Genesis 6:11-16
Duidelik hoor Noag die stem van God: “Noag, Ek wil hê dat jy ‘n skip bou.”
“’n Skip Here? Waarom? Ek verstaan nie.....”
“Ek het besluit om ‘n einde te maak aan alle mense, want die aarde het ontaard in ‘n kookpot van geweld.”
Noag was ‘n man wat al aangestap het in die jare toe hierdie opdrag van die Here aan hom kom. Hy was al 600 jaar oud, en hy het die dinge sien gebeur. Sy eie pa, Lameg was nie ‘n maklike entjie mens nie. Jy moes net skeef kyk na hom, dan slaan hy jou uitmekaar.
Noag sug swaar as hy herkou aan die woorde van die Here. “Ja, so kan dit beslis nie aangaan nie!” dink hy. “Die Here is reg: Die aarde moet ‘n slag skoongemaak word, want alles het sleg geword.”
Sy gedagtes dwaal, en onmiddellik dink hy aan die reuse - daardie verskriklike groot manne. Almal is bang vir hulle. Noag verstaan die ding nie baie mooi nie, maar met die druiwerankie langs het hy gehoor dat daar hemelwesens was wat met jong aardse meisies omgang gehad het, en toe word hierdie reusegeslag gebore. Sou dit werklik waar wees? Noag het sy bedenkinge daaroor. Dit sou mos beteken dat hierdie reuse half-gode moet wees? Nee, dit kan seker tog nie! Sou dit dalk die laaste strooi wees waarom God besluit het om die aarde te verdelg?
In Noag se kop maal God se woorde rond. Hy weet nie mooi wat om daarvan te maak nie. Hy kry sommer al klaar ‘n knop op sy maag as hy dink wat die mense se reaksie gaan wees as hy hier in die middel van die woestyn ‘n skip begin bou. Hulle gaan dink dat hy nou finaal siniel begin word het. Hy is een van die laaste baie ou manne wat oorgebly het. Selfs Oupa Metusalag het uiteindelik ook nou die dag die lewensstryd gewonne gegee. Almal het begin dink dat hy vir altyd sou lewe. 969 Jaar oud geword - so byna-byna het hy die duisend kerf bereik. Ja, hy en Pa Lameg is so kort na mekaar oorlede.
As Noag rondom hom kyk, sien hy die boosheid. Niemand is meer sy lewe veilig nie. Elkeen dink net aan homself. Dit maak nie saak op wie se kop jy trap om bo uit te kom nie, en wie in die proses seerkry nie. Hy skud sy kop: “God is beslis reg!”
Maar skielik tref ‘n gedagte vir Noag: Maar hoe bou ‘n mens ‘n skip? Ek is g’n skeepsbouer nie? Waar begin jy? Waarvan maak jy hom?
“Here, ek weet nie hoe nie!” pleit hy by God. “En boonop, waarom ‘n skip in die woestyn? Hier is mos nie water nie? Here, ek verstaan gladnie.....”
Dan antwoord die Here hom: “Ek gaan ‘n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Al wat lewe op die aarde gaan vernietig word!”
“En die skip, Here, wie gaan in die skip wees?”
“Noag, Ek gaan met jou ‘n verbond sluit. Ek wil hê dat jy en jou vrou en kinders op die skip klim. Ek sal julle bewaar sodat julle kan bly lewe.”
Noag is baie verlig. Nou weet hy darem dat hy en sy gesin veilig gaan wees. Sjoe, maar dit gaan darem verskriklik wees as al die mense moet verdrink! Maar dan tref ‘n nuwe skokgedagte vir Noag: Wat van die diere? Wanneer hierdie water waarvan die Here praat gesak het, gaan die aarde darem ‘n baie eensame plek wees as daar nie ‘n paar diere ook oorbly nie. “Here.....” begin Noag.
Maar God weet al lankal van sy bekommernisse nog voordat Noag daaraan gedink het: “Noag, jy hoef nie bekommerd te wees oor die diere nie. Dit gaan jou taak wees om twee van elke soort dier op aarde bymekaar te maak en saam met jou op die skip te neem.”
Noag is tevrede. Maar dan begin hy sommetjies maak, en skielik wil dinge nie meer in plek val nie. “......van elke soort dier op aarde.....” het die Here gesê. Noag se oë rek groot: “Here, U bedoel tog seker nie.......”
“Ja Noag, álmal! Ook die leeus, olifante, renosters, kameelperde én tiere.”
“Maar Here, dan sal dit ‘n verskriklike groot skip moet wees! En boonop, Here, party van daardie goeters is verskriklik gevaarlik! Hoe gaan ek dit óóit regkry?”
“Noag, vertrou My! In die eerste plek sal jou skip groot genoeg wees. Ek sal jou nog volledige instruksies hiervoor gee. En Ek sal jou vertel presies wat jy moet maak en presies hoe om die skip te bou. En wat die diere betref: daaroor hoef jy jou nie te bekommer nie. Ek sal sorg dat selfs die gevaarlike diere so mak soos lammetjies is.”
Noag het nog baie vrae, maar vir eers is hy tevrede. Hoeveel vrae loop ek en jy nie dikwels mee rond nie? Ons sê dat ons God vertrou, maar diep binne-in knaag dit. Ek moet die Evangelie met iemand gaan deel, maar ek weet nie mooi hoe nie. Wees gerus, God sal jou die regte woorde gee. Al wat Hy van jou vra, is om gewillig te wees. Hy het mos die Heilige Gees vir jou gegee om jou ál die nodige krag en wysheid te gee sodat jy die taak kan verrig wat Hy jou gee. Hy sal jou nooit ‘n taak gee wat groter is as wat jy kan hanteer nie.
Gebed:
Here, so dikwels knaag die vrae en onsekerheid in ons. Leer my asseblief om U ten volle te vertrou vir absoluut alles in my lewe.