‘n Wandeling op die See

7 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Wandeling op die See

Johannes 6:16-21

VIDEO OUDIO

Baie jare gelede gaan ons op ’n hengel-ekspedisie in Mosambiek, in die Limpopo Mond. Ek was maar skaars tien jaar oud. Alles was maar baie primitief. Ons kon met ons Landrover ry oor ‘n rowwe tweespoorpaadjie tot by Barra, maar die laaste paar kilometer moes ons in ‘n roeibootjie aanpak. ‘n Tienjarige Sjangaan seuntjie kry die taak om ons te roei na die totaal verlate sandbank by die mond. Twee dae later, na ‘n onvergeetlike uitstappie keer ons terug.

Dit was al skemer toe ons in die volgelaaide bootjie klim. Die seuntjie het die roeispane vasgevat en gekreun onder die vrag. Toe ons die middel van die rivier bereik, kon ek tot my ontsteltenis sien dat hier gróót moeilikheid was. Ons het agteruit beweeg! Ek het oor my skouer geloer na die golwe van die oop see wat besig was om ons in te suig! Boonop het ek al te deeglik besef dat dit wemel van haaie en krokodille in hierdie water. Die gety was besig om uit te gaan en ons het al nader en nader na die kwaai oseaan beweeg in ‘n klein, mankoliekige skuitjie.

Ons por die roeier aan, en hy sweet. Dit begin donker word, en die situasie lyk beslis nie rooskleurig nie. Ek sien al hoe ons almal versuip of opgevreet word!

Toe gebeur die ding wat my hart so ampertjies laat staan het. Die seuntjie het skielik sy roeispane neergesit en iets in Sjangaan gemompel. Toe spring hy uit die skuit uit! Het hy besluit om ons net hier aan ons eie genade oor te laat sodat ons maar diepsee toe kon spoel, terwyl hy wal toe swem?

Ek het begin rondkyk vir ‘n mes om my teen die haaie en krokodille te verweer. Maar dan, tot ons verwondering, sien ons hoe hierdie laaitie op die water begin loop, al agter die bootjie aan, terwyl hy die bootjie teen die stroom op stoot!

Ek het uitgebars van die lag! Die water hier was skaars kniediep en dit was baie makliker vir hom om die bootjie te stoot as om te roei. En ja, ons hét veilig oorkant gekom!

Jesus se dissipels was in ‘n soortgelyke situasie. Na daardie dag toe Jesus die reuse skare kos gegee het van die vyf brode en twee vissies, moes Hy berg-op vlug om van die mense af weg te kom. Toe dit begin aand word, moes die dissipels maar noodgedwonge in die skuit klim sonder Jesus en begin roei om oorkant te kom by Kapernaum. Hulle kon nie langer vir Hom wag nie, want as hulle nog sou talm sou die donker hulle vang!

Dit was nie ‘n maklike bootvaart nie, want skaars het hulle begin roei, of die wind steek op. Hoe verder hulle geroei het, hoe sterker was die wind, reg van voor. Vir vyf kilometers het hulle teen die geweld van die storm voortgebeur en dit het gevoel asof die roeispane hulle nêrens bring nie. Reg deur die nag het die arme manne teen hierdie sterk wind in geroei. Matteus skryf dat dit voortgeduur het tot dagbreek toe (Matt 14:22-33).

Die arme kêrels was sekerlik totaal uitgeput! Die vorige middag nog moes hulle bontstaan om vir fyftienduisend mense kos te gee. En nou was hulle boonop nog beroof van hulle welverdiende slaap. Maar nog is dit het einde niet! Uit die mistigheid van die storm sien een van die manne ‘n figuur op die water na hulle aangestap kom. “Kyk!” Hy beduie met ‘n hand wat bewe. Die manne is lam van vrees! “’n Spook! Ons einde het aangebreek!” Onheilspellend kom die “gedaante” al nader en nader. Die manne skree van angs!

En dan herken hulle Hom: Jesus! Hulle is stomgeslaan. Jesus klim in die skuit by hulle. Die wind bedaar, en hulle roei die kort entjie na hulle bestemming. Die manne verstaan gladnie!

Ek dink hierdie manne het daardie nag ‘n baie harde les geleer. Wat het hulle in die eerste plek laat besluit om sonder Jesus te vertrek? Wat sou hulle daar oorkant sonder Hom doen? Hy was immers die rede waarom hulle gegaan het! Sonder Hom, so het hulle baie gou uitgevind, is hulle in die moeilikheid! Wat veronderstel was om ‘n uur of twee se roei te wees, het toe uiteindelik die hele, ganse nag aangehou en in ‘n absolute nagmerrie ontaard. As hulle net ‘n klein bietjie langer vir Jesus gewag het, sou hierdie hele aaklige rit waarskynlik verspot maklik gewees het. Die dissipels het ook iets anders geleer, dat die oomblik toe hulle Jesus in die skuit ingehelp het, het die wind gaan lê. Met Jesus aan boord, het hulle nagmerrie skielik soos mis voor die son verdwyn. Hulle het verniet ‘n slapelose nag beleef!

Wat sê dit vandag vir jou en my? Dat ons dit nie durf waag om die lewensstorme aan te pak sonder Jesus nie. Sonder Hom, kan ons maar verseker wees, sal dit in ‘n nagmerrie ontaard. Ek weet baie goed, ek het dit al talle male beleef. Hóéveel keer het ek al ‘n krisis beleef in my lewe, en dit dan sonder Sy hulp probeer oplos. En elke keer nog het ek lelik tweede-beste daarvan afgekom. Die kere wat ek egter alles in Sy bekwame hande oorgelaat het, het dit totaal anders verloop. Nee, Hy het nie elke keer die probleem vir my opgelos nie, maar nog elke keer het Hy getrou vir my die krag en rustigheid gegee om hierdie krisis te weerstaan. Daar is talle mooi verhale van mense wat deur diep waters was maar in Jesus se krag steeds staande kon bly.

Gebed:

Here, dankie dat U altyd daar is vir my, selfs deur die grootste krisisse. Help my asseblief om U te vertrou in alles in my lewe - selfs deur die grootste moeilikhede.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026