Lukas 2:1-7
Josef sit nou al weke lank en tob oor die reis wat vir hom en sy brose jong bruidjie, Maria voorlê. Hy is sommer opnuut weer boos as hy net dink aan die reis, want dit is só onnodig! Net weer een van daardie goddelose keiser Augustus se giere, en nou word almal daardeur verontrief!
Nie lank na daardie onvergeetlike nag van die engel se besoek, kry hulle die nuus. Romeinse soldate het Nasaret in 'n stofwolk binnegejaag op hulle perde. Josef het by sy werkswinkel uitgeloer om te sien waaroor al die bohaai gaan. Die aanvoerder pluk 'n perkamentrol uit sy saalsak en rol dit oop. Met 'n verhewe stem bulder hy dit uit dat hierdie 'n bevel is van die hoogheilige Keiser Augustus. Daar sal 'n sensus gehou word. En dan kom die slegte nuus: “Elkeen moet op die bepaalde dag na die geboortedorp van sy voorvader gaan! Dit is 'n bevel!” En toe draai die soldate om en jaag in 'n stofwolk weg na die volgende dorp.
Nasaret se mense het nog vir baie lank daar gestaan en wonder wat presies hierdie bevel van daardie gehate heiden beteken. Dan begin dit stadig deursyfer, dat dit sou beteken dat hulle waarskynlik baie ver sal moet reis. Die manne is woedend! Dit is 'n verskriklike ontwrigting!
Josef kom tot die besef dat hy na Betlehem toe sal moet gaan, want dit is die dorp waar sy voorvader, Dawid gebore is. Hy ken mos die verhaal van Koning Dawid baie goed, van hoe hy 'n skaapwagtertjie was in daardie einste Betlehem se klipperige velde voordat hy uiteindelik koning geword het. Josef was, om die minste te sê, nié gelukkig nie!
Maar die volle waarheid het hom eers daardie aand getref, toe Hy en Maria oor die reis gesels, en sy skielik tot die besef kom dat die volkstelling presies dieselfde tyd val wanneer haar Baba gebore moes word! “Ek sal alleen gaan,” besluit Josef, maar daarvan wil Maria niks weet nie. Sy moet immers óók getel word, en as sy nie daar is nie, is daar moeilikheid. “Ek gaan saam, kom wat wil!”
Terwyl Josef alles gereed kry vir hulle reis, knaag sy senuwees. Hy is bekommerd oor Maria, want sy is alreeds op haar laaste. Die Baba kan nou enige dag kom! Sê nou net die bevalling vind plaas op die pad? Sê nou net! Dit sal ‘n ramp wees!
Hy skud die gedagtes af. Maria is mos ‘n taai meisie! Sy het nog ‘n paar maande gelede alleen by haar Tannie Elisabet in Judea gaan kuier. Sy sál dit maak! Dalk moet hy tóg maar oë toeknyp en die makliker roete deur Samaria neem. Dit sal beslis baie minder vermoeiend wees vir Maria. En daar is baie minder struikrowers. Die pad tussen Jerigo en Jerusalem is hoeka juis berug vir sy skelms wat moeë toeriste inwag en oorrompel! Die blote gedagte dat hy egter deur Samaria met daardie verfoeilike Samaritane in aanraking kan kom, laat hom gril. Géén ordentlike Jood reis deur Samaria nie, tensy dit nou gládnie anders kan nie! Nee wat, hy sal liewer maar saam met die ander klomp die lang pad deur die Jordaanvallei neem. En ten minste reis hulle saam in 'n groot groep, so die struikrowers sal beslis tweekeer dink voordat hulle iemand sou aanval. Hy moet netnie agter raak met Maria nie, want om alleen te reis is moeilikheid soek!
Dit is nog pikdonker toe Josef daardie oggend die swaar-swanger Maria op die donkie tel. Daar heers ‘n gemoedelike stemming onder hulle reisgenote, amper asof hulle op pad is na ‘n fees. Vir die oomblik vergeet hulle wat die ware doel van hulle reis is. Die avontuur van ‘n vyf-dag-lange reis weg van die vervelige ou Nasaret af is genoeg om almal opgewonde te maak. En so vertrek hulle al singende in die vallei af in die rigting van die Jordaanvallei. Al op die ooswal van die Jordaan langs stap hulle, totdag hulle op dag vier die laagste stad op aarde, Jerigo bereik.
Josef kan nie help om weer te dink oor die dag toe God die mure van Jerigo laat intuimel het nie. Tot vandag toe nog is daardie ondeurdringbare mure nóóit herbou nie. Josua het mos destyds gesê dat dié een wat dit durf waag om Jerigo se mure te herbou, vervloek sou wees! Terselfdertyd kan Josef ook nie help om angsbevange na die angswekkende berge te kyk wat agter Jerigo uittroon nie. Daardie berge móét hulle die volgende dag oor om by Betlehem te kom!
Josef se voorvader, Dawid het 'n pragtige lied geskryf: “Die Here is my Herder........ al gaan ek ook deur die dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my.”
Josef moes die betekenis van daardie lied sékerlik hier ervaar het, want daardie einste dal van doodskaduwee het voor hom gelê die volgende dag. En hy en Maria móés daar deur om in Betlehem te kom. Die troos was dat die Here elke tree daarvan by hulle sou wees.
Dieselfde geld vir my vandag wanneer ek deur daardie moeilke tyd moet gaan. Die Here gaan dit nie wegneem nie, maar Hy is elke oomblik saam met my in my moeilikste tyd.
Gebed:
Here, dankie dat U my hand styf vashou, selfs deur die donkerste dal van doodskaduwee.