Genesis 24:1-7
Die volgende perikoop wil vir ons amper lyk na ‘n stukkie oorbodige geskiedenis wat net so terloops ingegooi is om die boek vol te maak. Daar word ‘n klomp name voor jou kop gegooi, name wat byna niks beteken nie. Of ten minste wil dit so voorkom. Maar opgesluit in hierdie rits name, is ‘n drama wat besig is om te ontvou. Hier volg nou ‘n liefdesverhaal wat baie mense se verbeelding aangegryp het oor duisende jare. Die nageslag van Abraham se broer, Nahor word geskets. Sy nageslag is natuurlik al lankal baie deeglik gevestig, want hy het ‘n streepsak vol kinders gehad. Abraham, aan die ander kant, se nageslag hang steeds aan ‘n baie dun draadjie, en hierdie draadjie was so byna-byna geknip op die berg. Het God nie betyds ingegryp nie........
Wat het Nahor se streep kinders te make met Abraham se geskiedenis? Iewers in die lys sien ons die naam Beteul. Nee, steeds lui dit nie ‘n klokkie nie. Maar Beteul het ‘n dogter gehad, ‘n beeldskone meisiekind. Haar naam was Rebekka. En skielik gaan daar ‘n liggie op, want hierdie naam klink mos bekend: was sy dan nie........?
En so word die verhoog voorberei vir die volgende toneel, een wat eers begin met ‘n baie ou en afgeleefde Sara wat te sterwe kom op ‘n rype 127 jaar. Die regte ding om te doen, sou dalk wees dat Abraham haar gaan begrawe in Haran, daar waar haar voorsate vandaan kom. Maar vir Abraham is die toekoms van die beloofde land belangriker, en alhoewel hy homself nog as ‘n “vreemdeling en bywoner” beskryf, weet hy dat hierdie land eintlik aan hom behoort, want God het dit Sélf vir hom gegee. Op tipiese Oosterse manier bied hierdie mense aan dat Sara in een van hulle grafte begrawe word. Gasvrye mense hierdie! Maar dit is nie wat Abraham wil hê nie. Hy wil sy voet in die deur kry, en dus begin hy onderhandel om ‘n grot by hulle te koop. Hulle wil dit eers as ‘n geskenk vir hom gee, maar Abraham werk met ‘n plan: hy wil sélf daarvoor betaal, want dan is dit sy eiendom. Iets gegee is mos maar iets geleen! Na ‘n wettige transaksie, waaroor daar op eg-Oosterse manier geredekawel is in die stadspoort, word die koop beklink. Hy betaal ‘n buitensporige prys vir die eiendom, baie meer as wat dit werd is. In die “titelakte” word die eiendom baie deeglik beskryf, ook die grot en selfs die bome word beskryf.
Abraham is ‘n baie tevrede man: nou besit hy alreeds ‘n put en ‘n grot in die beloofde land!
Maar daar is ‘n ander sakie wat Abraham begin bekommer: Isak. Hierdie seuntjie het ‘n man geword, en hy trek al diep in die dertig, en steeds is daar nie sprake van ‘n vrou in sy lewe nie. As Abraham nie plan maak nie, sal hy nooit as te nimmer die voorreg hê om sy kleinkinders te sien rondhardloop nie. Die probleem is egter dat hier in die vreemde land net heidense meisies is. Begeerlik, maar nie Isak se tipe nie! Hierdie woestynmeisies sal net eenvoudig nie deug vir die seun van Abraham nie! Hy moet iemand vir Isak kry wat darem ten minste familie is, sodat hy kan weet dat sy uit ‘n eerbare stamboom kom. Wat van Broer Nahor? Hy het mos ‘n paar baie mooi kleinkinders wat nou al baie goeie troumateriaal kan wees. En Abraham begin plannetjies beraam!
Abraham besef maar ál te goed, dat as hy vir Isak stuur om in die lowerryke Haran vir hom ‘n vrou te gaan soek, kan Isak dalk net besluit om daar agter te bly. Of die meisiekind se pa kan besluit dat sy dogter nie gebou is vir ‘n lewe in die woestyn nie, en dan hou hy vir Isak nét daar. Nee, dit sal nie deug nie!
Abraham kry skielik ‘n briljante idee: Hy sal iemand anders stuur om daar in Haran vir Isak ‘n vrou te gaan uitsoek. Maar hierdie persoon sal darem ‘n goeie oordeel moet hê, anders kom hy dalk net hier aan met iemand wat nie na Isak se smaak is nie.
Die gryse ou man besluit dat daar net één persoon is aan wie hy hierdie taak kan toevertrou: sy hoof slaaf, die man wat al Abraham se bates bestuur. Ja, hy is die enigste betroubare man. Hy word ontbied, en dan sien hy sommer met die intrapslag dat hier ‘n baie gewigtige saak op sy baas se gemoed rus. “Kom sit jou hand hier onder my heup,” beveel Abraham hom, en die man skrik hom yskoud. Hier is vandag nog baie groter sake as waarvan hy óóit kon droom. As hy ‘n eed moet aflê, dan is sy baas baie ernstig!
Die slaaf luister aandagtig as Abraham vir hom in groot detail beduie dat hy onder géén omstandighede mag toelaat dat Isak met ‘n Kanaänitiese meisie deurmekaar raak nie. Hy móét ‘n vrou kry uit Haran. Boonop durf Isak nie sy voete sit in Haran nie, want dan is dit neusie verby vir sy seun. Abraham het so ver gekom in die lewe, en hy sien al amper die laaste van God se beloftes waar word. Hy wil nie nou kom staan en dinge verongeluk op nommer nege-en-negentig nie. Maar skielik speel daar ‘n glimlag oor Abraham se plooigesig: Die Here het nog al die jare getrou voorsien. Waarom sal hierdie ‘n uitsondering wees? God sal weereens voorsien. Die slaaf moet alles maar net in God se bekwame hande oorlaat.
Gebed:
Here, hoe wonderlik is dit nie om net weereens te kan leer uit hierdie mooi verhaal, van hoe U voorsien, en hoe elke klein detail deur U beplan word - ook in my eie lewe. Ek loof U!