Maleagi 1:6-14
'n Seun hét mos respek vir sy pa en natúúrlik respekteer 'n slaaf sy baas! In Maleagi se tyd was dit beslis áltyd die geval - dit was net eenvoudig nie anders nie! Dan vra God die vraag: “As Ek dan 'n vader is, waar is die respek wat My toekom? As Ek die Opperheer is, waar is die ontsag vir My?”
Vandag kan die Here hierdie vraag vir ons met soveel méér erns vra, want dikwels verdwyn die respek vir God die Almagtige totaal en al, selfs onder gelowiges! Hoe dikwels het jy nie al iemand disrespekvol van God hoor praat as : “Die Ou Man daar bó” nie. Ek wil inmekaar krimp van pyn as ek 'n gelowige so 'n ding hoor sê!
Maar hierdie is eintlik maar net die puntjie van die seekoei se ore, want hierdie gedeelte in Maleagi gaan eintlik oor 'n godsdiens beoefening wat in totaliteit die respek vir God verloor het.
Kom ons vra die vraag: “Wat beteken dit om in Jesus te glo?” Is dit maar net om te glo dat Hy vir my sondes gesterf het en dat ek nou die ewige lewe het?
Ons kan dan onomwonde antwoord: “Natúúrlik nie! Dit gaan verséker veel dieper as dit!” Geloof in Jesus beteken dat my lewe totaal verander is en dat ek nou in 'n verhouding staan met Hom. Maleagi beskryf dit pragtig as 'n Vader-kind verhouding en dit is presies hoe dit moet wees. In 'n ware vader-kind verhouding is die kind totaal afhanklik van sy pa. Maar daar is ook daardie liefdesband tussen hulle. 'n Goeie pa sal sy lewe opoffer vir sy kind. Maar die kind sal ook liefde uitleef teenoor sy pa en hom met groot ontsag en respek behandel.
As 'n seuntjie vir sy pa sou sê: “Haai ou Toppie, hoe lyk dit met 'n geldjie vir 'n roomys?” sal enige regdenkende pa hom bloedig vererg vir sulke arrogansie!
Wanneer daar egter 'n goeie verhouding is, sal die seuntjie sy pa om die nek val en hom druk en sê: “Ek is so lief vir Pappa!” en wanneer die roomys ter sprake kom, sal hy vra: “Asseblief Pappa, kan ek asseblief roomys kry?”
Sien jy die verskil in stemtoon? Sien jy die verskil in die verhouding?
Maleagi gebruik egter ook 'n tweede beeld, dié van 'n slaaf en sy eienaar. Inderdaad is ons nie alleen kinders van die Vader nie, maar ons is ook Sy eiendom nét soos 'n slaaf aan sy eienaar behoort het. Daar is egter 'n baie groot verskil, want hierdie “Eienaar” het ons baie duur gekoop, met die lewe van Sy Seun. Ons is dus vir Hom in die eerste plek uiters kosbaar.
Hy is egter ook baie anders as die eienaars van daardie tyd. Hy is nie die dikwels ongenaakbare en wrede eienaar van Maleagi se tyd nie, maar die Eienaar wat Sy eiendom koester en met groot liefde versorg.
Dit vra egter van hierdie “eiendom” om die opdragte van die Eienaar uit te voer. 'n Slaaf sou dit nie durf waag het om vir sy eienaar te sê: “Ag nee wat, ek gaan nie doen wat u vra nie.” Dit sou ongehoorsaam, disrespekvol en arrogant wees en dit sou beslis vir hom gróót moeilikheid beteken het!
As ek en jy dan God se eiendom is, waarom sou ons dan weier om te doen wat Hy van ons vra? En veral as dit 'n Eienaar is wat soveel vir ons omgee en doen soos die Here? As Hy 'n eenvoudige dingetjie van ons vra, soos om die Evangelieboodskap te deel met 'n kollega of vriend, waarom is ons dan so traag om dit te gehoorsaam?
Ja, dikwels is ons wél gehoorsaam aan die Here en voer ons die opdragte uit wat Hy vir ons gee, maar ons doen dit halfhartig en slegs die allernodigste.
Maleagi beskryf hier hoe die volk omgegaan het met offerandes aan die Here. Die mense het nie hulle beste diere gebring soos wat die Here gevra het nie, maar die diere wat vir hulle niks werd was nie. Daarmee wou hulle vir die Here sê: “Kyk, ons bring offerandes!” Maar hulle het eintlik net probeer om die Here tevrede te stel sodat Hy dinge vir hulle sou doen. En die priesters is eintlik niks beter nie, want hulle het ook maar net die héél noodsaaklikste gedoen, slegs hulle werk en niks meer nie.
Aan sulke soort offers het die Here géén behae nie.
Hoe dikwels het jy nie al gevoel dat wanneer jy iemand vra om 'n taak vir jou af te handel, dat die persoon dit só halfhartig doen dat jy vir hom wil sê: “Aag, los dit asseblief! Ek doen dit liewer sélf!”
Die Here voel dalk dikwels so oor ons. Hy het nie ons halfhartige pogings nodig nie. “Van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, is my Naam groot onder die nasies,” sê die Here vir die volk. As hulle Hom nie behóórlik eer nie, moet hulle weet dat Hy deur duisende ander mense wél geëer word. Dan moet hulle dit liewer los!
Die Here vra van jou en my álles of niks. Vandag moet ons besluit of ons waarlik 'n Pa-kind verhouding met die Here het en of daardie verhouding dalk skeef is. As daar iets skort met my verhouding met God, dan het dit nóú tyd geword dat ek dit regstel. Dit beteken dat ek weer die nodige respek vir die Here kry wat Hom waarlik toekom. En dat ek voluit sal doen wat Hy van my vra.
Gebed:
Here, ek staan vanoggend diep skuldig teenoor U. Help my asseblief om my verhouding met U reg te stel.