‘n Onselfsugtige Besluit

14 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Onselfsugtige Besluit

Genesis 13:1-12

Na die Egipte-episode is Abram terug op sy spore, terug na die beloofde land. Hy is terug na Bet-El waar hy aan die begin sy tent opgeslaan het. Jy sal onthou dat hy voor die groot hongersnood daar ‘n altaar vir die Here gebou het? Die altaar was nog steeds daar, en dit is dan ook die plek wat Abram opsoek om die aangesig van God te soek. Daar word nie vir ons gesê wat plaasgevind het in daardie gesprek tussen God en Abram nie, maar ons kan maar net raai. Abram het baie dinge verkeerd gedoen: Hy het gelieg, mense in die moeilikheid gebring en sy eie kop gevolg. Die ergste van alles was egter dat hy sy vertroue in God verloor het en van die Here af weggedwaal het! Het Abram daar by die altaar die Here om vergifnis gesmeek? Het hy dalk daar weereens sy onwrikbare geloof in God bely? Was dit diepe berou wat hy daar voor God uitgestort het? Of was dit dalk ook ‘n soeke na die herbevestiging van God se beloftes?

Die feit is dat Abram daar in die teenwoordigheid van God gaan staan het. Dit is verder ook ‘n feit dat elke gelowige van tyd-tot-tyd ‘n Bet-El nodig het waar jy tot verhaal kan kom. ‘n Bet-El waar jy tot stilstand geruk word en jou hart voor God kan uitstort. ‘n Bet-El waar jy net stil kan word voor God, en luister na Sy wonderlike influisteringe in jou lewe.

Ons lees so terloops in Gen 13:2 dat Abram teen hierdie tyd baie ryk was. Dit was nie net die groot troppe vee, en dan ook nog die goed wat die Farao hom gegee het nie, al die donkies, kamele, beeste en goed. Abram het by dit alles ook nou rykdom versamel in goud en silwer. God het aan Abram ‘n paar dinge beloof: rykdom, sy eie land wat aan hom en sy nageslag behoort, en dan natuurlik die groot een: ‘n nageslag. Van hierdie drie beloftes het tot dusver nog net een waar geword, die groot rykdom. Maar van ‘n nageslag is daar nog géén sprake nie, en boonop besit Abram nog nie ‘n enkele vierkante sentimeter van die grond in hierdie land wat God hom beloof het nie.

En dit is juis hier waar die moeilikheid begin het. Die Kanaäniete en die Feresiete het die land besit, en die arme Abram en sy nefie, Lot, wat intussen ook al groot kuddes vee opgebou het, moes maar tweede viool speel. Die ander volke het die beste dele van die land vir hulleself opge-eis, en Abram-hulle moes tevrede wees met die oorskiet. Dit lei uiteindelik tot wrywing tussen Abram en Lot, omdat daar net eenvoudig nie genoeg weiding was vir al hulle vee nie. Die veewagters het onder mekaar begin baklei, en Abram het besef dat iets gedoen moet word. As hulle nie kan saamstaan nie, is hulle weerloos teen die bakleierige Kanaäniete, en gaan hulle groot moeilikheid optel. Dus stel hy voor dat sy paadjie en dié van Lot liewer maar moet skei. Nie alleen om vredesonthalwe nie, maar vir hulle eie veiligheid.

Die tameletjie was egter: wie gaan waarheen? As ouer persoon het Abram die volste reg gehad om vir Lot voor te skryf waarheen hy moes gaan, en Lot sou geen keuse gehad het as om te gehoorsaam nie. Abram was immers ook die beloftedraer, en volgens God se belofte het die hele land aan hom behoort. Sal hy sy regte opeis? Sy materiële toekoms is immers hier op die spel. Het Abram iets geleer uit sy Egipte-ervaring? Sal hy die beste opeis vir homself en Lot sy eie gang laat gaan? Dit gebeur egter nie so nie, en die groothartigheid van die God’s-man, Abram, kom na vore as hy vir Lot sê dat hy maar kan kies watter deel van die land hy wil gebruik. Abram sal tevrede wees om te vat wat oorbly. Hy sal die minste wees.

Ons lees dan ook dat Lot watertand gekyk het na die vrugbare Jordaanvallei, en besluit het dat dit syne sou wees. Hierdie besluit sou hom later nog baie duur te staan kom, maar dit is ‘n storie vir ‘n héél ander dag. Die naam van die stad waar Lot sy tent gaan opslaan het, gee ‘n mens al klaar koue rillings: Sodom! Niemand weet verseker waar presies hierdie stad geleë was nie, maar ons vermoed dat dit dalk iewers op die bodem van die Dooie See kan wees, iets wat nog méér rillings gee.

Abram se onselfsugtige besluit laat ‘n mens skaam voel. Hoeveel keer in my en jou lewe was ons nie dalk al voor die keuse geplaas nie, waar ons die volste reg het om die beste vir onsself te kon hou? En wat doen jy? Jy vat wat jou toekom, wat seker heeltemal reg is, en los die oorskiet vir iemand anders.

Jesus het ons egter anders kom leer. Deur die voorbeeld wat Hy gestel het, het Hy gesê dat ‘n gelowige bereid moet wees om die minste te wees. Hy was bereid om die voete (vuil, stinkende voete!) van Sy dissipels te was. Hy het die keuse gehad: Hy kon gaan sit dat iemand anders dit doen, en Hy het die volste reg gehad. Maar Hy het gekies om sélf die vuil werk te doen. Jesus se liefdesgebod is alles-omvattend. Nie alleen moet jy jou naaste en jou broers en susters in die geloof liefhê nie, maar selfs ook jou vyande. En as iemand jou dwing om iets te doen, bied jy aan om nog selfs meer vir hom te doen. Abram het onselfsugtigheid uitgeleef, en Jesus het dit kom vervolmaak. Kom ons volg in hulle spore.

Gebed:

Here, dankie vir die voorbeeld van ‘n Abram en van Jesus. Gee my asseblief die genade om dit na te volg.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026