Die twee rugbyspanne draf op die veld en gluur mekaar in die oë. Die Rooikatte is vol vertroue dat hulle hierdie wedstryd kan wen, hulle het immers hard gewerk om te kom waar hulle is, en hulle het tot dusver al die regte dinge gedoen. Die Jakkalse, aan die anderkant, was nie so suksesvol nie. Maar hulle het ‘n troefkaart. Voor die tyd het hulle met die skeidsregter gekonkel, en daar is ooreengekom oor ‘n paar dinge waarvan nét hulle weet. Arrogant en propvol selfvertoue staan hulle daar.
Die fluitjie blaas, en die Rooikatte skop af soos wat hulle gedril is om te doen, presies op die regte kolletjie. As die man spring om die bal uit die lug uit te gryp, blaas die skeidsregter hard op sy fluitjie. Strafskop! “Waarvoor?” wil die Rooikatte se kaptein weet. Die skeidsregter vererg hom, en hy verskuif die strafskop twintig treë nader. Weereens is die Rooikatte totaal in die war, hoe het die reëls dan nou so skielik verander? Soos die wedstryd vorder, kom die Rooikatte agter dat alles wat hulle van rugbyreëls af weet, absoluut niks tel in hierdie wedstryd nie. Hulle is baie beslis die beste span op die veld, maar niks wat hulle doen is reg nie. Die reëls word elke keer verdraai, en hulle het géén raad nie.
In ‘n sekere sin is die verkondiging van die Evangelie ook ‘n spel. Hierdie is egter ‘n baie belangrike “spel”, waarby menselewens betrokke is. Elke gelowige wat die Evangelie uitdra, doen dit na die beste van sy vermoë. Anders as hedendaagse rugby, is daar geen betaling vir die “spelers” nie. Hulle speel vir die liefde van die saak. Maar soos met rugby, is daar ook sekere reëls. Hierdie reëls is egter nie deur mense daargestel nie, maar deur die Here Sélf. Ons speel dus die spel volgens God se reëls.
En juis hier het Paulus ‘n ernstige probleem opgetel, want in Korinte was daar sekere evangeliste wat begin het om hulle eie reëls op te stel. Hulle was nie ongelowiges nie, maar gelowige Christene, nes die ander. Hulle het egter begin om sekere dwaalleringe te verkondig. En dit het baie probleme veroorsaak, want die mense het nie meer geweet wat reg en verkeerd was nie, en hoe hulle nou eintlik veronderstel was om op te tree nie. Boonop was hierdie dwaalleraars ook besig om die gelowiges teen Paulus op te sweep, en te beweer dat sy prediking nie feitelik korrek was nie.
Wat was daar aan die gang? Hierdie mense het in die eerste plek ‘n baie hoë dunk van hulleself gehad en hulle eie maatstawwe gestel. Hulle het hulleself verhef bo manne soos Paulus. Om jouself te verhef bo ander, is nie Bybels nie. Die Bybel leer ons om nederig te wees. Paulus sê dan ook dat hy hom nie buite sy perke sal roem nie. Paulus het sékerlik alle rede gehad om te roem. Hy was immers die stigter van die Korinte gemeente, asook ‘n streep ander gemeentes. Nogtans het hy nie geroem buite sy perke nie.
Ek moes eenmaal ‘n kursus aanbied by ‘n Voortrekker kamp. Ek merk ‘n kêrel met ‘n vaal laphoedjie op wat met die kinders staan en skerts. Later is hy sommer net ‘n hulp in die kombuis wat skottelgoed was en worsies braai. “Ek is Piet,” stel hy homself voor aan my, en hy vertel dat hy met studente werk. Tot my skok en skande verneem ek later dat hy die hoofleier van die Voortrekkerbeweging is, en boonop ook die moderator van die NG Kerk! Hierdie nederige man het gevorder tot ‘n baie hoë posisie in die lewe, maar steeds was hy plat op die aarde! Hy het alle rede gehad om homself te verhef bo die gespuis daar onder, maar hy het besluit om ‘n doodgewone mens te wees. Soos op enige kamp, het daar maar dinge skeefgeloop, maar nooit het ek hom hoor kritiseer nie. Op hierdie manier het hy diep in die harte van die kinders en al die ander mense met wie hy kontak gehad het, ingekruip. Hy het die hele tyd die boodskap van liefde en opregte omgee uitgestraal.
Wanneer ‘n gelowige begin sterk groei in sy geloof, en moontlik sekere geloofs-mylpale bereik, dalk ‘n leiersposisie, leraar of pastoor, dan is die gevaar baie groot dat hy homself sal sien as ‘n bietjie verhewe bo die res wat nog nie “aangekom” het nie. Ek het al te doene gekry met ‘n dominee wat jou uit die hoogte aanspreek. Maar dankie tóg, die meeste leraars wat ek ken is doodgewone mense wat plat op die aarde is, en wat besef dat hulle met ‘n hoogdrawende houding nooit siele vir Jesus sal wen nie. Ek kry dikwels die geleentheid as “gewone” lidmaat om saam met die geleerde manne en vroue om die tafel te sit, en keer op keer beleef ek dat almal van hulle nederig is, en slegs een doel voor oë het, naamlik om die Naam van Jesus groot te maak en Sy Koninkryk op aarde uit te brei. Ek, as gewone lidmaat, word telkens behandel asof ek iemand baie spesiaal is.
Paulus sluit hierdie betoog af deur aan te haal uit Jeremia 9:24: “Hy wat roem, moet in die Here roem”. Kom ons gee vandag al die eer aan Jesus, die Verlosser, Saligmaker, Skepper van hemel en aarde - die Opgestane Heer!
Gebed:
Here, my gebed is vandag dat U my nederig sal hou, en dat U wonderlike Naam verheerlik sal word.