Noag en die Druiwerankie

2 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Noag en die Druiwerankie

Genesis 9 en 10

Die groot vloed is verby. God het as’t ware die aarde herskep en ‘n splinternuwe begin gemaak.

Noag en sy gesin was die enigste mense wat oorgebly het op die aarde. Hulle het God se opdrag om vrugbaar te wees en die aarde te vul, nagekom. Vandag kan ons dus sê dat daardie gesin die naelstring was van die ganse aardse bevolking, en dat ons almal dus afstammelinge van Noag is, of ons nou wit, swart, Sjinees of Aseaat is.

Die vraag is of die vloed-ervaring ‘n heilsame invloed gehad het op almal wat op die ark was? Het die vloed hulle met ander woorde letterlik skoon gewas van die ou sonde van die tyd voor die vloed? Of sou hulle dalk ook bagasie met hulle saamgedra het?

As ons die verhaal verder lees, sien ons ‘n insident wat jou wenkbroue laat lig. Na die vloed moes die mense aan die lewe bly. Noag het besluit om ‘n grondjie te bewerk en daar gewasse te plant wat vir hulle kos kon voorsien. Ek kan my maar net voorstel dat Noag eendag deur die veld gestap het en daar ‘n plant raakgesien het met ‘n tros sappige vrugte. Toe hy daaraan proe, het sy mond ontplof in ‘n smaaksensasie. Heerlik soet en verruklik! Hy het die plant versigtig uitgegrawe en op sy grondjie gaan plant. Die plant het hom nie teleurgestel nie, en het trosse en trosse van die sappige vrugte gelewer. Omdat dit so tot oorlopens toe vol sap is, neem hy ‘n klompie trosse en pars dit, en die sap gooi hy in ‘n kruik om later te drink.

Die kruik het seker iewers vergete bly staan en die soet sap het begin gis. Toe Noag onthou van die kruik met sap, het dit al ‘n heerlike skop gehad, ‘n totale nuwe smaak soos wat hy nog nooit voorheen geproe het nie. Nou-ja, wat moes die arme Noag dan ook weet van die gevolge van te veel wyn drink? En hy het onkapabel besope geraak daarvan.

Die gevolg was dat die arme ou Noag poedelkaal op sy bed neergeval het. Sy jongste seun Gam kom toevallig by Pa se tent verbygeloop en hy sien hierdie spektakel. Haastig hardloop hy na sy broers toe en vertel vir hulle van die grap van die jaar. “Pa lê daar kaal en hy weet nie wát om hom aangaan nie! Die vrome ou man het ‘n bespotting van homself gemaak!”

Sem en Jafet het uit respek vir hulle gryse ou vader sy naaktheid gaan bedek sonder om in sy rigting te kyk.

Wanneer Noag die volgende dag tot sy sinne kom, is hy woedend as hy hoor wat Gam hom aangedoen het. Dan praat hy baie hard met sy seun wat so ‘n bespotting van hom gemaak het terwyl hy so uiters weerloos was. “Gam, jou seun Kanaän sal jou broers se slaaf wees!” En hoe waar het Noag se vervloeking nie geword nie! Die Kanaäniete, nasate van Kanaän, was vir jare eers onderdruk deur Egipte, later selfs ook deur Israel en die Grieke.

Hierdie verhaal gaan allermins oor Noag wat hom vergryp het aan die verruklike voggies van die wingerd. Dit gaan in die eerste plek oor ‘n streng etiese kode wat verbreek is: respek vir jou ouers. Gam het nie die nodige respek vir sy gryse ou vader getoon nie. Hy het ‘n bespotting van hom gemaak. Ja, Noag het gestruikel, maar dit was nog steeds géén rede om disrespek vir hom aan die dag te lê nie. Baie jare later het die Here dit goed geag om dit as ‘n basiese wet neer te lê en dit op klip vir Moses te graveer: “Eer jou vader en jou moeder.....” (Eksodus 20:12).

Hierdie insident het vir ons ‘n skokkende onthulling gemaak: selfs die groot vloed kon nie die sonde wegspoel nie. Sonde was iets wat die mens binne-in hom rondgedra het, en wat net gewag het vir ‘n insidentjie om dit weer soos ‘n sweer te laat oopbars. Vloede, oorloë, wetsbepalings en strafkampe kan nie die sonde bestry nie. En as ons die geskiedenis verder gaan lees, sien ons hoedat sonde uiteindelik weer opgevlam het en uiteindelik ontaard het in ‘n kookpot van ellende.

Maar iewers in hierdie Goddelose brousel was daar altyd iemand wat die nalatenskap van die vrome Noag brandend gehou het. Noag het uiteindelik op die rype ouderdom van 950 jaar gesterf. Uit sy seun Sem se nageslag is daar baie geslagte later ‘n man gebore met die naam Tera, ‘n agter-agter kleinkind van Noag. En wat maak Tera dan nou so besonders? Hy was die vader van die groot geloofsheld Abraham, ‘n man so reg na God se hart, en ook natuurlik die aardsvader van die volk Israel, die volk waaruit die Verlosser Jesus, die Seun van God gebore sou word.

Lees ons Genesis 10, dan sien ons ‘n ellelange lys van name van volke wat ontstaan het uit die drie seuns van Noag. Uiteindelik moet ons dan besef dat ons almal, maak nie saak van hoe ons lyk of watter kleur of kultuur ons is, álmal afstammelinge is van Noag. Hy was waarlik die vader van die mensdom. Vandag kan ons dus aanneem dat ons almal verlangs familie van mekaar is, maak nie saak van watter volk ons afstam nie en maak nie saak wat ons kleur is nie.

Kom ons vergeet dus van die dag toe Noag hom aan wyn vergryp het, en eer hom as ons stoere en vrome voorvader wat gehoorsaam was toe God hom ‘n groot opdrag gegee het.

Gebed:

Here, gee my asseblief ‘n nuwe respek vir my ouers en diegene wat oor my aangestel is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026