Optog om Jerigo

13 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Optog om Jerigo

Josua 5:13 tot 6:14

VIDEO | LUISTER

‘n Paar weke gaan verby sedert die Israeliete hulle intrek geneem het by Gilgal, skaars ‘n klipgooi van die versterkte stad Jerigo. Die Jerigoïte se oë het groot gerek toe hulle sien hoedat hierdie massa mense droogvoets deur die Jordaan stap. Hulle was vreesbevange, want voor hulle oë sien hulle dat nou gebeur wat destyds by die Rietsee gebeur het. Dan was dit tóg waar! Dit was nie maar net stories nie! Die hekwagte kry opdrag om die stadspoorte te sluit en te grendel. Niemand mag daar in of uit nie want die vreesaanjaende klomp Israeliete mik vir húlle stad!

Die brawes wat dit waag om oor die hemelhoë stadsmuur te loer, sien eienaardige dinge plaasvind daar by Gilgal. Op ‘n stadium verdwyn al die manne in hulle tente in, en dit is vir langer as ‘n week net die vrouens wat sigbaar is. Wat het daardie manne in hulle tente gekonkel? ‘n Paar dae later sien hulle weer dat die klomp daar onder feesvier. Maar op géén stadium wil dit lyk asof hulle gereedmaak om die stad aan te val nie. Hulle verstaan dit nie!

Josua besluit om ‘n entjie te gaan stap in die stad se rigting. Hy weet nie mooi wat om te doen nie, want hy hoor niks van die Here af nie. Wanneer moet hy nou die stad gaan aanval? Voor hom rys die manjefieke klipmure op. Hierdie is voorwaar ‘n sterk stad! Hy wonder hoe enigiemand óóit oor daardie mure gaan kom. Boonop is die poorte solied en onbeweeglik.

‘n Beweging vang Josua se oog. Hy skrik hom yskoud as hy skielik ‘n man hier vlakvoor hom sien staan met ‘n ontblote swaard. Oomblikke gelede was hier nog niemand! Waar kom hy so skielik vandaan? “Is u aan ons kant of aan ons vyande s'n?” stamel Josua. Daar is iets heiligs aan hierdie man. Josua voel dit sommer dadelik aan.

“Nee,” stel die man hom gerus, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.”

Josua buig laag voor die man. Die aanvoerder van die leër van die Here! Sy hart klop in sy keel. “Trek jou skoene uit, Josua, want die plek waarop jy staan, is 'n gewyde plek.”

Dan moet Josua tot ‘n skrikwekkende besef kom: hierdie is nie maar ‘n engel nie, maar een wat God verteenwoordig! Dit is heilige oomblikke wat hy beleef! “Ek gaan Jerigo nou in jou mag oorgee.” deel die engel vir Josua mee.

Dan kry Josua volledige instruksies van presies wat hom te doen staan. Wanneer Josua opkyk, is die engel weg. Hy spring op en hardloop opgewonde na Gilgal. Die tyd het aangebreek! Oor sewe dae is die stad hulle s’n! So het die Here hom belowe.

In die kamp van die Israeliete is alles in rep en roer. Hier is aksie! Die héél belangrikste is nie die soldate nie maar die priesters. Almal, die vyand inkluis, moet baie duidelik besef dat dit nie Josua en sy dapper soldate is nie, maar God Almagtig wat hierdie stad verower. Die priesters word dus noukeurig beduie wat hulle te doen staan.

Volgende aan die beurt is die gewapende manne. Hulle moet die voorhoede vorm. Maar nee, hulle gaan vir ‘n begin gladnie eers hulle wapens gebruik nie. Hulle gaan bloot rondom die stad stap. Dis al!

Uiteindelik is die hele stoet opgestel en Josua is tevrede. ‘n Stoet is dit inderdaad, want wanneer hulle begin stap is dit in sombere stilte. Josua se bevel is dat daar nie ‘n geluidjie uit die soldate se geledere durf kom nie. Daar moet ‘n heilige stilte heers. Vooraan stap die gewapende manne, gevolg deur sewe priesters met ramshorings. Op die agterhoede volg ‘n span priesters in wit gewade, hulle dra die Verbondsark.

In Jerigo skrik die inwoners hulle yskoud as die klaende geluid van sewe ramshorings skielik uit die vlakte begin opklink. Die soldate gryp oorhaastig na hulle wapens en hardloop uitasem na die muur. Wat hulle egter daar onder sien, laat hulle spierwit van angs. Dit is onheilspellend stil, buiten vir die aaklige geluid van die ramshorings wat die hele tyd die onheilspellende lug vul. Met harte wat in hulle kele klop, aanskou hulle die optog wat stadig en somber rondom hulle stad loop. Hulle verstaan dit nie: daar is géén strydkrete nie, géén vertoon van mag of wapens nie, niks! Die klomp loop net. Wanneer gaan hulle aanval?

Wanneer die stoet een keer om die stad is, kies hulle koers huiswaarts. So stil as wat hulle gekom het, verdwyn hulle weer.

“Ek hou níks hiervan nie!” tier die koning teenoor sy raadslede. “As hulle maar net wil aanval soos alle vyande maar doen, dan kan ons met hulle afreken. Maar hierdie ding maak my bitter bang!”

De volgende oggend baie vroeg is dit wéér sulke tyd. Presies dieselfde patroon as die vorige dag. So ook die derde en vierde dag. Vir ses dae hou dit so aan en die inwoners van Jerigo se senuwees is op breekpunt. Spanning laai ondraaglik hoog. Wat is daardie klomp se plan? Hulle voel sommer aan dat daar iets verskrikliks op die sewende dag gaan gebeur!

Vandag kan ons weet dat die Here só anders werk as wat enige mens kan dink. Hy is immers God!

Gebed:

Here, hierdie wonder van Jerigo laat my elke keer maar weer my hande saamslaan in verwondering. U is gróót!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026