Markus 8:34-9:1
Skok is duidelik te lees op die gesigte van die twaalf. Jesus het so pas vir hulle vertel van hoe Hy sou moes ly, en dat Hy totaal verwerp sou word en dat Hy selfs doodgemaak sou word. “Wat gaan van ons word?” wonder hulle. Hulle het gesien hoedat Petrus vir Jesus eenkant neem om met Hom te praat. Hulle het gesien dat daar harde woorde geval het. Petrus was doodsbleek toe hy weer by hulle aansluit.
Oor Petrus se gemoed hang ‘n donker wolk. Was hy nie die een wat bely het dat Jesus “die Gesalfde van God” is nie? En toe hy Jesus berispe omdat Hy vertel het dat Hy sou ly en sterf, het Jesus vir hom, Petrus gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan!”
Jesus is egter steeds nét so kalm soos altyd, as Hy die skare, wat alreeds weer in groot getalle daar saamdrom, nader roep. Hy gaan sit op ‘n groot klip, en dan sê Hy vir die mense: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My Evangelie verloor, sal dit behou.”
Die mense brom en kyk met vraende oë na mekaar. “Wat bedoel hierdie Rabbi dan nou? Wie sal dan nou iemand se volgeling word, net om sy eie lewe in gevaar te stel?” Maar Jesus vra nie van Sy volgelinge meer as wat Hy Sélf bereid is om te doen nie.
Ons sien hier hoe Jesus Sy eie lyding beskryf, en wat Hy bereid is om deur te maak. Messiasskap vra van Jesus sy totale lewe, met géén ruimte vir eie belang nie. Hy durf nie aan Homself, Sy eie veiligheid of gemak dink nie. Dit vra van Hom om álles te gee om Versoening te bewerkstellig.
Wanneer Jesus dan van Sy volgelinge vra om hulleself te verloën en hulle kruis op te neem, is dit nie ’n onbillike versoek nie. Om jouself te verloën beteken om jou eie belange geheel en al opsy te skuif ter wille van Jesus. Om jou kruis op te neem, gaan nog ‘n stappie verder, om nie alleen jouself bereid te verklaar om swaar te kry nie, maar dat jy selfs bereid is om die hoogste prys te betaal, en vir Jesus te sterf. As jy dus waarlik vir Jesus wil volg, moet jy bereid wees om alle gemak prys te gee. Jou totale lewe moet gerig wees op die Evangelie en jy kan maar seker daarvan wees dat dit lyding tot gevolg sal hê.
Paulus was ‘n goeie voorbeeld van iemand wat hierdie woorde van Jesus tot op die laaste letter uitgeleef het. Hy was ‘n briljante jong man met ‘n ongeëwenaarde redenasievermoë en ‘n blink toekoms voor hom op die Joodse Raad. Hy het egter gekies om eerder vir Jesus te volg. En nét daar begin sy kruistog: Hy is liederlik vervolg, gegésel, talle kere in die tronk opgesluit, gestenig, verwerp, uit die stad gejaag ensovoorts. Uiteindelik het hy dan ook gesterf vir sy geloof. Paulus was nie die enigste nie - talle van sy tydgenote moes dieselfde prys betaal.
Waarom verwag Jesus so baie van Sy volgelinge? Hy verduidelik in vers 35, 36: Mense wat alles gee om hulle aardse besittings en lewe te verseker, kan maklik hulle plek in die ewige lewe verloor. Wat is die belangrikste? Jou korstondige lewetjie op aarde of ‘n lewe van ‘n ewigheid in die hiernamaals? Dit sou dom wees om die ewige lewe prys te gee ten koste van ‘n plesierige aardse lewe!
Die probleem is dat dit in die praktyk nie ‘n maklike keuse is nie. Daar is selfs van Jesus se volgelinge wat sal terugdeins vir Hom en Sy woorde en hulle sal skaam daarvoor. Maar dan moet hulle baie goed besef dat Jesus, wanneer Hy terugkeer, Hom ook sal skaam vir hulle.
Terloops, hierdie selfde woorde van Jesus word so dikwels misbruik in e-posse om jou skuldig te laat voel as jy nie daardie e-pos aanstuur nie. Ek het ‘n kleintjie dood aan mense wat die Bybel so blatant en skaamteloos misbruik!
Jesus sluit af met ‘n belofte wat vir baie mense al hoofbrekens gegee het: Dat sommige van die mense daar teenwoordig nie sou sterwe voordat hulle die Koninkryk van God sien kom het nie. Was dit ‘n fout? Jesus se wederkoms het dan nie plaasgevind nie? Daar is twee verklarings: Die eerste is dat daar ‘n wederkoms-verwagting by die gelowiges geskep is, iets wat ons vandag steeds het. As ons vandag die “tekens van die tye” lees, is ons nou nader as óóit aan die wederkoms. Die tweede verklaring is dat Jesus verwys het na een of meer van ‘n paar baie belangrike gebeure: Sy verheerliking op die berg (Markus 9:2-8) en Sy kruisiging. Een van die belangrikste dinge wat gebeur het tydens Jesus se kruisiging was die hoogtepunt toe die voorhangsel van die tempel geskeur het en die skeiding tussen God en die mens vir goed weggeskeur het. By daardie geleentheid het die Romeinse offisier bely dat Jesus die Seun van God is, ‘n groot waarheid wat selfs die dissipels nie kon snap nie!
Ek dink dat Jesus se woorde van elkeen van ons introspeksie vra. Hoe ver is ek werklik bereid om te gaan om Jesus te volg?
Gebed:
Here, maak my asseblief bereid om die volle pad vir U te loop.