Ontmoeting by Jabbokdrif

22 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ontmoeting by Jabbokdrif

Genesis 32:1-32

Na Laban se afskeid kon Jakob met ‘n geruste hart voortgaan met sy trek na die beloofde land. Die eerste groot struikelblok is verby. Maar in Jakob se agterkop begin ‘n nuwe vrees te broei: Esau! Wat gaan sy broer se reaksie wees wanneer hy hom sien? Inderdaad het daar reeds twintig jaar verbygegaan, maar soos wat hy vir Esau ken, is die kêrel nog steeds woedend oor Jakob hom so lelik ‘n rat voor die oë gedraai het.

n Week het verby gegaan, ‘n week van duisende pote wat die woestynstof tot poeier trap en ‘n verstikkende stofwolk laat opslaan. Die week het ‘n maand, twee maande geword. Kanaän is ‘n duisend kilometer ver, en om dit met so ‘n groot trop vee aan te durf is g'n grap nie.

Na maande se tent opslaan en afbreek, tot vervelens toe, is die beloofde land uiteindelik in sig. Wat wag daar op Jakob, bedrieër, hakskeengryper? Sy naam vertel klaar van al die geraamtes van die verlede wat hy saamsleep. Hy kan mos nie hierdie beloofde land binnegaan soos wat hy dit twintig jaar gelede verlaat het nie?

Een oggend, so vlak by die noordelike grens van die beloofde land, gebeur daar iets wat Jakob nooit sou vergeet nie. Skielik uit die bloute verskyn daar ‘n hele leër van manne voor hom. Eers skrik hy hom boeglam, maar dan herken hy hulle as dieselfde engele wat hy daardie nag by Bet-El in die droom gesien het. En dan wéét Jakob: die Here is steeds met hom! Hy het selfs Sy engelemag gestuur om by Jakob te wees. Daardie engele herinner hom aan die belofte wat God aan hom gemaak het by Bet-El, dat Hy altyd by hom sal wees.

Dit is tog snaaks dat ‘n mens die een oomblik die wonderlike nabyheid van God kan ervaar en weet dat Hy hier reg by jou is, en net die volgende oomblik pak vrees jou weer, en jy vergeet skoon van die Here se sorg en nabyheid. En dit is presies wat met Jakob gebeur. Skaars het hy hierdie wonderlike ervaring van die versterking van die engele, of hy begin te stres oor wat vir hom voorlê. Esau, wat gaan Esau maak? ‘n Ontsettende vrees pak Jakob. Wat kan hy doen om te verhoed dat Esau hom kom doodmaak? Esau het immers destyds gesweer dat hy vir Jakob gaan vermorsel!

Jakob stuur ‘n afvaardiging vooruit om Esau sag te maak en hom geskenke te beloof. Maar dan kom die ontstellende nuus: Esau het reeds gehoor dat sy gehate broertjie op pad is, en sy soldate is alreeds op pad hierheen. Angs omklem Jakob se hart. Het die Here ‘n fout gemaak om hom terug te stuur na sy geboorteland? Hy maak allerhande soorte plannetjies om tog net Esau se aanslag te kan oorleef.

Jakob is desperaat: “Here, God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, U wat vir my gesê het om terug te gaan na my land ......” Jakob vertel vir die Here dat hy niks verdien het van alles wat die Here hom gegee het nie. Dat hy Haran binne is met net ‘n kierie in sy hand, en nou is hy ‘n skatryk man. Alles wat hy het is net genade. En hy vertel vir die Here van hoe verskriklik bang hy is, en dat die Here dan beloof het dat Hy vir hom ‘n groot nageslag sou gee, en hier gaan Esau nou vir hom én sy nageslag platvee met die aarde.

En dan weet Jakob wat hy moet doen. Hy stuur ‘n groot geskenk van 220 skape en bokke, ’n trop kamele en donkies vooruit na Esau, en laat weet hom dat hy jammer is oor destyds en dat hy in vrede kom. Daardie nag pak Jakob kamp op en stuur sy twee vrouens en sy kinders vooruit deur die Jabbokspruit, terwyl hy self nog ‘n rukkie agterbly. Wanneer Jakob egter die drif wil deursteek, staan daar skielik ‘n Man voor hom wat hom keer. Jakob kan nie verstaan nie: hy is tog ‘n man van vrede. Waarom is hierdie Man dan so dreigend? As Jakob wil deurgaan, pak die Man hom. ‘n Hewige stoeigeveg breek los. Jakob, wat ‘n sterk man is, kan net eenvoudig nie die oorhand kry nie, en die Man wil hom nie los nie. Die geveg duur voort tot die dag begin breek.

Wat is jou naam?” wil die Man weet. “Jakob!” sê hy. “Jy kry nou ’n nuwe naam: Israel!” Dan slaan die Man vir Jakob op die heup sodat dit uit sy potjie spring. Intense pyn skiet deur Jakob se liggaam. Die Man verdwyn maar nie eers voordat Hy vir Jakob geseën het nie. En dan dring die besef tot Jakob deur dat dit God was met wie hy gestoei het.

Die óú Jakob, die hakskeengryper, onderduimse bedrieër moes eers verander en ‘n nuwe naam kry, ’n nuwe mens word voordat hy die beloofde land kon binnegaan. Slegs God kan hom so verander.

Ek en jy moet vandag ook baie deeglik besef dat ons slegs die hemelpoorte kan binnegaan as ons deur God nuutgemaak is. Slegs Hy kan dit doen! Al ons eie pogings is vrugteloos. Dikwels is hierdie nuutmakingsproses ‘n pynlike een, want ons ou lewe moet herskep word om nuut te kan word. En soos Jakob met sy mank been gedurig herinner is aan daardie dag, is daar soms ook tekens wat ons herinner aan die dag toe ons nuutgemaak is.

Gebed:

Here, ek dank U vir die dag toe U my nuutgemaak het. Dankie dat U my ook gedurig herinner aan die wonderlike gebeurtenis.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026