Lukas 23:26-32
Dis ‘n grys dag. Die reën sif mistroostig neer en ‘n grys wolkkombers hang laag oor ons huisie. Sulke weer laat ‘n mens baie terneergedruk voel, en dit dra beslis by tot die stemming waarin ek verkeer terwyl ek skryf van die optog na Golgota. Dit was ook ‘n baie grys dag, maar op ‘n héél ander wyse. Die grys kombers was op daardie dag nie wolke nie, maar die sonde van die wêreld wat swaar gehang het oor al die gebeure.
Na Jesus se uitmergelende verhoor, waar Hy letterlik van bakboord na stuurboord gestuur is, en toe boonop nog gegésel is, lei hulle Hom weg na die kopbeenplek om gekruisig te word. Teen hierdie tyd was Jesus al so swak en uitgeput van al die fisiese sowel as geestelike mishandeling, dat Hy net eenvoudig nie meer daardie swaar houtbalk waaraan Hy vasgespyker moes word kon dra nie. Een van die toeskouers word opgekommandeer deur die soldate om dit vir Hom te dra. Dit was tradisie dat die veroordeelde sélf die dwarsbalk van sy kruis moes dra.
Daar is oor die jare al baie gegis en selfs stories geskryf rondom hierdie Simon van Sirene wat Jesus se kruis moes dra. Sirene was ‘n stad in Libië in Noord Afrika, dus kan ons met veiligheid aanneem dat hierdie Simon waarskynlik doodonskuldig op reis was deur Jerusalem. Toevallig (?!) beland hy in die optog waar Jesus na Golgota geneem word, en ‘n soldaat gryp hom. Wat moes in die arme man se kop omgegaan het? Stel jouself in sy plek - hoe sou jy reageer het? Simon het nie ‘n keuse gehad nie - hy móés net eenvoudig deel word van al hierdie gebeure, al was hy waarskynlik nie eers ‘n Jood nie. ‘n Mens sou dink dat hy hierna dadelik sy goedjies sou pak en so gou moontlik terugkom in Sirene, maar blykbaar het dit nie gebeur nie. In Markus 15 word na hom verwys as die pa van Aleksander en Rufes. Dit wil by ons die vermoede laat ontstaan dat hy later ‘n bekende persoon geword het in die gemeente, en dat hierdie deelname wat hy gehad het aan Jesus se kruisiging, so ‘n groot invloed op sy lewe gehad het dat hy gelowig geword het.
Lukas beskryf vir ons dat daar ‘n groot skare mense was wat kom kyk het wat aangaan. Jesus se teregstelling was beslis baie groot nuus! Baie duisende mense het met Hom te doen gehad en het Hom dalk eerstehands leer ken. Nou wil hulle kom kyk wat gebeur. Dit is so ironies dat die mense wat enkele dae tevore nog aan Jesus se lippe gehang het en elke woord van Hom ingedrink het, nou slegs nuuskieriges is, of dalk nog erger, deel van die groot skare wat Hom uitgejou het en saamgeskreeu het: “Kruisig Hom, kruisig Hom!”
Daar was egter ook die vroue wat simpatie gehad het met Jesus en geloop en treur en huil het. Was hulle vroue wat tot ander insigte gekom het? Of was hulle dalk van die vroue wat alreeds lankal besef het wie Jesus werklik was? Lukas sê nie. Wat ons wél in sy verhaal sien, is dat Jesus baie jammer gevoel het vir hierdie vroue. Selfs terwyl Hy in die verskriklikste pyn en nood verkeer het en op pad was na die alleraakligste dood, het Jesus steeds tyd gemaak om met hierdie vroue te praat.
Enkele dae tevore het Jesus triomfantlik die stad Jerusalem binnegery, maar toe voorspel Hy die verskriklike oordeel oor die pragtige stad. Nou is Hy op pad uit die stad uit, en weereens bevestig Hy daardie oordeel. In Sy gesprek met die vroue lê Hy klem op die verskrikking van daardie oordeelsdag. Uit die geskiedenis leer ons dat dit 40 jaar later plaasgevind het, en dat slegs ’n puinhoop oorgebly het van Jerusalem en die pragtige tempel!
Ja, die grys wolkkombers hang steeds oor ons en swaar reën benat die aarde. Baie mistroostig! Maar dan besef ek dat hierdie reën, koue en mistroostigheid vanoggend diep in die grond indring en stikstof en lewe gee vir die plante in my tuin. Dit is bitter nodig want daarsonder sal alles doodgaan.
Op dieselfde wyse het daardie verskriklike neerdrukkende gebeure daardie dag by die kopbeenplek lewe gebring. Die wonderlike reën van God se genade het nie alleen lewe gebring vir die huilende vroue wat Jesus gevolg het nie, maar dit het ook lewe gebring vir Simon van Sirene en die misdadiger wat langs Jesus gekruisig was. Dit het ook lewe gebring vir die splinternuwe kerk wat kort daarna gebore is en dit gee steeds vandag lewe vir jou en my.
“Deur te sien op die kruis, is daar lewe en heil, is daar lewe vir jou en vir my!” So klink die bekende ou hallelujalied. Ja, ons kan dit uitjubel, want Jesus het oorwin! Hy het al die verskriklike aanslae van die duiwel omskep in die grootste triomftog van alle tye. Jerusalem is wél in 70nC verwoes, maar in Openbaring lees ons van die nuwe, wonderlike Jerusalem wat gaan kom, en ek en jy gaan deel hê aan hierdie stad van goud en edelstene!
Gebed:
Here, dankie vir die wonderlike troos wat U vir ons gee deur U Woord. Dankie dat ons kan uitsien na ‘n wonderlike ewige lewe, die lewe wat U Seun Jesus baie duur vir ons gekoop het.