2 Korintiërs 4:1-6
Paulus kan verséker ‘n rolmodel wees vir enige persoon wat die Evangelie met ander mense wil deel. Hy vertel hier aan die gemeente in Korinte so ‘n ietsie oor sy bediening en dié van sy medewerkers. Ek dink hulle moes maar baie teenstand gekry het oral waar hulle die Woord gaan verkondig het, maar steeds het hulle dit met blymoedigheid gedoen. Jaco Thom het ‘n roman geskryf oor die lewensverhaal van Paulus. Die beeld wat Jaco skep, is een van ‘n sendeling wat dikwels platgeslaan word deur sy omstandighede. Ek het self ‘n boek geskryf oor hom, met al die inligting wat ek uit die Bybel oor Paulus kon versamel, met die titel: “Paulus, Sendeling na die Heidene.” Jy kan dit lees by: chl.co.za/paulus
Dit was veral die Jode wat hom bly vervolg het op elke moontlike manier, omdat hy ‘n “dwaalleer” sou verkondig het. Volgens hulle het hy ál die ou Joodse tradisies geminag, en dikwels wou hulle hom doodmaak of uit die stad verdryf. Aan die ander kant weer, was daar heidene wat hom dikwels wou doodmaak omdat hy hulle besigheid kom “opmors” het met die Evangelie!
Meeste van ons sou hopeloos moedeloos geword het oor die onmoontlike omstandighede waaronder Paulus moes werk. Die ergste was boonop dat hy nie ‘n salaris verdien het vir dit wat hy gedoen het nie. Af en toe het ‘n gemeente hom ‘n bietjie lewensonderhoud gegee, maar die meeste van die tyd moes hy maar tente maak om aan die lewe te bly.
Paulus het egter nie moedeloos geword nie. Waarom nie? “God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra”, sê hy, en om daardie rede kon hy met groot vreugde die lewe in die oë kyk, selfs wanneer dit baie sleg gegaan het.
Die een baie groot geheim agter hierdie werk van Paulus en sy medewerkers, was dat hulle baie eerlik was in hulle bediening. Paulus-hulle het hulle daarop toegelê om die Woord absoluut suiwer te bedien. Daar was géén foefies nie, en slegs die waarheid is onvervals deur hulle verkondig, al het dit dikwels vir hulle baie teenstand gekos.
Ten spyte van dit alles, was die Evangelie dikwels met ‘n “sluier” bedek vir sekere hoorders. Waarom? Bloot omdat mense die Woord nie wóú hoor nie. Paulus sê dat “hulle verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is” ( 2 Kor 4:4). Die duiwel bedek hulle verstand só erg, dat hulle nie die Evangelie kan raaksien nie.
Sal ons nou kan sê dat dit slegs die duiwel se skuld is dat sekere mense blind en doof is vir die Evangelie? Inderdaad het hy groot invloed, maar ons kan nie goedsmoeds elke slegte ding aan die duiwel toeskryf nie. Elke mens, of hy gelowig is of nie, weet wat reg en verkeerd is. As ‘n ongelowige homself doelbewus in ‘n sondige situasie laat bevind, speel hy reg in die hand van die duiwel. Hy laat as’t ware toe dat daar ‘n skeidsmuur kom tussen hom en die Here. Om ‘n voorbeeld te noem: almal weet dat dit verkeerd is om te steel. Die meeste ongelowiges sal hulle nie met sulke gevaarlike goed ophou nie. Daar is egter diegene wat bewustelik in diefstal gaan betrokke raak, dalk bloot omdat die geleentheid hom voorgedoen het. Uiteindelik raak dit ‘n lewenswyse wat hom tot ander ernstiger misdaad aanspoor. Hoe dieper hy homself in die gemors dompel, hoe verder dryf hy weg van enige vorm van Godsdiens af, en hoe minder kom hy in kontak met ‘n geleentheid om die Evangelie te kan hoor. Daar kom in werklikheid ‘n sluier tussen hom en die Evangelie. Die duiwel se werk? Ja, maar beslis ook sy eie toedoen!
Maar dis ongelowiges! Ek is mos ‘n gelowige! Dit sal beslis nie met my gebeur nie! Werklik? Ons moet nooit te gerus raak nie. Ek het al dikwels gelowiges gesien wat stadig begin wegdryf het van die Here af. Ek het al dikwels droewige briewe gekry van mense wat sê dat hulle nie meer weet of hulle nog geredde mense is nie. Eens op ‘n tyd het hy wel sy hart vir die Here gegee, maar nou weet hy nie meer nie. Hy kom nie in die kerk nie en sy lewe is ‘n gemors. Dit voel asof die Here van hom vergeet het!
Luister wat Paulus sê in vers 2: “Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam.” Vir enige gelowige verg dit harde werk en dissipline om te leef op só ‘n wyse dat die Evangelie nie vir jou versluier word nie. Jesus het inderdaad my hart verlig met Sy helder, suiwer lig die dag toe Hy in my lewe gekom het. Dit is egter my plig as gelowige om daardie wonderbare lig aan die brand te hou en dit elke dag helderder en helderder te laat skyn, sodat ander mense óók die lig van Jesus deur my kan sien. Wanneer ek só in die lig lewe en aktief in die wingerd van die Here werk, dan kan daar net eenvoudig nie meer ‘n sluier wees wat die Evangelie vir my dof maak nie. Wanneer ek só leef, gee ek aan die Heilige Gees plek in my lewe, en ek laat Hom toe om my lewe te rig en my te lei. Dan word Hy waarlik vir my die Trooster wat Jesus vir my belowe het met Sy hemelvaart!
Gebed:
Here, gee my asseblief die krag om elke dag aktief vir U te kan lewe, sodat daar nooit ‘n sluier kan kom tussen my en U nie!