Om ‘n Skip te Bou

27 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om ‘n Skip te Bou

Genesis 6:14-22

Noag het ‘n groot knop op sy maag. Die blote gedagte aan ‘n skip maak hom siek van bekommernis. Waar begin mens as jy ‘n skip wil bou? Hy het nog nooit in sy lewe eers ‘n skip gesien nie! Hoe lyk so ‘n ding?

Noag, moenie bekommerd wees nie, Ek gaan nou vir jou mooi verduidelik presies wat jy moet doen.”

Noag is sommer opgewonde as hy die stem van God hoor. “Dankie Here” prewel hy, en dan luister hy aandagtig.

Noag, gaan soek vir jou ‘n mooi oop, gelyk stuk grond sowat 200 meter by 100 meter. Maak dit mooi skoon want daar gaan jy jou skip bou.” Noag maak soos God beveel, en dan kom die volgende opdrag: hy moet ‘n groot hoeveelheid goferhout bymekaarmaak. Dit gaan die boustof wees vir sy skip. Hy moet ook pik in die hande kry, sommer baie, want dit is wat die skip waterdig moet maak sodat dit nie lek nie.

Vir maande en maande werk Noag om genoeg boumateriaal vir sy skip in die hande te kry. Die boomstamme word gekap en gevorm met primitiewe ystergereedskap om planke te vorm. Onverpoosd werk hy en sy drie seuns totdat daar ‘n berg planke lê.

Nuuskierig kom kyk al wat leef en beef wat Noag daar doen. Daar word bespiegel en gegis en gelag, maar niemand bied aan om te help nie, waarmee die ou man ookal besig is.

Na wat voel soos ‘n ewigheid, is daar uiteindelik genoeg boumateriaal om ‘n baie groot skip te bou. Dan roep die Here een oggend vroeg vir Noag: “Nou moet jy mooi luister,” sê die Here vir hom. “Die skip wat jy gaan bou moet 135 meter lank wees en hy moet 22,5 meter breed wees. Gaan tree dit af op die grond wat jy voorberei het.”

Noukeurig merk Noag die afmetings op die grond. As hy sien hoe groot dit is, rek sy oë eintlik van skrik. Nou begin hy verstaan waarom hy so ‘n verskriklike stapel planke moes voorberei. “En Noag, die skip moet 13,5 meter hoog wees. En dit moet ‘n dak ook hê, want as dit eers begin reën, gaan die sluise van die hemel oop wees. Sonder ‘n dak gaan jou skip vol reën, en dan sink julle.”

Noag begin bou. Eers begin die reuse raamwerk. Die skip se kiel is een en ‘n halwe rugbyvelde lank (nou nie dat Noag iets van Rugby af geweet het nie). Daaraan word die reuse ribbebene van die skip geheg. Stadig begin dit vorm aanneem, en begin die toeskouers al meer en meer word.

Noag, wat is die doel van hierdie verskriklike gevaarte wat jy bou?” wil iemand eendag weet. Gaan dit jou nuwe paleis wees?

Noag is half verbouereerd. Hy het hierdie vraag gevrees, want hoe verduidelik hy nou dat dit ‘n skip is wat op die water moet seil? Hulle gaan hom mos uitlag!

Dis ‘n ark!”

Nou wat maak mens met ‘n ark?” Nou is die gepeupel éérs nuuskierig!

Dit dryf op die water.”

Water? Wat jy waar kry?” Die kêrel rol op die grond rond soos hy lag. Ja, dan is dit tóg waar wat hy vermoed het, die ou man het nou hééltemal siniel geraak. Wat kan jy ook anders verwag van ‘n seshonderdjarige ou man?

Nie lank nie of ‘n skare van laggende, spottende mense dans om Noag en sy skip rond. “Ou Noag se skip in die middel van die woestyn gaan beslis die grootste wit olifant wees in die geskiedenis van die mensdom!” koggel hulle hom uit.

Daardie aand is Noag se drie seuns baie stil. “Wat is fout?” wil hy weet.

Pa, ons kan nie so aangaan nie, almal dink ons is koekoes! Dink Pa werklik dat hier genoeg water gaan kom dat hierdie ding gaan dryf?”

As God so sê, wie is ons om te stry?” is Noag se besliste antwoord. “Môre gaan die werk voort soos gewoonlik!”

Maande gaan verby en die reuse skip begin stadig vorm aanneem. Noag kry verdere instruksies: binne in hierdie skip moet daar drie verdiepings wees, en dit moet verder verdeel word in verskillende vertrekke. Dit is sodat daar genoeg plek moet wees vir al die diere. En soos die bouwerk vorder raak die gespot meer intens, totdat dit naderhand ondraaglik word. Van heinde en verre kom mense om na hierdie spektakel te kom kyk.

Uiteindelik, na ‘n baie lang tyd is die skip klaar gebou. Tot die fynste detail het Noag dit gebou volgens God se instruksies. Dit het baie kruike pik gevat om elke krakie in die skip van binne en buite te seël. Aan die een kant was daar ‘n deur, groot genoeg om ‘n olifant deur te laat. Trots staan Noag terug om sy handewerk te bewonder, te midde van die gekoggel en gespot. “Ja, spot maar,” brom hy onderlangs, “julle sal nog sien!”

Soms wil ons ook moed verloor as ons magteloos staan om ons geloof uit te leef te midde van die wêreld se gespot. Ons kan van Noag leer dat God baie groter is as mense se spot. Byt vas en vertrou God! Uiteindelik sal dit alles die moeite werd wees.

Gebed:

Here, dit is nie altyd maklik om as kind van U te lewe nie, want mense verstaan dit nie. Gee my asseblief die moed om aan te hou en vas te byt.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026