Matteus 22:34-45
Ek het eenmaal, 'n paar jaar gelede 'n wonderlike staaltjie gelees van ‘n groep verkoopsmanne wat ‘n seminaar in Chicago bygewoon het. Dit was 'n lang en moeilike vergadering, maar uiteindelik was dit verby. Hulle sou darem daardie Vrydagaand terug kon wees by die huis, betyds vir aandete. So laat hulle toe ook hulle vrouens weet.
Die seminaar het ongelukkig ‘n bietjie langer aangehou as wat hulle beplan het, en hulle moes jaag om betyds vir hulle vlug te wees. Op die lughawe moes dit maar baie baie haastig gaan, en die manne moes hardloop, want die vliegtuig wag nie vir jou nie. In sy haas kry een kêrel nie mooi sy draai nie, en hy hardloop per ongeluk teen ‘n tafel vas in die lughawegebou.
Op die tafel was ’n reuse hoop appels netjies opgestapel. Toe die man die tafel tref, begin daar appels in alle rigtings te rol, totdat die hele vloer besaai is met appels. Wat ‘n gemors! Die manne was laat vir hulle vlug, dus was daar nie tyd om nog te stop om die situasie te probeer red nie. Hulle kyk nie eers om nie.
Wel, een kêrel het wél so in die hardloop half omgekyk, en tot sy skok sien hy die arme meisie wat lyk of sy op moedverloor se vlakte staan tussen die rollende appels. Skielik kry hy haar innig jammer, en hy draai om om te help om die gemors gou op te klaar. Hy beduie vir sy maters dat hulle maar moes aangaan. Hulle moes net asseblieftog sy vrou laat weet dat hy laat sou wees. Hy sou wel later ‘n ander vlug kry. Maar hy kon nie die arme meisiekind so los met die gemors wat hulle veroorsaak het nie.
Wat hy by die appelstalletjie aantref, het hom diep geraak. Die 16-jarige meisietjie wat hy daar aantref was in trane van pure frustrasie. Toe eers merk hy dat sy blind is. Sy het nie die vaagste benul waar om te begin soek vir haar appels nie. En terwyl sy desperaat probeer om die appels op te tel, stroom die hordes mense verby en vertrap haar ware sonder om eers op haar ag te slaan.
Die man spring in en help haar om alles op te ruim en weer die appels netjies op die tafel uit te pak. In die proses het daar egter ‘n klompie van die appels beskadig geraak. Hy pak hulle apart in ‘n sakkie, en toe haal hy $40 uit sy sak en gee dit vir die meisie om die skade te dek wat sy maats veroorsaak het. “Ek hoop nie ons het jou dag te erg bederf nie,” sê hy goedig terwyl hy omdraai om te gaan reël vir 'n ander vlug huistoe. Maar hy word tot stilstand geruk toe die meisie uit die bloute vir hom vra: “Meneer, is jy nie dalk Jesus nie?”
Die kêrel het uiteindelik ‘n later vlug huistoe gekry, maar die meisie se vraag het bly brand in sy gemoed: “Is jy nie dalk Jesus nie?”
Op die oog af klink dit amper na ‘n lasterlike vraag, maar gaan dink 'n bietjie mooi hieroor: is dit nie dalk wat die wêreld daar buite van jou en my moet dink nie? Het ek al ooit vir iemand in nood soveel beteken dat die persoon Jesus in my sien? Inderdaad moet ons Jesus se liefde só uitleef dat mense Jesus in ons lewe kan raaksien. Liefde is nie ‘n gevoel of lippetaal nie, dit is die praktiese uitleef van wat Jesus vir ons as voorbeeld kom gee het.
As ons sê dat ons Jesus ken, behoort ons te lewe en doen soos wat Jesus sou doen as Hy in ons skoene sou wees. Om Jesus te ken beteken baie meer as net om kerk toe te gaan of om Bybelversies te ken of gereeld te bid. Dit beteken dat ek die Woord uitleef in elke situasie wat ek dag vir dag beleef. Dit beteken dat ek die nood van mense sal raaksien. Maar dit beteken dat ek dit nie net sien nie, nie alleen vir hulle jammer voel nie, maar dat ek daadwerklik iets positief gaan doen om daardie persoon te help.
Ek lees ’n ruk gelede ’n koerantberig oor ‘n polisie offisier wat doodluiters staan en toekyk het terwyl ’n skurk besig was om iemand te beroof. Toe hy later gekonfronteer word oor sy traak-my-nie-agtige houding, trek hy bloot sy skouers op: “Ek was op pad kantoor toe.” Hy was in ‘n situasie waar hy as opgeleide polisieman iemand kon help. Hy het egter die arme persoon se nood totaal geïgnoreer.
So maklik kon die appel-kêrel ook maar sy oë toegeknyp het en aangegaan het met sy lewe en saam met sy maats gehardloop het. Hy kon betyds sy vlug gehaal het en die aand saam met sy gesin spandeer het. Niemand sou eers geweet het van die blinde meisie se dilemma nie. Vir haar sou dit egter in ‘n ramp eindig. Die klein opoffering wat hy gemaak het, het vir iemand gewys dat Jesus vandag steeds ‘n werklikheid is. Dat Hy vandag steeds omgee vir gewone mense.
Ek daag jou uit om vandag vir iemand Jesus te wees.
Gebed:
Here, gee asseblief vandag vir my die passie in my hart om die nood in mense raak te sien, maar dat ek nie maar net sal verbystap nie, maar gee my ook die krag en moed dat ek sal omdraai en iets daadwerklik doen aan die situasie.