Op die Rooi Tapyt

10 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Op die Rooi Tapyt

Ester 5 en 6

Video

Audio

Ook Ester sonder haarself af, en met vas en gebed berei sy haarself voor vir die belangrikste afspraak van haar lewe. Tot dusver was haar lewe as koningin van die magtige Persiese Ryk een groot fees. Almal is gaande oor haar, en al daardie aandag is heerlik. Maar skielik besef sy dat die wittebrood verby is. Die Here God het haar met ‘n doel hier geplaas, en dit is nie noodwendig sodat sy ‘n koninklike lewe moet hê nie. Met ‘n skok besef sy dat die taak wat die Here vir haar gegee het, hééltemal te groot is vir haarself om te hanteer. “Here, God van Israel, hoe kan ek, eenvoudige meisie, ‘n hele volk van uitwissing red? Die koning kan my doodmaak as ek ongevraagd by hom opdaag!”

Ester huil drie nagte om. Maar dan kry sy die antwoord. Wanneer sy die derde dag baie vroeg opstaan, weet sy presies wat haar te doen staan. Sy roep haar kamerpersoneel bymekaar: “Kom, ons moet dadelik aan die werk spring. Julle moet my mooier grimeer as wat julle dit nog ooit gedoen het. En kry my koninklike klere reg, ek moet vandag die koning gaan sien.”

“U kan dit nie doen nie Majesteit! U is mos nie uitgenooi nie. Die wet sê baie duidelik.......”

“Toemaar, die Here, my God sal my beskerm. Hy is die Een wat my na Ahasveros toe stuur.”

Die voorbereiding vir haar besoek aan Ahasveros voel vir Ester na ‘n ewigheid. Alles moet perfek wees wanneer sy daar voor hom gaan staan.

Ester bid baie hard wanneer sy die gang afstap na die ontvangssaal van die koning. Sy sweef die voorhof na die saal binne, en dan lyk Ester asemrowend. Al die koppe draai na haar. Haar knieë wil onder haar knak en sy wil eerder omdraai en weghardloop. Maar dan kom daar ‘n heerlike kalmte oor haar wanneer sy voor die koning gaan staan, fier en regop en met haar ken hoog en vol selfvertroue.

Wanneer Ahasveros nors sy oë lig om te sien wie hom nou so ongevraagd steur, word sy knieë lam, maar nie van vrees nie - van pure bekoring. Hy het al vergeet hoe beeldskoon Ester is. Hy steek sy septer na haar uit om haar binne te nooi. “Wat kan ek vir jou doen Koningin Ester? Vra net wat jy wil, al is dit ook die helfte van my koninkryk - ek sal dit vir jou gee!”

‘n Paar jaar tevore het Koningin Vasti die koning se gesag uitgedaag toe sy ontbied is en sy geweier het om te kom. Sy moes ‘n duur prys daarvoor betaal. Nou daag Ester óók die koning se gesag uit deur ongenooid na hom te gaan. Hierdie kragmeting wen Ester egter met haar skoonheid en bekoring.

Ons kom ook soms nes Ester in ‘n situasie waar iets wonderlik met ons gebeur. Dan haal ons maar die skouers op: “Die geluk was aan my kant!” Ester moes egter besef dat sy met ‘n baie bepaalde doel in die posisie as koningin geplaas is ter wille van ander mense, en dat sy haar posisie moes gebruik en diensbaar wees. So verwag die Here ook van my en jou om dit wat Hy ons gee te gebruik vir die doel waarvoor Hy dit vir ons gegee het.

Met die eerste rondte in haar sak, dryf Ester nou die spel na die volgende vlak. Die koning se bene het jellie geword - hy is soos klei in haar hande! Maar nou moet sy eers ook vir Haman makmaak voordat sy haar troefkaart kan speel. Ester nooi die koning en Haman uit vir ‘n ete. Nou is Ester in volkome beheer van die situasie, en die twee manne eet letterlik uit haar hand. Haar sjarme oorweldig hulle. Die wyn vloei en die koning raak al meer vrygewig. Vir ’n tweede keer sê hy vir Ester dat sy maar kan vra net wat sy wil. En dan is sy gereed om die finale slag te slaan. Sy nooi weereens die koning en Haman uit vir ’n volgende maaltyd wat sy sal voorberei spesiaal vir hulle die volgende dag. Sy wag haar tyd geduldig af.

Die uitnodiging vir ‘n tweede maaltyd aan Ahasveros en Haman, vlei Haman totaal. Hy is in die wolke, want hieruit kan net goeie dinge kom. Opgeruimd en vrolik stap hy die paleis uit na sy huis. Maar dan sien hy weer vir Mordegai raak waar hy in die poort sit. Skielik is Haman bitter omgekrap, want weereens weier Mordegai om aan hom eer te bewys. Hy sal iets met Mordegai móét doen!

Met ‘n swart wolk wat oor sy kop hang, stap Haman die huis binne. Maar dan onthou hy weer van Ester en die koning en die ete afspraak die volgende dag. “Hier word iets baie groot vir my beplan!”

Daardie aand hou hy en sy vriende partytjie. Propvol van homself spog hy oor alles wat hy in die lewe bereik. “En dis nie al nie, Koningin Ester het my en die koning genooi vir ‘n spesiale maaltyd. Hy gaan my nog verder vereer!”

Maar dan sak die swart wolk weer oor Haman se kop. “Wat makeer ou man?” wil vroulief Seres weet.

“Dis Mordegai!” brom hy, “daardie Jood vergal my lewe!”

“Maar dis mos maklik,” lag sy vriende, “raak ontslae van hom!”

“’n Galg,” besluit Haman, “’n drie en twintig meter hoë galg! Dan kan die hele stad hom daar hoog in die lug sien hang! Eerste ding môreoggend gaan ons vir Mordegai sy galg bou en hom hang. Dan kan ek my maaltyd saam met Ester geniet!”

Gebed:

Here, leer my om waarlik U liefde uit te leef en geen haatgedagtes in my om te dra nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026