Handelinge 13:1-12
Lukas se verhaal verskuif nou weer terug na Antiogië waar die gemeente besig was om uit haar nate te bars. Lukas meld net so terloops van ‘n paar van die leierfigure wat in die gemeente werksaam was. Buiten Saulus en Barnabas was daar ook Swart Simeon (Simeon bekend as Niger), Lucius en Manaen, iemand wat in hoë kringe grootgeword het saam met ‘n toekomstige koning, Herodus die Tetrarg. Nou is hy egter ‘n doodgewone gelowige wat sy vaardighede in die gemeente gebruik tot eer van God.
Terloops, 'n mens wonder oor Swart Simeon. Sommige Bybelkenners meen dat hy van Afrika afkomstig kon wees, moontlik uit Noord-Afrika wat op daardie tydstip groot Joodse gemeenskappe gehuisves het.
Simeon se rol in die kerk in Antiogië, saam met ander prominente leiers soos Barnabas en Saulus dui daarop dat hy ‘n gerespekteerde geestelike leier in die vroeë Christelike beweging was. Antiogië was bekend vir sy diversiteit en dat dit ‘n gemengde samelewing gehad het, wat moontlik verklaar waarom mense van verskillende agtergronde daar in leiersrolle was.
Die gemeente in Antiogië leef nie net vir hulleself nie, maar ons sien keer op keer hoe hulle uitreik na buite. Ons het reeds gehoor hoedat finansiële hulp verleen is aan die Jerusalemgemeente wat in groot nood verkeer het. Nou was daar weer ‘n nuwe visie wat besig was om vorm aan te neem. Terwyl hulle bymekaar was om die Here te dien, praat die Heilige Gees met hulle. Saulus en Barnabas moes afgesonder word om te gaan sendingwerk doen. Dit was die opdrag van God! Vir hierdie gemeente klink dit dalk na ‘n groot verlies om hulle twee belangrikste herders te moes verloor. Hulle is egter gehoorsaam aan die Here en hulle stuur die twee weg op hulle eerste sendingreis. Uiteindelik sou Saulus meer as 16’000km aflê. In vandag se terme is dit dalk nie so verskriklik ver nie maar as ons in ag neem dat hy die grootste deel hiervan te voet sou loop, dan begin dit nogal verskriklik ver raak!
Die gemeente bid vir die twee en lê hulle die hande op en dan word hulle weggestuur. Daar is dadelik ‘n paar dinge wat ons opval. In die eerste plek het ons hier te doen met ‘n gemeente wat besig is met die dinge van die Here en nie om maar net hulle eie ding te doen nie. Die eerste baie belangrike ding is dat hulle saam bid en die wil van die Here met ‘n opregte hart soek. En wanneer die Here met hulle praat is hulle gehoorsaam aan die wil van God, al kos dit ook vir hulle baie duur!
Die tweede aspek is ewe belangrik, dat hierdie gemeente ‘n visie het. Hulle het ‘n sendingvisie en dit bly nie maar net by praat nie. Hulle begin om daadwerklik hierdie visie uit te leef. Hulle voeg die daad by die woord en stuur die twee manne na ‘n bestemming om die Woord uit te dra. Dit word nie pertinent genoem nie, maar ek is oortuig daarvan dat Saulus en Barnabas nie met leë hande weggestuur is nie maar dat daar sekerlik ruim vir hulle voorsiening gemaak is om hulle taak tot uitvoer te bring......
Talle gemeentes in ons land voer geestelik ‘n sukkelbestaan want hierdie twee elemente is nie by hulle teenwoordig nie. Ons sien duidelik dat hier ‘n reuse kringloop in die Antiogië-gemeente is. Uitreik bring groei en lewe en dit bring weer nuwe visies wat verdere groei en lewe gee. Ons praat van so 'n gemeente as 'n missionale gemeente.
Ons moet in die eerste plek by die Woord van God uitkom en Sy wil ernstig soek in gebed. Wanneer ons dan hoor wat die Here vir ons sê, moet ons doen wat Hy van ons vra om te doen, al klink dit vir ons of ons daardeur skade sal ly. Dit help ook nie dat ons klein dink en slegs die probleme raaksien binne ons eie ou kringetjie of gemeenskap nie. Ons moet baie wyer kyk en ons horisonne verbreed. Gemeentes wat dit doen word wonderlik geseën en hulle groei!
Saulus-hulle se eerste bestemming is die eiland Siprus, sowat 150km per skip van die hawestad Seleukië af. Daar begin hulle van ‘n kant af en werk die hele eiland stelselmatig deur van hoek tot kant en hulle preek in elke Joodse sinagoge. Hulle begin by Salamis op die oostelike uithoek van die eiland en hulle hou nie op voor hulle by die verste westelike punt, by Pafos uitkom nie. Terloops, die eiland is meer as 200km lank. Hulle kry ook hulp van Johannes en alles gaan voor die wind. Natuurlik moet jy ook teenstand verwag as jy suksesvol is in jou bediening. Dit kry hulle in die vorm van ‘n Joodse towenaar met die naam Barjesus of Elimas, soos hy in Grieks bekend gestaan het. Hy is een van die goewerneur se raadgewers. Hy beskou Saulus-hulle as ‘n bedreiging vir sy eie posisie in die goewerneur se administrasie, dus staan hy hulle sterk teë wanneer hulle die geleentheid kry om die Evangelie aan die goewerneur te bedien. Dit kos slegs ‘n enkele woord van Saulus, oftewel Paulus soos hy van nou af genoem word, om die man met totale blindheid te slaan. Die goewerneur is so beïndruk met Paulus se “krag” dat hy nét daar tot geloof kom. Paulus gee egter ál die eer aan God want hy is uiteraard slegs ‘n instrument in die hand van God!
Met hulle eerste taak voltooi, klim hulle op die skip en seil noordwaarts, na die vasteland. Maar hieroor berig ons DV in more se oordenking.
Gebed:
Here, ons moet vanoggend bely dat baie van ons gemeentes egosentries geraak het en dat ons stagneer omdat ons net aan onsself dink. Gee vir ons asseblief ‘n visie na buite asook die wil en ywer om dit uit te voer!