'n Haëlstorm Verwoes Egipte

20 June, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie 'n Haëlstorm Verwoes Egipte

Eksodus 9:13-35

???? VIDEO | ???? OUDIO

Het jy al ooit ‘n haelstorm beleef? Nee, ek praat nie van daardie soort waar daar ‘n paar korreltjies soos ertjiepitte val nie - ek praat van die héél grote wat vensters aan flarde laat spat en boomtakke morsaf breek! En het jy al ooit daardie moeder van alle donderstorms beleef, wat selfs die braafste onder die brawes doodstil laat sit met toe oë en die gordyne toegetrek? Selfs vir die man wat gewoond is aan donderstorms kan dit ‘n traumatiese ervaring wees, veral as die weerlig hier rondom jou teikens tref. Maar wat van die arme mense wat dit nie gewoond is nie? Vir hulle is dit ‘n nagmerrie wat voel asof dit net aanhou en aanhou en nooit end gaan kry nie. In Egipte val daar bitter selde ‘n druppel reën en hael is iets wat niemand ken nie. Donderstorms is onbekend.

In opdrag van die Here stap Moses vroeg die oggend na die Farao se paleis. “Ag nee, tog nie alwéér daardie kranksinnige ou towenaar nie!” sug Farao moedeloos toe hy Moses voor hom sien staan.

“So sê die Here, die God van die Hebreërs:” waarsku Moses die arrogante Farao, “Ek gaan julle tref met ‘n ramp soos julle nog nooit beleef het nie!”

“Wat gaan dit hierdie keer wees? Vlooie? Luise?”

Die koning wil nog spot, maar Moses laat hom nie afsit deur die arrogante man se snedige opmerkings nie: “Die Here sê dat Hy julle al lankal van die gesig van die aarde af moes weggevee het, maar Hy wil aan julle Sy almag bewys. Hy wil vir julle wys dat daar niemand anders so magtig is as Hy nie!”

Die Farao se geheuetjie moes seker maar bitter kort gewees het, want hy het lankal vergeet van die verskrikking wat hulle die afgelope ruk moes deurmaak.

“Ek waarsku jou: laat jou vee en jou mense onder dak kom, anders gaan hulle beslis sterf, want môre hierdie tyd gaan ‘n haelstorm die land tref soos wat Egipte nog nooit beleef het nie!” En daarmee draai Moses om en hy stap uit.

Die amptenare wat Moses se dreigement gehoor het het baie bang geraak, want hulle het nou al gesien dat wanneer hierdie ou man praat, dan gebeur dit! Maar meeste mense het dit as maar net ‘n leë dreigement beskou en aangegaan met hulle lewens. Hier in Egipte reën dit nie eers nie - wat staan nog van hael? Nee wat, die ou man is koekoes!

Toe die son die volgende oggend oor die sandduine loer, gaan staan Moses baie dramaties voor die Farao se paleis en steek sy kierie in die lug op. Die volgende oomblik ruk die hele Egipte soos hulle skrik, want uit die bloute kom die eerste oorverdowende donderslag. Dit word gevolg deur die verskriklikste donderstorm in menseheugenis. En toe kom die hael! Dit lyk soos klippe wat uit die hemel val. Diegene wat buite is hardloop vir hulle lewens, maar dit is reeds te laat! Talle Egiptenare sneuwel in die slag van die haelstene. Weerligstraal op weerligstraal tref die grond, in ‘n land waar so ‘n ding totaal ongehoord is. Bevrees klou die mense aan mekaar vas.

Intussen, in die delta waar die Israeliete bly, is dit ‘n heerlike, rustige sonskyndag. In verwondering staan hulle en kyk na die verwoesting wat gesaai word net oorkant die vleilande. “Dis die Here wat praat!” sê hulle vir mekaar met groot ontsag.

In Farao se paleis krimp die koning ineen van vrees. “Roep vir Moses en Aäron!” beveel hy sy amptenare. Moses het juis staan en wag vir hierdie oproep. “Nou erken ek dat ek verkeerd was,” pleit hy by Moses, “Die Here is reg en ek is skuldig - ek en my mense. Asseblief, ek pleit by jou: bid asseblief tot jou God dat hierdie verskrikking ophou! Ek sal julle laat gaan - julle hoef nie langer hier te bly nie.”

Moses stem in om te bid sodra hy uit die stad is. Te midde van die verwoestende haelstorm stap hy en Aäron uit die stad uit sonder dat ‘n enkele haelkorreltjie hulle tref! Oral waar hy kyk sien hy dooie mense en diere wat nie wou luister na sy waarskuwing nie. Buite die stad steek Moses sy kierie in die lug op en oombliklik hou die hael en die blitse op en die reën bedaar.

Egipte is verslae na die verwoesting, maar die Farao was weer sy óú self - ongenaakbaar, soos verwag.

Teen hierdie tyd het die volk Israel al baie duidelik die boodskap gekry: Die Here God - die Een wat ons aanbid - Hy is almagtig! Hierdie gedagte sou hulle op die pad vorentoe baie nodig kry wanneer hulle voor reuse versperrings te staan sou kom. Die vraag is of hulle dit ooit sou onthou?

Vir die Egiptenare het die gedagte ook alreeds helder en duidelik deurgedring dat die God van die Hebreërs baie magtiger is as hulle gode! Elke keer as hulle die twee ou manne sien stap op pad na die Farao se paleis toe, krimp hulle al klaar inmekaar van vrees - wat sou volgende op hulle wag?

Maar hulle koning bly onversetlik!

Vandag, as ons die “magte van die natuur” aanskou - ‘n donderstorm of ‘n aardbewing of wat ookal die geval is - sien ons nog werklik die almag van God daarin raak? Of het ons afgestomp geraak? En wanneer ons die delikate blommetjies of skoenlapper of suikerbekkie aanskou - staan ons steeds in verwondering oor die wonder van God se skepping?

Gebed:

Here, vandag kan ek maar net weereens my hande saamslaan in verwondering oor U almag wanneer ek U skepping aanskou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026