Markus 6:14-29
Koning Herodus Antipas is hoogs ontsteld: “Dis Johannes - ek sê vir julle dis Johannes wat by my kom spook! Hy het uit die dood opgestaan!” Sy raadgewers probeer hom kalmeer, maar Herodus raak net al hoe meer opgewonde: “Daardie Jesus - Hy is niemand anders as Johannes se spook nie!”
Alles het begin by ‘n skelm liefde, ‘n brandende begeerte. Dit was sy halfbroer Filippus se uitlokkende vrou wat hierdie dinge in hom wakker gemaak het. Sy was ook nie juis onwillig om saam te speel nie, sy en daardie wulpse dogter van haar, Salome met haar wriemelende lyfie! Herodus het soos gewoonlik sy sin gekry. Herodias het Filippus soos ‘n vuil lap weggegooi en by Herodus ingetrek. Natuurlik nadat hy eers van sy eerste vrou ontslae geraak het!
Toe kom staan en bederf daardie woestynbarbaar, Johannes alles! Wilde kreatuur met woeste baard en hare. Hulle sê dat die man van sprinkane geleef het! Hoe afgryslik! En hy kom staan en preek vir Herodus! Hoe durf hy! Toe Herodias hiervan te hore kom, wou sy slange vang! Sy het geëis dat Johannes net daar en dan tereggestel moes word. Natuurlik sou dit baie groot moeilikheid maak, want Johannes het nogal ‘n groot gevolg gehad, en Herodus kon nie bekostig om met húlle slaags te raak nie! Boonop het hy ‘n heimlike vrees vir Johannes gehad, want hierdie was ‘n man van God, dit kon hy baie duidelik sien. Toe smyt hy hom maar in die tronk.
Herodus het baie met Johannes daar in die tronk gaan gesels. Elke keer het dit uitgeloop op ‘n vurige tweestryd, en dan het hy woedend uitgestorm. Maar keer op keer was hy maar weer terug, want hierdie man het dinge gesê wat hom diep in die hart getref het, en hom seergemaak het hier binne.
En toe gebeur daardie nag, die nag waarvan Herodus liewer wil vergeet! Maar hoe hard hy ookal probeer, die nagmerries kom keer op keer terug, en dan spring hy op, sopnat gesweet.
Dit was sy verjaarsdag, en sy verleidelike vrou het vir hom ‘n groot partytjie gereël. Almal was daar, al die Romeinse hooggeplaastes, selfs knorrige ou Pontius Pilatus. Hy verpes daardie Romein, maar hy moes hom maar verdra ter wille van vrede. Die tafels het gekreun onder die swaar vragte eksotiese disse. En die wyn het soos die Jordaanrivier in vloed gevloei. Herodus en sy hoë gaste het hulle verlustig in die skamelgeklede danseressies wat hulle lyfies verleidelik gekrul het. Alles was sommer baie vrolik! Toe leun Herodus oor na sy beeldskone vrou: “Liefie, hoe lyk dit, sal daardie wulpse dogter van jou nie vir ons dans nie?”
Herodias het haar kans gesien om weerwraak te neem. “Ek sal haar roep”. Toe verdwyn sy. Daar word onheilige dinge gefluister in Salome se oor, opdragte wat die meisiekind laat sidder het! Maar as Mammie so mooi vra, wie was sy tog om te weier?
Salome was ‘n meester in die kuns van Oosterse dans, en sy het die gaste bekoor met ‘n asemrowende vertoning. Toe die musiek ophou, eindig sy haar dans reg voor haar stiefpa. Sy het gegril toe sy in sy dowwe oë kyk!
“Vra net wat jy wil,” het hy gesleur, “ek sal vir jou gee nét wat jy vra!” Sy het presies geweet wat sy sou vra, maar sy gee hom nog ‘n bietjie tou. “Die helfte van my Koninkryk is joune!” het Herodus besope gebulder.
Dan bars sy die bom: “Die kop van Johannes!”
Daar het ‘n geskokte stilte toegesak oor die hele saal. Skielik was Herodus skoon nugter geskrik! “Bedoel jy dit rêrag?”
Hy wou dit nog afmaak as ‘n siek grap, maar Salome het by haar versoek gebly. Herodus het gevoel hoe die bloed sy kop verlaat. En toe, met ‘n bewende stem het hy die opdrag gegee dat Johannes onthoof moes word. ‘n Kort rukkie later word die profeet se bebloede kop op ‘n skinkbord ingedra en aan al die gaste vertoon.
Daardie verskriklike nag sal Herodus nooit óóit vergeet nie. En nou is hierdie Jesus hier! Is dit nie dalk Johannes wat teruggekeer het uit die dood nie?
‘n Gru-verhaal! ‘n Verhaal wat wys dat selfs groot mag en rykdom nie geluk kan koop nie.
Markus het hierdie verhaal ingevoeg reg in die middel van sy beskrywing van die uitstuur van die dissipels. Jesus het hulle gewaarsku dat hulle teenstand sou kry. Wou Markus beklemtoon hoe erg die teenstand kon word? Vandag kan enigeen wat die Woord eerlik verkondig ook teenstand verwag. Die duiwel wil die verspreiding van die Evangelie met alle mag keer. Hy het dit met Johannes gedoen, maar dit het nie gewerk nie, want die Evangelie was soos ‘n onstuitbare tsoenami. Johannes het selfs daar in die tronk steeds aangehou om te sê wat hy op die hart gehad het, ten spyte van Herodus se tirade.
Die vraag is: gaan ek en jy ons laat onderkry deur ‘n bietjie teenstand? As iemand ons spot oor ons standpunt - gaan dit ons stilmaak? Jesus het vir Sy dissipels gesê dat hulle bloot die stof van hulle voete moes afskud. Hulle moes vergeet daarvan. Die probleem is dat ons dikwels té fyngevoelig is. As jy die Evangelie wil uitdra, moet jy dikvellig wees. Ons kan gaan leer hieroor by die Jehovah’s Getuies! Maar ons kan ook gaan leer by die talle mense in die sendingveld en mense wat onverskrokke Bybels en die Evangelie versprei in lande waar dit totaal verbode is. Kom ons waag vir Jesus!
Gebed:
Here, ek is dikwels so bang om te waag om U Woord uit te dra. Vergewe my, en gee my asseblief waagmoed!