Handelinge 19:21-20:1
Na 'n baie lang brief aan die gemeente in Korinte, sê Paulus, tot groot verligting van Sostenes sy sekretaris, uiteindelik “Amen.” Intussen het hy solank vir Timoteus na Korinte gestuur om die gemoedere daar te gaan probeer kalmeer terwyl hy nog besig is om die brief te skryf.
Wanneer Paulus die brief wegstuur, bid hy dat dit die regte uitwerking sal hê. Ja, hy het harde woorde in die brief kwytgeraak, maar hy het dit tóg met groot liefde geskryf. Sy slotwoorde is immers: “Die genade van die Here Jesus sal by julle wees! My liefde is by julle almal in Christus Jesus.” Kon hy dit duideliker gestel het?
Die tyd vlieg verby in Efese. Hulle werk nou al byna drie jaar hier, en daar is asemrowende vrug op hulle arbeid. Maar Paulus het darem ook nie nét in Efese in hierdie drie jaar gewerk nie. Nee, hy het regdeur die provinsie Asië verskeie van die ander dorpe en stede in die omgewing besoek en die mense daar geleer van Jesus. Nou is hy tevrede dat hy gedoen het wat hy kon doen. Die tyd het dalk nou aangebreek vir hom om aan te skuif. Miskien moet hy weer 'n draai gaan maak in Masedonië en al die gemeentes daar gaan besoek. Nog 'n besoek aan Jerusalem sal ook nie 'n slegte idee wees nie. En Rome, hy wil so graag in daardie bose stad sy tande inslaan. Wie weet, miskien is dit hom nog eendag beskore!
Timoteus het intussen teruggekom uit Korinte en alles vir Paulus kom vertel van wat daar aan die gang is. Dinge lyk nie goed nie, en Paulus is bitter ontsteld. Timoteus kon ook nie veel uitgerig kry nie. Inderhaas besluit hy om sélf maar besoek te bring aan Korinte sodat hy persoonlik daar met die gemeente kan gaan gesels.
En so klim Paulus op die eerste beskikbare skip en vaar oor na Agaje om daar die gemeente van Korinte te gaan besoek. Dit was 'n kort en pynlike besoek, wat Paulus liewer sou wou vergeet. Ons lees so 'n ietsie daarvan in 2 Kor. 2:1.
Wanneer Paulus uit Korinte terugkeer, skryf hy 'n derde brief aan die gemeente. Hy is bitterlik bedroef wanneer hy hierdie “tranebrief” skryf. Titus word afgevaardig om die brief in Korinte te gaan aflewer. Hopelik sal hierdie brief tóg versoening bring!
En dan besluit Paulus dat dit tyd geword het om te begin aanskuif. Sy idee is om deur Macedonië en Agaje te reis en dan ‘n slag weer in Jerusalem aan te doen. Timoteus en Erastus word afgevaardig om solank vooruit te gaan om te gaan voorbereiding doen vir sy besoek. Dan kan hy rustig hier in Efese dinge afsluit en moontlik ook nog 'n laaste besoekie gaan bring aan al die ander gemeentes in Asië waar hy die afgelope drie jaar gewerk het.
Intussen is dinge in Efese nie baie lekker nie. 'n Sekere silwersmid met die naam Demetrius is nie 'n gelukkige man nie. Sy besigheid is besig om ten gronde te gaan, en dit is alles Paulus se skuld! Hy roep 'n vergadering uit vir al die silwersmede van die omgewing, en hy stel sy saak. Paulus se prediking het gemaak dat mense nou nie meer hulle beeldjies wil koop nie, want hulle is dan kwansuis afgode. Die manne stem saam, hulle voer almal deesdae 'n hongerloon, en dit as gevolg van Paulus se prediking!
Demetrius kry dit reg om die spul góéd op te sweep, en al skreeuende en jillende storm die spul na die amfiteater. Teen hierdie tyd het hulle ook al 'n skare ander mense saamgesleep en nou ontaard dit in 'n volskaalse opstand!
Paulus kom te hore van die opstand en hy is baie bekommerd: “Ek moet met hulle gaan praat!”
“Nee Paulus, as jy dit op die amfiteater gaan waag is jy dood! Moenie gaan nie, asseblief!”
Intussen raak dinge lelik op die amfiteater. 'n Klompie Jode reken dat hulle die spul tot bedaring kan bring: hulle stoot vir Aleksander vorentoe, en hy hou sy hand in die lug om stilte te kry. So amper-amper bedaar die spul, maar wanneer hulle sien dat hy 'n Jood is, skree hulle net al harder: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”
Uiteindelik kry die stadsklerk dit tóg na 'n groot gesukkel reg om die spul tot bedaring te bring: “Kom ons doen die ding op die regte manier. As ons die sakie in die hof uitsorteer, sal daar mos reg geskied.” En so gaan die woedende skare tevrede uitmekaar. Die grap is dat die helfte van hulle nie eers geweet het waaroor die hele ding gegaan het nie!
Moontlik was hierdie vir Paulus 'n teken dat dit tyd geword het vir hom om te groet. Hy laat kom al die gelowiges van Efese bymekaar, en dan praat hy hulle moed in. Dinge gaan nog baie moeiliker raak vorentoe, hierdie opstand het dit gewys! Maar hulle moenie moed verloor nie, hulle moet vasbyt en volhard in die dinge wat hulle geleer is. Na 'n baie emosionele groetery van 'n gemeente wat baie diep in sy hart gekruip het, vertrek Paulus na Masedonië, waar sy “seun” Timoteus reeds op hom wag.
Ons is bekommerd wanneer ons die verskriklike dinge om ons sien gebeur, die korrupsie, haat, opstande. Nou is dit alweer die verskriklike haat wat opgevlam het teen buitelanders en woedende skares met moord in hulle harte! Wees net rustig en vertrou op die Here. Moenie dat die dinge jou onderkry nie!
Gebed:
Here, ek sien dikwels met groot angs die dinge rondom my gebeur. Gee asseblief vir my vrede in my hart hieroor, want U is steeds in beheer!