Lukas 22:7-13
Stel jouself die prentjie voor: Jy stap rustig op Ballito se strand-wandelpaadjie en geniet die vars seelug. Jy dra swaar aan ‘n kleipot wat jy by ‘n straatsmous gekoop het. Skielik sien jy twee wildvreemde mans reguit na jou aangestap kom. Jy skrik as jy sien dat hulle stip na jou kyk terwyl een na jou kleipot beduie, so al asof hulle presies weet wie jy is.
“Nee dankie, ek stel nie belang nie!” protesteer jy al by voorbaat as die twee hier reg voor jou kom staan. Is hulle dalk die een of ander sekte wat jou wil kom indoktrineer met hulle vals boodskap? Jy voel baie ongemaklik!
Die twee kom egter sommer dadelik tot die punt: “Meneer, waar is die plek waar ons vanaand Nagmaal moet vier? Die Meester het ons na jou gestuur.”
Jou mond val onbeheersd oop: “Maar...... maar waar ken julle my vandaan? Julle is totale vreemdelinge vir my! Hoe het julle geweet dat ek ‘n plek het waar mens nagmaal kan vier?” Jou gedagtes is verward! Wie ís hierdie manne? Wat weet hulle van jou af?
Dis waarskynlik hoe die man moes gevoel het wat so trompop deur Petrus en Johannes gevra is vir plek waar hulle die Paasmaaltyd kon gaan eet. Jesus het hulle baie spesifieke opdragte gegee om uit te kyk vir ‘n man wat ‘n kruik dra en toe hulle hom sien, wéét hulle sommer. “Ons Leermeester wil weet waar die kamer is wat ons kan gebruik vanaand, ons wil daar ons Paasmaaltyd gaan eet.” Ek dink dat die kêrel só uit die veld geslaan was, dat hy nie eers probeer teëstribbel het nie! Hy het onmiddellik ingestem en hulle die bovertrek gaan wys.
Die vraag is, wat sou gebeur het as die man geweier het? Dink net aan die katastrofiese gevolge. Alles was presies bestem deur God dat Jesus daardie aand saam met Sy dissipels nagmaal móés vier, want daardie selfde nag nog moes Jesus uitgelewer word. Dit was die enigste en laaste geleentheid wat hulle gehad het en die horlosie van God se raadsplan het die sekondes afgetik.
Ek en jy kry dikwels opdragte van die Here af. My opdrag vanoggend was om hierdie dagstukkie te skryf. Dit het beteken dat ek baie moeite moes doen. Die Bybelgedeelte moes ontleed word en ek moes verwysings lees. Ek moes my woorde noukeurig kies en toe ek klaar was moes ek dit in Engels vertaal en dit behoorlik redigeer. Daarna het die video opname gekom. Dit kom beslis nie maklik nie en ek kon seker maar gesê het: “Is dit ooit die moeite werd? En wat móét ek skryf? Dalk kan ek maar hierdie dagstukkie oorslaan! Niemand sou dit eers agterkom nie!”
Maar toe kom die onbeskryflike bewuswording van die heilige teenwoordigheid van God, en ek het geweet dat ek maar net moes begin skryf want Hy sou die regte woorde in my gedagtes lê. Al wat Hy van my vra is my gewilligheid om Sy opdrag uit te voer. Ek hoef my nie te bekommer oor wie die dagstukkie gaan lees, en wie nie. So dikwels wonder ek oor ‘n sekere dagstukkie, en of daardie boodskap ooit vir enigiemand iets sou beteken, en dan kry ek ‘n boodskappie waarin iemand my bedank omdat sy daardie spesifieke boodskap juis op daardie oomblik so broodnodig gehad het!
Die groot vraag wat ek al dikwels gevra is, is: “Hoe weet ek as die Here met my praat? Hoe weet ek dat Hy besig is om my ‘n opdrag te gee?” Hierdie vraag het nie ‘n maklike antwoord nie. Iemand het eendag vir my gesê dat sy graag die Here se stem hoorbaar wou ervaar. Dit is ongelukkig nie hoe die Here werk nie. Ja, Hy het al hoorbaar met mense gepraat, maar dit was slegs by uiters uitsonderlike gevalle. Die feit is dat die Here op baie verskillende maniere met jou kan praat. Jy sit miskien in die kerk, en dan weet jy net dat hierdie boodskap vandag presies net vir jou is, en dat die Here baie duidelik met jou persoonlik praat deur die prediker. Dit gebeur dat jy besig is met jou daaglikse stiltetyd, en dan skielik is dit asof die woorde uit die Bybel vir jou uitstaan, en jy wéét! Dit kan gebeur dat vriende, of dalk selfs ‘n wildvreemde persoon vir jou iets sê, en dan wéét jy dat hierdie woorde van die Here kom.
Die man wat die kruik gedra het in Jerusalem, het net gewéét dat hy nie die opdrag van die twee vreemde manne durf ignoreer nie, en hy het gedoen wat hulle gevra het. Ek en jy durf ook nie die opdragte wat ons van die Here kry ignoreer nie, al klink hulle soms vir ons baie vreemd, en al kan ons nie altyd die sin daarvan insien nie.
Ons moet net onthou dat die Bybel nie ‘n soort “towerboek” is wat jy kan oopslaan en ‘n opdrag van God kry nie. Dit werk ook nie om die Bybel te begin deurblaai en naarstigtelik te soek vir ‘n boodskap van God af nie. Die antwoord is om naby Hom te leef en net geduldig te wees. Op die mees verrassende tyd en manier praat Hy dikwels met jou, en dan moet jy gereed wees om te luister, te hoor en te doen.
Gebed:
Here, maak my asseblief sensitief sodat ek U stem sal herken wanneer U met my praat, en maak my gewillig om U opdragte blymoedig uit te voer.