Eutigus se Groot Val

19 June, 2026

Handelinge 20:1-13

Met die aanbreek van lente maak Paulus gereed om na Sirië te vertrek. Maar dan kom iemand na hom met ontstellende nuus: die man het te hore gekom van 'n Joodse komplot teen Paulus. Op die skip waarop Paulus sou klim, was daar ook 'n klompie Joodse pelgrims, en hy het toevallig gehoor hoedat hulle beplan om van Paulus ontslae te raak sodra die skip in die diepsee is.

Paulus roep die manne wat saam met hom moet reis bymekaar. Daar is sewe van hulle, almal verteenwoordigers van verskillende gemeentes wat deur Paulus tot stand gebring is, en hulle het 'n klomp geld by hulle wat hulle by die Jerusalem gemeente moet gaan aflewer. “Die risiko is te groot,” besluit die manne, “ons sal 'n ander plan móét maak ter wille van die Evangelie!” Hulle besluit om eerder vir Paulus met 'n groot ompad deur Masedonië te stuur. Hulle sou per skip vooruitgaan na Troas in Asië en daar vir Paulus wag.

En só vertrek Paulus noordwaarts deur Masedonië tot by Filippi, nét betyds om daar te kom vir Paasfees saam met die gemeente. Daar klim Paulus op 'n skip en vaar na Troas, waar die manne reeds op hom wag, 'n reis van vyf dae.

Dit is groot blydskap wanneer Paulus in Troas voet aan wal sit, en hy móét net eenvoudig 'n week daar oorbly. Lukas is ook onder die gelowiges wat Paulus ontmoet, en hy besluit om weer saam met Paulus verder te reis. Maar eers wil die gelowiges van Troas alles hoor. Paulus moet preek, want dit is selde dat hulle die geleentheid kry om te luister na 'n prediker van Paulus se formaat.

Die Sondagaand voor hulle vertrek is al die gelowiges van Troas vir oulaas bymekaar terwyl Paulus 'n boodskap lewer. Hulle is bymekaar in 'n bovertrek op die derde verdieping, en die mense moet maar mooi pas om almal 'n sitplekkie te kry. Een jong kêrel met die naam Eutigus is een van die gelukkiges wat darem 'n gemaklike sitplek kry, nou nie juis die veiligste sitplek nie – hy sit in die vensterbank met sy rug in die opening, en drie verdiepings tussen hom en die pad dáár onder.

En Paulus preek. Daar is só baie wat hy vir die mense wil sê, en die tyd is só min. Paulus preek lank, sommer báie lank. Dit is naderhand middernag, maar steeds is daar nie eers náástenby 'n teken dat sy preek einde se kant toe staan nie. En die arme Eutigus sukkel om sy oë oop te hou!

Het jy dit al beleef dat jy tydens 'n preek, veral as die dominee 'n bietjie temerig preek, die slaap nét nie meer kan wegkeer nie? Ek het al! Met katastrofiese gevolge vir my ego!

Nou ja, dit is presies wat met Eutigus gebeur, en so kort na middernag oorval die slaap hom daar in sy vensterbank. Die volgende oomblik word die gemeente geruk deur 'n bloedstollende gil. As hulle omkyk, is hulle net betyds om Eutigus se voete by die venster uit te sien verdwyn. Hulle storm na die venster, en in die flou maanlig sien hulle die arme Eutigus se liggaam verwronge lê daar onder in die straat.

Haastig hardloop hulle die trappe af. Maar wanneer hulle onder kom, sien hulle dat die ergste gebeur het. Eutigus het hom pap geval, morsdood! Almal is hoogs ontsteld oor die tragiese voorval. Maar Paulus kom óp sy tyd die trappe af. Hy strek hom uit oor die dooie seun en druk hom styf teen hom vas. Wanneer Paulus opstaan, deel hy die skare doodluiters mee: “Hy lewe!” en dan draai Paulus om en stap weer die trappe op na bo.

Grootoog staar die gemeente na die dooie Eutigus as hy stadig sy oë oopmaak. 'n Paar manne help hom op. “Toemaar, ek is reg....” sê hy met 'n bewerige stem, en hy stap kruppel-kruppel die trappe op. Hierdie slag bly hy baie ver van die vensterbank af weg!

“Nou toe, nou is almal seker wakker! Waar was ek nou weer? O ja, ek was net op pad om te sê dat ons nou saam brood gaan breek.”

En so vier die gemeente saam die nagmaal, en eet 'n gemeenskaplike maaltyd. En wanneer dit verby is, gaan Paulus voort en preek verder tot dagbreek toe!

En dan is dit tyd vir die skip om te vertrek. “Gaan julle maar aan boord met al ons bagasie, ek ontmoet julle by Assus.” Paulus probeer tyd koop om behoorlik van die gemeente afskeid te neem. Wie weet, dalk is hierdie die laaste keer dat hy hulle sien. Inderhaas gaan Lukas en die ander sewe manne af hawe toe, en hulle is nét betyds om by die skip te kom voordat dit vertrek. 'n Klompie van die gemeentelede stap saam met Paulus die veertig kilometer na die hawestad Assus om nog 'n bietjie te kan gesels en nog 'n bietjie van hom te kan leer.

Hoeveel moeite doen ek en jy werklik om te kan leer van Koninkryksdinge? Dikwels is 'n uur-lange Erediens al klaar hééltemal te lank. Hierdie mense was só honger vir die Woord dat hulle bereid was om van sononder tot sonop na Paulus te luister. En dan het party nog steeds nie genoeg gehad nie!

Kom ons ontwikkel 'n groot honger vir die Woord. Ja, dit kos deursettingsvermoë, maar uiteindelik is dit deur-en-deur die moeite werd!

Gebed:

Here, ek wil van U leer, meer en meer! Gee my asseblief ‘n groot honger na U Woord en die wil om dit in te drink en my eie te maak!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026