1 Johannes 2:12-17
Onthou jy nog die gedigte uit jou skooldae? Natuurlik sal jy hulle onthou! Die Vlakte, Skoppensboer, Eensaamheid, Slaap, Dis al, Vergewe en vergeet, Die roos.... En natuurlik daardie treffende gedig, Winternag van Eugène Marais:
O koud is die windjie, en skraal.
En blink in die dof-lig en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
Is dit nie mooi nie? Dit raak mos jou siel aan! Dit bring beelde in jou gedagtes op van sterverligte velde op ’n helder maanligaand, van wuiwende grasvlaktes. Jy hoor die rooijakkals se lied waar hy met sy maat gesels. Dikwels maal die woorde van 'n gedig wat ek vyftig jaar gelede geleer het deur my kop.
Dit is dan geen wonder nie dat Johannes 'n gedig gebruik om ’n wonderlike waarheid aan sy lesers tuis te bring. Hierdie gedig sal hulle vir lank onthou. Ongelukkig is dit bitter moeilik om ‘n gedig te vertaal. Ek dink as Johannes dit in Afrikaans geskryf het, sou 1 Joh. 2:12-14 dalk so gelyk het:
Jy, my liewe kindjie, vrees tog nou nie meer;
Jou sondes is vergewe - Jesus kry die eer.
Jou pappa ken vir Jesus van hy ‘n seuntjie was,
En regdeur al die jare hou Hy sy hand steeds vas.
Die Bose staan verbysterd, sy moed is baie min,
Want jy liewe jongmens het Satan reeds oorwin!
God is onse Vader - sê dit oor en oor!
Hy woon hier in ons harte en almal moet dit hoor!
En Jesus, ons Verlosser - gely op Golgota
om al my baie sondes én joune óók te dra.
Wees sterk dan, liewe jongmens -
wees sterk in God die Heer
Met Sý Krag en Sy Waarheid sál jy die Bose keer!
Sal dit nie wonderlik wees as ’n mens die Woord van die Here soos ‘n gedig in jou hart kan skryf nie? 'n Gedig wat gedurig deur jou kop maal en wat jou deur die dag aan Hom herinner en wat jy altyd onthou. Of dalk nóg beter: eerder soos ‘n liedjie wat jy net nie uit jou gedagtes kan kry nie. Heeldag lank word jy daaraan herinner. En as die lewe swaar druk, dan is hierdie woorde in jou gedagtes vir jou ‘n troos want dan wéét jy dat God nie net naby is nie, maar reg by jou en in jou deur die Heilige Gees. Hy hou jou styf vas teen Sy bors en gee jou krag en moed om jou deur die moeilikste van tye te dra!
Maar die Woord is nie net 'n troos om ons aan God se teenwoordigheid te herinner nie. Daardie selfde lied moet ons ook herinner aan hoe die Here graag wil hê dat ons moet lewe. Dat ons liefde moet uitleef teenoor God en ons medemens.
Ek het ‘n liedjie geskryf oor 1 Korintiërs 13
Engeletale, galmsimbale,
het ek nie liefde dan maak ek geraas.
Waar is my vriend'likheid, waar my geduld?
Daarsonder is ek by liefde in skuld!
Grootpraat en afguns en daarby verwaandheid,
eie belang soek, o die lig-liggeraaktheid!
Boekhou van kwade en bly oor die onreg.
Met dit in my lewe is die liefde net skoon weg!
Maar liefde:
Dit jubel en dit lag as die waarheid seëvier.
Is verdraagsaam, onverganklik, groter as alles hier.
Profesieë sal vergaan, tale ophou bestaan,
Maar liefde dié sal vir ewig bestaan.
Liefde sal nooit as te nimmer vergaan.
Jy kan na 'n opname van die liedjie luister by bit.ly/engeletale
As jou lewe gevul is met die “gedig” van God se liefde en genade, sal daar nie meer plek wees vir die drog-gedigte van sondige begeertes en wêreldse dinge nie. Jy kan nie Mandolientjie en Majesteit gelyk sing nie, nie eers in jou gedagtes nie! Net so sal die sonde al meer uit jou lewe verdwyn namate jy jou lewe vul met God se liefde.
Dit is tóg interessant dat jy gewone prosa baie gou vergeet. ‘n Gedig onthou jy egter baie lank en boonop bly gedigte relevant, selfs honderde jare nadat hulle geskryf is, terwyl prosa baie gou sy waarde verloor. Net so is die wêreldse dinge maar van korte duur maar die Goddelike bly vir ewig relevant. Die gedig van God se liefde sal vir ewig deur die sale van die heelal weergalm, selfs lank nadat die aarde nie eers meer bestaan nie.
Vandag moet ek myself vra wat die belangrikste dinge in my lewe is? Is dit rykdom, wêreldse plesier of skoonheid? Is dit 'n twyfelagtige vriendekring, aanvaarding of sakesukses? Of is dit dalk eerder om God te dien en Sy liefde uit te leef ten spyte van verwerping deur my vriende, of dalk met die gevolg dat ek vervolging in die gesig staar? Laasgenoemde is soos daardie gedig wat ewigheidswaarde het.
Gebed:
Here, ek wil my lewe ‘n gedig maak tot eer van U grote Naam!