Markus 2:18-22
As sy by die deur instap, sien ek sommer: hierdie vrou gaan deur baie diep waters. Haar gesig wys dit; haar skouertjies hang; haar hele liggaamshouding wys dit. Sy sug swaar, en dan kyk sy my aan met oë wat sê: “Dis bitter, bitter swaar! Ek is diep beswaard…..” - sulke regte Genis-oë wanneer iemand alweer op sy liddoring getrap het.
Dan maak ek die groot fout, en ek vra: “Wat makeer?”
Sy gee ‘n swaar sug, en toe pak sy af: “Ek vas! Ek vas in sak en as!”
Ek wil myself skop dat ek haar gevra het wat fout is, want ek ken haar en ek weet dat hier alweer ‘n lang storie kom! Haar man is ‘n rowwe myner, en hy gee haar ‘n harde tyd.
Sy sug weer lank en swaar, en dan begin sy vertel dat sy rou oor haar sondes. En sy rou veral oor haar man se sondes! Maar sy het tot die besef gekom dat dit darem nou nie genoeg was om maar net te vas nie, want haar man se sondes is hééltemal te groot vir net ‘n eenvoudige vas. Toe gaan koop sy vir haar ‘n goiingsak by die Koöperasie en sy sny gate in vir haar kop en arms en sy trek hierdie growwe affêre aan en gaan sit plat op die grond in haar agterplaas. Sy strooi as oor haar pragtige hare, sodat die grys slierte oor haar gesiggie loop waar die as met haar trane meng.
Die vrou bars in ’n stortvloed trane uit. Sy voel bitter jammer vir haarself, en ek voel baie ongemaklik!
Ek het baie jare gelede in ‘n Christelike boekwinkel in Welkom gewerk. Die vrou was een van my baie gereelde besoekers wat slegs ingekom het om te gesels en hulle sorge af te pak.
Nou sal jy seker dink dat ek die vraag gaan vra, of dit dan verkeerd is om te vas? Nee, ek gaan níé díé vraag vra óf beantwoord nie! Wat ek wél wil beklemtoon, is dat as jy wil vas, moet jy baie deeglik besin oor hoe en wanneer jy dit wil doen. Boonop moet jy goed besin oor die ware doel van jou vas.
Markus skryf dat dit weer een van die gereelde Joodse vastye was, en baie Jode het hulle streng daarby gehou. Dit was ‘n baie belangrike gebruik deur die Jode. Die Fariseërs was natuurlik die voorbokke op hierdie gebied, en hulle het gereeld elke Maandag en Donderdag gevas.
Die vraag is, waarom het die Jode gevas? Die doel was tweeledig, eerstens as ‘n teken van rou wanneer iemand ‘n groot verlies gely het, soos byvoorbeeld die dood van ‘n geliefde. Haar vas het aan die wêreld gewys hoe baie sy daardie persoon gemis het.
Vas was verder ook gebruik as ‘n teken van selfverloëning, om te wys dat die persoon waarlik berou gehad het oor sy sondes. En as hy die rou werklik wou beklemtoon, het hy boonop nog in sak en as gaan sit sodat álmal kon weet dat hy deur diep, diep waters gegaan het!
Markus vertel egter dat Jesus se dissipels nie gevas het terwyl al die ander hulle lang gesigte opgesit het nie. Selfs Johannes die Doper se dissipels was besig om te vas, maar Jesus se volgelinge het hulle nie daaraan gesteur nie.
Die manne was warm onder die boordjie: “Dis nie regverdig nie! Waarom moet ons rou en swaarkry terwyl daardie dissipels aangaan asof niks verkeerd is nie? Hulle behoort óók te vas!”
Jesus se antwoord was, dat die gaste by ‘n bruilof mos nie vas nie? Dit sou verregaande wees! By ‘n bruilof is alles mos vrolik, want almal is bly en opgewonde oor die huwelikspaar se geluk. Die persoon wat by ‘n bruilof vas, het ‘n baie groot probleem!
Wat het Jesus hiermee bedoel? Hy wou dit beklemtoon dat daar ‘n ingrypende verskil is tussen die tyd vóór Sy koms en ná Sy koms. Hulle kon nie maar voortploeter soos voorheen nie! Sy koms het die begin van die eindtyd ingelui, wanneer die Bruidegom (Jesus) vir altyd by die mens sou wees. Later sou óók die Heilige Gees binne élke gelowige wees, en nie net in ‘n paar uitgesoekte leiers nie.
Watse verskil behoort dit te maak? Sekerlik een van die belangrikste kenmerke van die eindtyd is die uitbundige vreugde wat in elke gelowige behoort te wees. Dit sou dus onvanpas wees om aan die ou praktyke van rou te probeer vasklou. Rou laat beslis nie vreugde toe nie!
Inderdaad sou daar ‘n baie kort tydperk van rou, droefheid en vas wees, toe Jesus die dag gekruisig was. Dit was egter van korte duur, en vandag kan ons jubel in die feit dat Jesus nie aan die kruis bly hang het of in die graf gebly het nie. Hy het wáárlik opgestaan! Nou is Hy saam met ons, soos Hy belowe het in Matteus 28 tydens Sy hemelvaart!
Nou vra jy dalk wéér vir my: “Maar is dit dan verkeerd om te vas?” Nee, sekerlik nie! Maar dan moet jy egter baie versigtig wees om nie te vas sodat ander kan sien hoe swaar jy ly nie. Vas in jou binnekamer sonder dat iemand anders daarvan weet. Dit is ‘n saak tussen jou en God alleen. En wanneer jy daar uitkom, dan behoort die vreugde wat alleen Jesus kan gee, jou hele gemoed, wese én gesig te vul.
Daar is egter ‘n ernstige waarskuwing: Dit is ‘n uiters gevaarlike praktyk om te vas om God in ‘n sekere rigting te probeer dwing. Ek kan en mag nie vir God voorskryf hoe Hy moet handel nie! Ja, ek kan Hom in gebed vra om iets te doen, maar dan moet ek my berus by Sy besluit.
Ja, jy mag maar vas! Maar dis baie beter om eerder in ‘n loflied uit te borrel: “Dit borrel in my, want ek is so bly - Jesus het my lief!”
Gebed:
Dankie Jesus, dat dit borrel in my lewe, dat U, die Bruidegom hier is! Daarom kan ek nie stilbly nie - ek moet net eenvoudig my vreugde uitjuig en -jubel!