sy hande en sy voete - inderdaad van sy hele lewe!

Ek en jy moet biddend sorg dat ons lewe ook soos dié van Paulus, wys dat ons nie van vervolging sal wegskram nie. Vervolging is vandag gewoonlik baie meer subtiel as in Paulus se tyd. Dit is dikwels 'n sielkundige aanval wat poog om ons af te kraak. Dikwels kom dit ook in die vorm van leuens wat doelbewus versprei word. Wees bedag daarop en staan op vir die Here ten spyte van die aanvalle.

Nét voordat hulle hom die kaserne indra, draai Paulus na die kommandant en vra in suiwer Grieks vir hom: “Mag ek u iets vra?”

Klaudius steek in sy spore vas, geskok dat iemand uit hierdie geweste hom aanspreek in sy eie taal: “Ken jy dan Grieks?” wil hy weet. Nou is hy totaal oorbluf. Hierdie man is beslis nie 'n Jood nie, en nog minder is hy 'n Egiptenaar! “Dan is jy nie die Egiptenaar wat in opstand gekom het nie?”

Gebed:

Here, gee my asseblief die krag om staande te kan bly en altyd op te staan vir U tydens vervolging!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026