Nie Jy Óók nie Isak?

4 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nie Jy Óók nie Isak?

Genesis 26:1-17

Ons draai nou eers die klok so ‘n bietjie terug na ‘n tydjie voor die geboorte van Jakob en Esau, die verskriklike tweeling, toe Rebekka se lyf nog sy soepel vorm gehad het. Nes Skoonma Sara, was sy ‘n beeldskone vrou.

Isak was ‘n baie bekommerde man, want die reën het weggebly en alles het verdroog. Hy onthou nog van die verskriklike droogte waarvan Pa Abraham hom vertel het, toe hy na Egipte moes trek om te kon oorleef. Dit is dáár waar Pa Abraham daardie lelike stel afgetrap het, toe hy gelieg het oor Ma Sara, en haar aan die Farao voorgestel het as sy suster. Isak wonder of dit nie dalk raadsaam sou wees om ook maar op te pak en na Egipte te gaan nie? Daar kan hulle ten minste oorleef totdat die droogte verby is. As dit tog maar net wil reën.........

Op ‘n dag sê Isak vir Rebekka dat dit nou nie meer anders kan nie. “Pak op - ons trek!” In Gerar slaan hulle tent op om die vee 'n bietjie te laat uitrus.

En dan gebeur dit: Soos die Here aan Pa Abraham verskyn het, verskyn Hy nou aan Isak. Dit was ‘n baie ernstige saak hierdie. God se volk is op die spel, asook die land wat Hy aan hulle beloof het. “Moenie na Egipte toe trek nie, Isak.” Dan herhaal die Here die beloftes wat Hy aan Abraham gemaak het, nét so ook aan Isak. Isak sal ‘n groot nageslag hê, asook die land Kanaän. Boonop sal Hy by Isak wees. Waarom? Omdat Isak so ‘n goeie mens is? Nee, alleen op grond van die eed wat Hy aan Abraham gemaak het. Dit was nie Isak se verdienste nie, maar suiwer genade!

Terloops: In vers 5 staan daar dat Abraham God se “gebooie, voorskrifte en wette” gehoorsaam het. Maar daardie tyd het die Tora (5 boeke van Moses) dan nog nie bestaan nie? Ons moet onthou dat Genesis geskryf is tydens die ballingskap, en die skrywer het met sy eie agtergrond, waar die Tora die riglyn was, beskryf hoedat Abraham aan God gehoorsaam was. Dieselfde geld vir die Filistyne waarvan hier gepraat word. Die skrywer het geweet van Filistyne, en aangeneem dat hulle maar altyd daar was. Maar in Abraham se tyd was hulle nog nie daar nie. Hulle het eers 800 jaar later gekom. Dit is dus ander heidense volke wat hier beskryf word as Filistyne.

Isak sê vir sy mooi vrou Rebekka dat hulle nét hier bly - God se bevele! Maar dan begin die moeilikheid: die plaaslike manne kan maar net nie hulle oë afhou van hierdie mooi vrou nie. Met groot kommer in sy hart sien Isak dit raak. Rebekka voel ongemaklik, want sy kan voel hoe die manne se wellustige oë haar stukkie-vir-stukkie ontklee. “Hier kom gróót moeilikheid,” sê Isak eendag vir Rebekka. “As ons nie ‘n plan maak nie, gaan hierdie klomp wolwe my nog elimineer om jou in die hande te kry.”

Kom ons trek,” wil Rebekka nog voorstel, maar sy weet dat Gerar die enigste plek is wat nie deur die droogte geraak is nie. Daar is natuurlik ook Egipte, maar die Here het hulle uitdruklik gewaarsku om nie daarheen te gaan nie. “As ons sou sê dat Rebekka my suster is, dan is my lewe ten minste nie in gevaar nie,” dink Isak. “Dit mag dalk werk,” beaam Rebekka toe hy dit aan haar voorstel. En so word Rebekka skielik Isak se sussie.

Maar het dit nie presies net so gebeur met Abraham nie? Inderdaad! En dít boonop so pas nadat God hierdie wonderlike beloftes aan Isak gemaak het! “Isak!” wil jy hom aan die skouers skud. “Isak, wat máák jy?”

Dan gebeur die ding wat Isak nóóit verwag het nie: Terwyl hy en sy Rebekka ál te danig met mekaar is, loer die koning, Abimelek deur sy venster, en hy sien die twee verliefde duifies. En hy weet sommer: g’n broer en suster kan só lief wees vir mekaar nie. Hy kry snuf in die neus en laat roep vir Isak. Dié kom met die hele sak patats uit en vertel die koning dat hy bang was iemand maak hom dood om sy vrou te kry. Daarom hierdie liegstorie dat Rebekka sy sussie is.

Verbasend genoeg word Isak nie summier verban nie. Daar word ‘n koninklike dekreet uitgevaardig om hom en Rebekka beskerming te gee. En Isak boer vooruit! Ons lees in Gen. 26:12-15 hoe die man opgang maak in die lewe. Sy koringlande lewer ‘n oorvloed op en sy troppe vee groei teen ‘n verbysterende tempo aan. Sy slawe se getalle groei by die dag aan en Isak word ‘n skatryk man in die land van die “Filistyne”.

Dit alles maak Koning Abimelek, ‘n baie bekommerde man. Sê nou net Isak besluit om die land oor te neem? Met so ‘n klomp slawe kan hy ‘n gawe leër saamstel! As hy nie nóú van hom ontslae raak nie, kan daar dalk net gróót moeilikheid vir Abimelek kom. “Isak”, sê hy eendag vir hom, “Jy het te sterk vir my en my volk geword - ek wil nie moeilikheid hê nie!” Voor Isak nog kan antwoord los Abimelek die bom: “Trek asseblief weg!”

En so trek Isak weereens sy tentpenne uit en gaan kap hulle by die Gerarspruit in. Die Here het dit baie voorspoedig vir hom gemaak ten spyte daarvan dat sy geloof soms gewankel het. Ons eie lewe is in werklikheid ook maar slegs suiwer genade. Ons verdien absoluut niks van al die ryke seëninge waarmee die Here ons oorlaai nie!

Gebed:

Here, dankie dat U genade oor my so groot is - dat U vir my gee sonder my eie verdienste.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026