Eksodus 11:1-12:33
Na die negende plaag jaag die Farao vir Moses uit sy paleis: “Sorg dat ek jou nie weer sien nie,” skree die omgesukkelde koning, “want as ek jou weer sien, sal jy sékerlik sterf!”
Moses se antwoord is dat hy hom beslis nie weer sal sien nie. Maar Moses het die laaste sê vir die hardkoppige koning: “So sê die Here: Teen middernag sal Ek deur Egipte gaan, en elke eersgeborene in Egipte sal sterf!” Moses vertel in detail vir die man dat selfs sy eie seun, die kroonprins sal sterf! Terwyl die Farao wit word van woede beskryf Moses hoe daar deur die hele Egipte gekerm, gehuil en gerou gaan word. Maar nie ‘n enkele een van die Israeliete sal sterf nie. “Al u amptenare sal voor my kom buig en pleit dat ons asseblief trek!” waarsku Moses. “Dan sál ek trek!”
Daarmee draai Moses sy rug op die Farao en stap uit die paleis uit.
Dan begin die groot voorbereiding vir Israel se vertrek uit Egipte. Die Israeliete kry opdrag om goue en silwer voorwerpe te gaan eis van hulle Egiptiese bure. Hierdie goud en silwer sal hulle vorentoe baie nodig kry. Teen hierdie tyd was die Egiptenare al baie lugtig vir die Israeliete, want hier gebeur ontstellende dinge! En al dreig die koning om hom te vermorsel, het Moses nogtans baie groot aansien onder die Egiptenare en selfs die koning se eie amptenare. Dus oorhandig die Egiptenare hulle goud en silwer sonder om eers te kibbel.
Moses het 'n reuse taak op sy skouers, om die Israeliete voor te berei vir daardie nag van verskrikking. Hulle sal almal skotvry daarvan afkom as hulle sy instruksies noukeurig navolg. Elke gesin moet sorg dat hulle ‘n ongeskonde jaaroud lam het vir die veertiende van daardie maand. Die lam moet daardie middag geslag word en die bloed teen die deurkosyn gesmeer word. Daardie aand moet hulle die vleis braai en eet saam met ongesuurde brood en bitter kruie. Dit sou die instelling wees vir die Paasfees wat daarna elke jaar gevier moes word. Dit was van uiterste belang dat hulle hierdie instruksies noukeurig moes nakom, want dit sou die waarborg wees dat hulle eersgeborenes sou lewe.
Moses het al die leiers in die volk bymekaargeroep en alles mooi verduidelik. En die volk het in aanbidding voor die Here gebuig. En hulle het gedoen presies wat Moses gesê het.
Die aand van die veertiende breek aan en in elke Israelietiese huis word daar skaapvleis geëet saam met onsmaaklike ongesuurde brood en bitter kruie. Daar heers ‘n ongemaklike dog opgewonde atmosfeer van afwagting en onsekerheid oor die Gosenstreek. Elke huis se deurkosyn is met ‘n hisoptakkie met bloed geverf. Meer as driemiljoen Israeliete vier Paasfees, elkeen in sy eie huis. “Wat gaan vannag gebeur?” wonder almal bang.
Dan breek middernag aan. 'n Angsgil klink uit die pikdonker op gevolg deur iemand wat onbedaarlik aan die kerm gaan. Grootoog kyk die Israelietiese gesin vir mekaar. Dit kom uit die huis van een van die Egiptiese bure. ‘n Koue rilling gaan langs die gesin se ruggraat af. Dan klief nog ‘n hartverskeurende gekerm deur die naglug: “My kind, my kind is dood.....!” Oral weerklink dit nou op - rou snikke van mense wat maar nie kan verstaan hoe ‘n blakend-gesonde mens sommer so skielik kan doodgaan nie.
In die pikdonker nag is daar ‘n geritsel wat deur die ganse Egipte gaan en waar die beweging by 'n huis verbygaan, sterf die eersgeborenes van daardie huis. ‘n Gekerm en weeklaag styg op uit Egipte en absoluut niemand word gespaar nie, buiten hulle wat beskerm is deur die bloed van die lam.
Moses het gesit en wag vir die oproep. Kort na middernag kom dit: Hy word ontbied om onmiddellik na die Farao se huis te gaan. Daar tref hy ‘n verwoede koning aan, verskeur deur droefheid oor sy oudste seun, die kroonprins van Egipte se skielike, raaiselagtige dood. “Gee pad onder my mense uit!” gil hy vir Moses, “Julle twee, en julle hele volk en vat sommer al julle diere saam! Gee pad! Ek wil julle nie weer sien nie! Loop!” Op pad terug word Moses gesmeek deur al die amptenare en ander Egiptenare wat hy en Aäron teëkom, om asseblieftog te trek - sommer onmiddellik! Hulle leef in die grootste vrees dat hulle ook sal sterf.
Skrikwekkend, die straf van God oor hulle wat weier om te luister na Sy roepstem van genade, hulle wat hulle ore toedruk wanneer Hy hulle uitnooi om deel te word van Sy gesin. Maar baie, baie groter as dit, is die genade van God oor diegene wat beskerm is deur die kosbare bloed van die Lam! Ja, baie jare na hierdie skrikwekkende nag was daar wéér so ‘n angswekkende nag - dié nag toe die Lam van God geslag is, vasgespyker is aan ‘n kruishout. Wie in Hom glo is onder die beskerming van Sy bloed! Hulle sal nie sterf of aan die straf van God onderworpe wees nie. Al wat die Israeliete kon red was die bloed. Al wat jou en my vandag kan red is die Kosbare Bloed van Jesus Christus!
Gebed:
Here, dankie dat ek vandag kan weet dat ek onder die bloed van die Lam is, en dat U vir my die ewige lewe gegee het as geskenk deur U Seun, Jesus Christus!