Handelinge 25:1-12
Die arme Paulus sou seker in die tronk in Sesarea doodgegaan het van ouderdom! Feliks het hom al twee jaar daar onskuldig aangehou, nét om sy eie nuuskierigheid oor die Christen-geloof te bevredig. Of dalk was hy bang dat hy in die Jode se slegte boekies sou kom as hy vir Paulus vrylaat. Hoe dit ookal sy, aan die einde van sy dienstermyn in Sesarea, besluit hy om Paulus vir sy opvolger, Festus te los, sodat dié darem ook ‘n bietjie plesier kon hê.
In die jaar 59 nC land Porkius Festus in Sesarea as die nuwe goewerneur. Vir hom is dit ‘n uitdaging om hierdie spul rebelse Jode, waarvan hy nou al so baie gehoor het, te kom regsien. “Dalk moet ek hulle vertroue wen,” redeneer hy, en dan voeg hy sommer die daad by die woord. Skaars drie dae na sy aankoms in Sesarea, vertrek hy na die kookpot, Jerusalem. En ‘n kóókpot was dit inderdaad! Sy aankoms daar het hom vooruitgeloop, en toe hy in Jerusalem uit sy luukse ryding klim, staan die Joodse Raad al klaar gereed om hom te verpes oor hulle “geliefde” Paulus.
Met Feliks kon hulle nie hond haaraf maak oor Paulus nie, dalk sal hierdie nuwe besem skoon vee. “Hooggeagte goewerneur Festus, ons versoek u nederig om tog die uiters gevaarlike misdadiger, Paulus, na Jerusalem te bring sodat hy hier verhoor kan word,” kom hulle met ’n skynheilige versoek. Hulle het al lankal hulle plannetjies agtermekaar gehad, want nes Feliks voor hom sou hierdie Porkius vent natuurlik ook vir Paulus onskuldig vind. Die enigste uitweg is om ‘n sluipmoordaanval op Paulus uit te voer op die pad wanneer hy na Jerusalem gebring word.
Maar Festus wou nie byt aan hulle voorstel nie. In Sesarea word Paulus aangehou, en in Sesarea sal hy verhoor word! “Stuur maar julle bekwaamste manne vir die verhoor,” sluit hy die saak finaal af.
‘n Week later is Festus terug in Sesarea, en die volgende dag staan die Jode gereed vir hom en wag vir Paulus se verhoor. Die arme Festus kry nie eers kans om sy voete behoorlik te vind in sy nuwe werk nie, dan vergal die Jode hom al met hulle kleinlikheid. Hy gaan sit op sy regbank, en Paulus word ingebring. Dit is vet op die vuur vir hierdie Jode, want hulle was twee jaar gelede verneder toe Feliks die hofsaak hanteer het. Hierdie slag bring hulle ‘n klomp ernstige aanklagte in teen Paulus. Godsdienstige kwessies werk blykbaar nie met die Romeine nie, dus word die keiser se naam ingesleep, en Paulus word as ‘n vyand van die (hoogheilige) keiser uitgekryt. Toe Festus uiteindelik orde bewerkstellig in hierdie deurmekaar hofsaak, gee hy Paulus die kans om homself te verdedig. Paulus trek sy skouers op: “Ek het rêrig niks verkeerd gedoen nie, nie teenoor die Joodse wette óf teen die keiser nie!” Toe Festus die Jode vra vir bewyse oor hulle bewerings, kon hulle ook nie ‘n enkele bewys lewer nie.
“Die saak is afgehandel - onskuldig!” sou ons verwag dat Festus sou sê. Maar nee, hierdie slinkse goewerneur wou steeds die Jode se guns probeer wen, en toe speel hy sy troefkaart, of so het hy ten minste gedink: “Is jy bereid om in Jerusalem verhoor te word?” Paulus sien sommer dadelik waarheen hierdie ding gaan: as hy in Jerusalem verhoor moet word, is dit tiekits met hom! En toe speel hy sy eie troefkaart: “Ek wil deur die keiser self verhoor word!”
Festus skrik hom skoon in ‘n ander geloof in! Paulus is ‘n Romeinse burger, dit het Feliks hom mooi laat verstaan. As hy apelleer teen ‘n hofbeslissing, dan het hy die volste reg om sy saak na die hoogste gesag, dié van die keiser te neem. Festus probeer nog raad kry van sy slim manne, maar dié trek net hulle skouers op. Paulus het die volle Romeinse regstelsel agter hom! Tot groot frustrasie van die Jode lewer hy sy uitspraak: “Jy het jou op die keiser beroep - na die keiser toe sal jy gaan.”
Die wiel draai, en uiteindelik is Paulus se groot droom bewaarheid, om na Rome te kan gaan met die Evangelie. Maar soveel anders as wat hy gedink het dat dit sou gebeur!
Ons bid dikwels vir iets om te gebeur, dalk selfs iets baie edel, en dan gee die Here jou die antwoord dat Hy jou gebed sal verhoor. Maar tot jou groot frustrasie gebeur daar niks! En jy wonder of die Here jou dan vergeet het. En dan, op ‘n dag, dan gebeur dit, en jou gebed word beantwoord, maar op ‘n totaal ander wyse as wat jy gedink en beplan het.
Ek self wou predikant word, maar dinge het net eenvoudig nie vir my uitgewerk nie, ten spyte van die feit dat die Here my die bevestiging gegee het van my roeping. Ek het baie gebid en gewonder daaroor. En toe gebeur hierdie internetbediening waar die Here my die wonderlike voorreg gegee het om daagliks duisende mense te bereik met die Evangelie. Ek loof die Here vir die asemrowende manier wat Hy dikwels gebruik om Sy Koninkryk uit te brei.
As jy dalk vandag moedeloos gewag is, wees net geduldig: God se tyd is perfek, en Sy metodes baie, baie beter as ons beplanning.
Gebed:
Here, leer my geduld, en leer my om te berus by die dinge wat U vir my beplan.