Op Pad na Damaskus

23 April, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Op Pad na Damaskus

Handelinge 5:17-42

Lees ook Hand. 8:1-25 asook Hand. 9:1,2

VIDEO | SPOTIFY

Saul, oftewel Saulus soos hy genoem word in Latyns, is baie tevrede met die teregstelling wat so pas plaasgevind het. Miskien sal dit hierdie mense laat dink en hulle terugruk na hulle Joodse bande. Saul skrik amper vir homself as hy 'n hardheid in hom merk wat nooit voorheen só erg daar was nie. Maar hy skud die gedagte gou af – hy is mos immers besig met die werk van God! Al wat hy doen is om die heilige Naam van God in ere te probeer herstel!

Na Stefanus se teregstelling begin die vervolging in alle erns. Dag-vir-dag loop Saul en sy medewerkers van deur tot deur en sleep enige Jesus-dissipel hardhandig uit en stop hulle in die tronk. Dit is nou 'n kriminele oortreding om 'n volgeling van Jesus te wees.

Saul is fanaties, hierdie ding moet wortel en tak uitgeroei word! Daar het weinig oorgebly van daardie student wat oopmond aan die voete van Gamaliël gesit het om elke stukkie wysheid in te drink. Hy het verander in 'n harde, ongenaakbare, selfs wrede vervolger van die kerk.

Op 'n dag hoor Saul 'n berig wat hom laat uitbars in 'n woedebui. Die Joodse Raad het 'n paar van die leiers van hierdie sekte laat vang en in die tronk gesmyt om die volgende dag verhoor te word. Daardie nag, so vertel die tronkwagte, het daar glo hemelwesens gekom en die manne uit die tronk bevry. Die volgende oggend staan dieselfde manne alweer en preek op die tempelplein!

Saul is woedend, en dit maak dat hy die mense net nóg wreder vervolg. Wanneer Saul se tierade deur Jerusalem weergalm, begin die gelowiges bang raak vir die gevolge. Een-vir-een pak hulle op en vlug uit Jerusalem uit. Die Apostels besluit egter om aan te bly in Jerusalem, want dit is hier waar hulle die nodigste is. Die vlugtelinge spat uitmekaar regoor die hele wêreld. En so ver as wat hulle gaan vertel hulle vir almal wat hulle teëkom die wonderlike blye nuus van Jesus. En so versprei die Evangelie soos 'n onblusbare veldbrand.

Op 'n dag bars Saul uit van die lag, een van die min kere wat hy die afgelope twee jaar die lus gehad het om te lag. Maar hierdie was 'n skreeusnaakse situasie. Hy verneem dat lede van hierdie Jesus-sekte na Samaria toe is, van alle plekke. “Ja, laat hulle maar hulle verfoeilike boodskap gaan verkondig aan die gehate Samaritane! Dis nou om jou pêrels voor die varke te gooi!” Maar terselfdertyd kry Saul 'n knop op die krop van sy maag, want hulle vertel dat talle Samaritane daardie geloof aangeneem het. “Waar gaan dit eindig?” wonder hy.

Nie lank daarna nie, verneem Saul die verskriklike nuus dat daar nou al 'n groot groep van hierdie aanhangers van die Jesus-geloof in die stad Damaskus bymekaar is en dat hulle groep daar aangroei met rasse skrede! “Volgende is dit natuurlik Antiogië, en voor jy weet waar jy is, dan vorder hulle tot in my geboortestad, Tarsus! Ons moet hulle daar gaan afsny voor hulle te ver gaan en naderhand die ganse wêreld besoedel!” tier hy.

Die volgende oggend sit Saul weer by die hoëpriester, en hy deel hom die ontstellende nuus mee. “Daar is baie Israeliete oral versprei in die buiteland,” verduidelik Saul, “en hulle is baie vatbaar vir 'n boodskap soos hierdie een wat die verfoeilike mense versprei. As ons hulle nie nóú in die kiem smoor nie, gaan dit chaos afgee!”

Die hoëpriester stem heelhartig saam en Saul word afgevaardig om 'n sending te onderneem na Damaskus. Al die nodige reis- en bekendstellingsdokumente word verkry, asook toestemming by die owerhede om daar in die provinsie Fenisië die afvalliges te gaan vervolg.

En só vertrek Saul op die reis wat sy ganse lewe sou verander. Onwetend word die wrede, wraaklustige Saul gestuur om 'n afspraak na te kom, 'n afspraak wat die geskiedenis van die wêreld uiteindelik op sy kop sou keer.

Die reis van 216km duur etlike dae, en dit is veral die eerste been van die reis van Jerusalem na Jerigo wat uiters vermoeiend is, want dit gaan oor onherbergsame berge. Maar Saul is jonk, skaars vyf en twintig, en die adrenalien van die vooruitsig om nóg 'n klomp mense tronk toe te sleep, laat hom skoon vergeet van al sy ontberinge.

Uiteindelik sien hy die stad Damaskus in die verte opdoem, en 'n gevoel van tevredenheid sak oor hom toe.

Maar dan gebeur die ding wat hom klokhelder tot met sy dood sal bybly. Maar daaroor gesels ons DV more!

Ons sien uit hierdie gedeelte hoedat die onverbiddelike vervolging juis 'n wonderlike en heilsame effek op die jong kerk gehad het. Hulle moes vlug uit Jerusalem, en dan versprei hulle die evangelie regoor die wêreld. Dit was soos 'n suurdeeg wat al groter rys. Wanneer swaarkry ons vandag tref, het dit gewoonlik ook baie heilsame geestelike waarde. Dit bring ons nader aan die Here, en dikwels het dit juis ook tot gevolg dat dit ons motiveer om met mense daaroor te praat, en sodoende die negatiewe in 'n positiewe energie te omskep. Wees dus dankbaar as dit die dag begin sleg gaan, en maak ten volle gebruik daarvan!

Gebed:

Dankie vir die swaarkry in my lewe, Here. Help my asseblief om dit in die regte lig te sien en dit positief te gebruik tot uitbreiding van U Koninkryk!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026