Op die Sendingveld

31 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Op die Sendingveld

Markus 6:7-13

VIDEO * OUDIO

Dis nog vroeg-oggend, en die manne is opgewonde, want hulle sien sommer aan Jesus se houding dat Hy iets spesiaal beplan vir die dag. Dan wink Hy hulle nader: “Die tyd het aangebreek dat julle nou die dinge wat Ek julle geleer het prakties gaan toepas.”

“Maar Meester, ons het dan nog maar skaars begin met opleiding!”

Hulle probeer nog protesteer, maar Jesus dink anders daaroor. As jy bloot net leer en nie prakties toepas wat jy leer nie, sal jy nooit die taak behoorlik bemeester nie. “Julle gaan vir die mense daar buite vertel dat die Koninkryk van God naby gekom het.”

“O, ons gaan visvang!” Nou gaan daar skielik ‘n liggie op vir Petrus. “Daardie dag toe ek en boetie Andreas deur Jesus geroep is, het Hy gesê dat Hy ons vissers van mense gaan maak. En nou het ons tyd aangebreek!”

“Ek gee vir julle vandag die mag oor bose geeste.”

Die gedagte is amper te groot om te begryp. “Maar dis mos slegs die Meester wat sulke dinge kan doen!” Thomas is baie skepties oor hierdie ding - hoe kan Jesus van hulle verwag om dieselfde as Hy te doen? Maar die bloedjong Johannes se bors swel sommer van trots.

Jesus se verdere instruksies laat die manne egter baie gou besef dat hierdie g’n piekniek is nie! Dit is nie ‘n oggend-uitstappie om gou ‘n bietjie “visvang” te gaan oefen nie. Hulle gaan sommer vir ‘n volle week lank in die pad val. “En al wat julle mag saamvat is ‘n kierie,” verduidelik Jesus.

“Maar Meester, hoe gaan ons oorleef? Ons sal tog séker padkos moet vat, en skoon klere?”

“Nee!” Jesus wil nie bes gee nie. “Géén kos, geld óf klere nie, niks! Slegs die klere aan julle lyf en die skoene aan julle voete!”

Nou verstaan die manne gladnie. Hier word hulle vir ‘n volle week die wildernis ingestuur, en hulle mag nie eers voorsorg tref nie? Maar hoe dan gemaak? Jesus verduidelik dat waar hulle iewers in ‘n dorp kom, daar wél iemand sal wees wat hulle huisvesting sal aanbied. Daar sal vir hulle gesorg word, hulle moet net vertrou!

Die eerste doel van hierdie oefening was dus dat die manne moes leer hoe om waarlik op God te vertrou vir álles. Hulle moes besef dat hulle ten volle afhanklik was van die Here vir hulle hele bestaan. Met géén geld, géén kos en géén blyplek nie, voel ‘n mens totaal hulpeloos. Maar as jy dan besef dat jou hulp nie van mense is nie, maar van God, wat mense gebruik vir Sy Koninkryk, dan begin jy iets leer van afhanklikheid.

Maar daar was ‘n tweede les wat die manne moes leer: om tevrede te wees met dít wat jy ontvang. Jesus se opdrag was, dat wanneer hulle in ‘n dorp sou kom, en iemand bied hulle verblyf aan, moes hulle daar bly vir die hele tydperk.

Dis ‘n vreemde opdrag! As jy egter mooi daaroor dink, dan kom jy agter dat dit dikwels die armoedige mense is wat waarlik gasvry is. As jy dan nou in so ‘n huisie ontvang word, en jou slaapplekkie is maar karig en ongemaklik, dan is die versoeking baie groot as iemand jou beter blyplek aanbied, om dít eerder te aanvaar! In sendingwerk gaan dit nie om selfverryking of gemak nie, maar suiwer om die verkondiging van die Woord. Op hierdie wyse moes die manne leer om hulle eie gemak tweede te stel. Dis iets wat hulle in hulle latere lewe baie nodig sou kry, want daar het uiteindelik vir hulle ‘n harde pad voorgelê!

Dan moes die manne verder verneem dat hulle nie oral welkom sou wees nie. “Maar as 'n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af,” sê Jesus. Nie alleen sou dit ‘n oordeelsaankondiging wees vir diegene wat nie Jesus se Evangelie wou aanvaar nie, maar hiermee moes hulle ook die vernedering vergeet en aangaan met hulle taak.

Kan ons vandag iets leer uit hierdie gedeelte? Verséker is daar vir ons ‘n baie duidelike boodskap. In die eerste plek wil dit vir ons sê dat sending nie maar net ‘n bysaak vir die kerk is nie. Dit is dalk die héél belangrikste rede waarom die kerk bestaan. Die kerk is daar sodat hy na die wêreld uitgestuur kan word.

Die tweede belangrike les wat ons leer, is dat ons nie die sendingtaak op eie krag of alleen op ons eie kan aanpak nie. Dit moet in die eerste plek in volle afhanklikheid van God gebeur, en natúúrlik met God se volmag. En soos wat Jesus hierdie ’n georganiseerde oefening gemaak het, mag sendingwerk nie maar lukraak gedoen word nie, maar dit moet behóórlik georganiseer word.

Wanneer jy sendingwerk doen, gaan jy baie beslis verwerping kry. Maar dan moet jy bloot daarvan vergeet. Moenie dat dit jou onderkry nie. Bly konsentreer op jou taak. Boonop moet jy ook bereid wees om soms ongemak te verduur. Daar mag géén bymotiewe wees van selfverryking of selfsug by iemand wat sendingwerk doen nie. Alles moet gaan oor die Koninkryk van God alléén.

Maar dan moet jy weet, dat as jy jou ten volle in God se hande plaas, en in afhanklikheid van Hom die taak verrig, dan sál Hy jou die krag en wysheid gee om jou sendingtaak uit te voer soos Hy dit graag wil hê. Die twaalf manne het dit ervaar, en jy sal dit ook so ervaar!

Gebed:

Here, my gebed gaan vandag uit vir elkeen wat in die sendingveld is, mense wat baie prysgegee het om te werk in U Koninkryk. Ek bid dat U seën ryklik op elkeen sal rus, en dat hulle die nodige krag en wysheid sal kry vir hulle reuse taak.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026