‘n Nagmerrie Opdrag

4 September, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Nagmerrie Opdrag

Jona 1:1-2

VIDEO | OUDIO

Die profeet glimlag in sy welige baard. Hy is dolgelukkig want wat kan dan nou lekkerder wees op aarde as om 'n profeet te wees in Israel, die beloofde land wat God Almagtig aan hom en sy voorvaders gegee het. Hy geniet sy werk as profeet terdeë en daar is niks wat hom soveel genot verskaf as om mense te leer van die groot dade van God nie. Vandag het daar weer 'n groep jong manne aan sy lippe gehang toe hy hulle vertel het van die groot geloofsheld Abraham. Toe die Here hom die opdrag gegee het om op te pak en te vertrek na 'n wildvreemde land, het Abraham alles nét so gelos en met sy vrou Sara die onbekende ingetrek. Dis darem vir jou geloof! En gehóórsaamheid!

Jona neurie saggies 'n loflied wat die groot koning Dawid geskryf het en die blydskap borrel uit sy hart. Hy is tevrede want hy het God se opdrag om as profeet op te tree suksesvol uitgevoer. Dan word Jona skielik bewus van 'n stem iewers hier diep in sy binneste: “Jona seun van Amittai, Ek het vir jou 'n groot taak.”

Jona gaan skoon aan die bewe van pure opgewondenheid. “God het 'n spesiale taak vir my, Jona!” borrel dit in hom.

Jona, Ek stuur jou na die groot stad Nineve om daar vir die inwoners te gaan preek. Ek wil hê dat jy die mense aanspreek, want Ek weet hoe sleg die stad is.”

Jona raak lam in sy knieë – het hy reg gehoor? “Moet ek vir daardie klomp goddelose heidene gaan preek, Here? U kan seker nie ernstig wees nie! Hulle is mos nie kinders van Abraham nie? Hulle is nie deel van die volk van God nie!”

Natgesweet van angs en spanning rol Jona daardie nag in sy bed rond - slaap bly hom ontwyk en hy is uitgeput tot in die diepste dieptes van sy siel. “Ag, as alles tog maar net ‘n verskriklike droom, ‘n nare nagmerrie was ....” wens hy. Hy staar na die plafon met stokstywe oë wat voel asof hulle met sand bestrooi is. “Hoe kan God dit van my vra?” wonder hy gebelgd, “dis só bitter onregverdig!”

Here, ek is ‘n Israeliet, Here!” kerm hy en warm trane begin sommer opwel en oor sy wange stroom. “Ek is ‘n Israeliet wat ál die gebooie en reinheidswette stiptelik nakom - hoe kan U van my verwag om vir ‘n spul vuil, onrein heidene te gaan preek? En wat moet ek vir hulle sê? Niemand gaan vir my luister nie! Hulle gaan ‘n bespotting van my maak! En boonop is dit húlle wat ons ou volkie so verinneweer! Hulle is dan ons vyande Here! Is daar nie dalk iemand anders wat kan gaan preek vir hulle nie?”

Die vreugde wat Jona die vorige dag nog beleef het, het soos mis voor die son verdwyn. In die plek daarvan is daar bitterheid en verwyte teenoor God wat hom nou op 'n “onmoontlike” sending wil stuur.

Oor die volgende paar weke spandeer Jona baie tyd in sy binnekamer, maar dit is nie lofprysings en ‘n soeke na die wil van God waarmee hy hom besig hou nie. Inteendeel, hy spandeer die tyd om met God te probeer redeneer. “Here, U het Sélf gesê dat hierdie spul so verskriklik sleg is. Hoekom kan U nie maar met hulle maak soos Sodom en Gomorra nie?” Jona is bitter: “Al wat goed genoeg is vir daardie heidene, is God se oordeel!” sê hy vir homself. “Boonop gaan hulle my mos stenig as ek God se oordeel oor hulle uitspreek! Dis gevaarlike werk!"

En dan neem Jona 'n besluit: “Ek kan net eenvoudig nie hierdie opdrag uitvoer nie! God is onregverdig....... ek gaan weg na waar God nie 'n aanspraak op my lewe het nie.”

Ek het al sélf opdragte van die Here gekry waar ek gevoel het om te maak soos Jona, want dit het gelyk asof daar 'n soliede muur voor my kom staan het. Ek het gedink dat ek dit nooit óóit sou regkry nie. Daar móés net eenvoudig iemand anders wees wat dit beter kon uitvoer as ek?

So kry ek 'n paar jaar gelede die taak om Saterdae vir 'n groepie Zoeloe huiswerkers 'n boodskap te lewer. My kennis van die Zoeloe-taal is beroerd en alhoewel my Engels darem nie té vrot is nie, is dit iets totáál anders om in Engels te preek en te bid.

Ek het naarstigtelik begin soek na iemand anders! Maar diegene wat wél die nodige vaardighede gehad het, was reeds elders besig. En so word ek weereens in die diepkant ingegooi en die ander skree: “Swem Jannie, swem!”

Ek het egter nie rekening gehou met die Heilige Gees nie en die oomblik toe ek myself gewillig verklaar om die werk te doen, gee Hy my ál die krag, wysheid én Engelse woorde wat ek nodig gehad het. Boonop maak die Here dit vir my één gróót lekkerte, want die mense hang aan my lippe en hulle is dors vir elke stukkie van die Evangelie wat ek vir hulle deurgee. Hulle gesigte straal, hulle sing uit hulle harte uit en hulle meelewing is iets om te aanskou! En dit maak dat ek my álles gee!

Vandag kan ek nie wág dat dit Saterdag moet word sodat ons met die Zoeloe-gelowiges kan bymekaarkom nie. Dit is vir my een van die gróót hoogtepunte elke week!

Vanoggend wil ek jou aanmoedig: moenie huiwer as die Here vir jou 'n opdrag gee nie, al klink dit dalk onmoontlik. As jy gewillig is sal Hy beslis in alles voorsien.

Gebed:

Here, maak my asseblief gewillig om die opdragte wat U my gee met ‘n blye hart uit te voer en versterk asseblief my vertroue in U, die Almagtige!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026