Jakobus 1:19-27
Het jy al ooit die moeite gedoen om maar net te gaan sit en luister? Eintlik is dit 'n baie moeilike ding om te doen. Toe ek dit die eerste keer probeer het, het ek na minder as 'n minuut tou opgegooi, want ek het dan absoluut niks gehoor nie! Daar was net mooi niks om na te luister nie! Die aanbieder het langs ‘n asemrowende woud in die pragtige dorpie Eshowe, vir ‘n groep van ons gesê dat ons nie hard genoeg probeer luister nie. Ons moes vir minstens vyf minute doodstil sit, met ons oë styf toe en elke moontlike geluidjie indrink.
Na ‘n ruk se doodse stilte het ek uiteindelik die sagte geritsel van die windjie deur die bome se blare begin waarneem, toe 'n voëltjie wat iewers daar buite tjirp. Verweg kon ek die klokhelder laggie van kindertjies wat iewers speel, hoor. Hierdie dinge het ek só as vanselfsprekend aanvaar, dat ek hulle nog nooit “gehoor” het nie!
Ons is geneig om só vasgevang te wees in ons probleme of doen en late dat ons verleer hoe om waarlik te luister. Ek is sélf hiervan ‘n uitstekende voorbeeld, en dikwels is ek in die moeilikheid omdat ek alweer nie geluister het as my arme, moedelose Mosbolletjie vir my iets sê nie, want my gedagtes was elders!
Waarom sukkel ons so om te kan luister? Een rede is moontlik omdat ons self te veel wil praat. My eie opinie is baie belangriker as my gespreksgenoot s’n. Ek was al dikwels baie gefrustreerd wanneer iemand ‘n staaltjie vertel wat my herinner aan iets soortgelyk wat ek beleef het. Wanneer ek dan my eie storie wil vertel, dan voel dit asof die ander persoon so vasgevang is in sy eie storie, dat hy myne gladnie eers hoor nie.
Is ons nie maar almal skuldig daaraan dat ons eerder wil praat as om te luister nie? Ek brand só om my eie storie te vertel, dat ek nie die ander persoon se nood kan hoor nie. Ek is só kwaad vir die persoon wat my tená gekom het, dat ek hom nie ‘n kans wil gee om sy kant te stel nie. Erger nog, ek hoor nie eers wanneer hy sê hy is jammer nie!
Dieselfde geld wanneer ek met God praat in my gebed. Ek rammel my inkopielys af terwyl ek babbel en vra vir dit en dat en nogwat. My gebedslewe draai dikwels slegs rondom my eie behoeftes! Selfs as ek vir my land, my gemeente en my gesin bid, is dit dikwels selfsugtig, en deur die hele gebed weerklink die woorde, “Gee, gee, gee ….. asseblieftog!”
Gebed is ’n gesprek met God, eintlik ’n TWEEGESPREK! In my gesprek met God moet ek bereid wees om ook te kan luister en soms net stil wees om God se stem te hoor. Toe Elia moedeloos gevlug het voor die wraak van Isebel na die berg Horeb, het hy God ervaar in die sagte fluistering van die aandluggie (1 Kon 19). Hierdie profeet het gepreek en mense moes na hom luister. Nou moes hy leer om net na God se sagte fluisterstem te luister.
Dalk is die een groot probleem met gebed, dat ons gans te haastig is om ons gebed afgehandel te kry, gou ‘n paar goed te vra en dan weer verder te jaag met ons lewens. Het jy al ooit die moeite gedoen om waarlik stil te gaan word voor die Here? Vir hoe lank kan jy aanhou bid? Vir die meeste gelowiges is 5 minute in gebed gans te lank. Dit voel waarlik soos ‘n ewigheid! Ons moet eintlik leer hoe om waarlik met God te kan gesels.
Maar hoe doen ek dit?
Gebruik hulpmiddels wat jou gedagtegang rig. By Jerigo Mure se webwerf http://www.jwipn.com is daar gebedsgidse beskikbaar wat help om jou gedagtes te fokus. Wanneer jy so ‘n gebedsgids gebruik, leer jy om nie alleen voor God stil te word nie, maar ook om intens na Hom te luister. As jy daar uitgekom het, het Gebed vir jou ‘n ware tweegesprek met God geword.
Dieselfde geld natuurlik ook wanneer ek die Bybel lees. Om maar net vinnig ‘n stukkie uit die Woord te lees, help niks, veral as ek dit doen om my gewete te sus! Dit is, om die waarheid te sê, dis-respekvol teenoor die Woord van God, want dan word die Woord vir iets totaal anders gebruik as waarvoor dit bedoel is. Om waarlik met die Woord te kan omgaan, moet jy eers stil raak voor die Here sodat jy jou hart kan instel om God se Woord te ontvang. Jy moet as’t ware jou geestes-ore instel om te kan hoor wat God vir jou uit die Woord wil sê. En dan moet jy werklik met ‘n oop gemoed lees. Vra jouself die vraag: Watter opdrag kry ek uit die gedeelte wat ek gelees het? Daar sal natuurlik nie elke keer ‘n opdrag wees nie. Volgende kan jy jouself vra: Watter waarskuwings is daar vir my in die gedeelte opgesluit? En dan weer: Watter beloftes gee die Here my uit die Skrifgedeelte?
Dikwels wil jy te diep delf om agter die kap van die byl te kom. Daar is absoluut niks daarmee verkeerd om kommentare te gebruik om presies te kan verstaan wat daar bedoel word nie, maar soms is dit goed dat jy maar net die Woord indrink en jou gemoed oopmaak sodat jy God se stem daaruit kan hoor.
Gebed:
Here, maak dit asseblief stil in my hart dat ek U stem kan hoor in my lewe.