Kolossense 3:5-17
In vandag se gedeelte praat Paulus baie hard met die gemeente in Kolosse. Daar is dinge in hulle lewens wat oud en vervalle is en dit moet oorgemaak word, nuutgemaak word.
Kom ek verduidelik. Ek woon op 'n plaas sowat 25km van Ballito af. Die opset is 'n ou kampong wat dateer uit die dae toe die Huletts organisasie reuse suikerplase besit het. Hier staan sowat dertig huisies wat veertig jaar gelede bewoon was deur die werkers. Vandag is hulle almal vervalle en totaal onbewoonbaar. Sommige se vensters is stukkend en ander het selfs nie eers meer dakplate op nie. Die natuur het oorgeneem en bossies groei welig rondom en selfs binne-in die huisies.
Die eienaar het begin om sommige van hierdie huisies te herstel. Daar is nuwe dakke opgesit, badkamers en kombuise is oorgebou. Hulle is pragtig uitgeverf en daar is tuingemaak sodat hulle weer nuttig en bewoonbaar kan wees.
Paulus beskryf in hierdie gedeelte hoe sommige van die Kolossense weer vernuwe moet word. Daar is 'n groot klomp “bossies” en hulle lewensgeboue dikwels vervalle. Hulle moet letterlik gestroop word van die lelike dinge. Hy noem 'n klomp vieslike goed soos onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, gierigheid en selfs afgodediens!
As ons na hierdie sondes kyk, is daar een groot element wat oorheers: selfbelang! Al hierdie dinge is op jouself gerig. Jy is dus die héél belangrikste persoon in jou eie lewe. Alles wentel nét om jouself! Dis veral die seksuele sondes wat uitstaan, waar jou eie drange bevredig word.
Maar dit gaan verder, want nou begin Paulus te raak aan probleme op ons interpersoonlike verhoudings. Weereens is selfgesentreerdheid die hoof element in hierdie probleme. Hy noem toorn, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, leuens en vuil taal. Jy moet dus nie dinge sê wat ander mense ongemaklik laat voel of iemand mislei nie. Dan is daar een wat vandag 'n groot vloekwoord geword het: rassisme! Paulus verduidelik dat ons nie onderskeid mag tref tussen verskillende rasse, nasionaliteite of kulture nie. Dis verkeerd!
Paulus vra dat ons van al daardie goed moet ontslae raak en dit vervang met iets totaal anders. Gelowiges is immers God se nuwe uitverkore volk! Hy noem ons “heiliges en geliefdes!” Hierdie is drie ontsaglike sterk woorde!
Dink 'n bietjie daaroor na. Ons is uitverkore! Israel was destyds die uitverkore volk, maar nou is dit ons, die gelowiges. Dit beteken dat God ons Koning is en dat ons dus aan Hom moet gehoorsaam wees. Boonop staan ons in 'n unieke verhouding tot God op grond van Sy genadige goedheid. Dit is immers God wat ons gekies het en nie ons wat Hóm gekies het nie.
Omdat ons uitverkore, heilig en geliefd is, moet ons lewens totaal anders lyk. Daardie ou vuil, verwaarloosde “rietkappershuisie” van ons moet nuutgemaak word en die groot kenmerk van selfgesentreerdheid moet vervang word met Christusgesentreerdheid wat veral gerig is op ons medemens. So noem Paulus eienskappe soos innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld, verdraagsaamheid en vergifnis. “Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe.” (v. 13) Sjoe! Dis sommer 'n hele mondvol!
Nou is volksgrense en kultuurverskille nie meer belangrik nie en dit maak nie saak of iemand 'n Griek, Jood of selfs 'n barbaar is nie. Paulus praat hier van Skittiërs. Hulle was 'n volk wat die toonbeeld van onbeskaafdheid was. Ons moet by al hierdie dinge verbykyk en slegs kinders van God raaksien.
Paulus som al hierdie eienskappe op met een enkele klein woordjie: liefde. Klein inderdaad, maar hierdie woordjie het 'n reuse betekenis! Alles begin met God se onmeetlike liefde vir ons. Nou moet ons hierdie liefde teenoor ander uitleef. Liefde gaan nie alleen oor die lojaliteit teenoor ander mense en die verpligting om jou verantwoordelikheid teenoor hulle tot die einde na te kom nie. Dit behels veel meer. In vers 14 word dit voorgehou as die band van volmaaktheid wat medegelowiges onlosmaaklik saambind. Gelowiges is in werklikheid verplig om vir mekaar om te gee en mekaar se sake op die hart te dra.
Liefde is dus nie maar net 'n gevoel nie, dit is véél meer. Dit is om waarlik om te gee op 'n praktiese, konkrete manier. Om dus vir iemand te sê: “Ek voel só jammer vir jou!” as die persoon honger is, beteken eintlik niks. Deur hom iets te gee om te eet, is om liefde uit te leef. Jesus het liefde prakties uitgeleef tydens Sy bediening. Hy het uit Sy pad gegaan om mense te help op verskeie maniere, ten spyte van dikwels baie teenkanting. Hy het ook géén onderskeid getref tussen mense nie. Sodoende het Hy dan ook vir ons 'n voorbeeld kom stel van hoe dit gedoen moet word. Kom ons volg Sy voorbeeld na!
Gebed:
Here, daar is nog so baie dinge in my lewe wat nie reg is nie. Dikwels is ek nog selfgesentreerd en liefdeloos. Help my asseblief om waarlik heilig te lewe en liefde op 'n praktiese manier uit te leef.