‘n Groot Terugslag

8 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Groot Terugslag

Genesis 44:1-34

Die elf broers kan nog steeds nie glo wat hulle getref het nie. Waarom is hulle so goed behandel, en dit nogal nadat daardie man hulle so beskuldig het van spioenasie en allerhande liederlike dinge? En die geld wat in hulle sakke was? Hy moes sékerlik onraad gemerk het! Waarom het hy al die moeite gedoen om hulle, eenvoudige Hebreërs, so ‘n groot feesmaal voor te sit? En dan is daar die groot raaisel: hoe het hy geweet om hulle presies in die regte volgorde van oud na jonk te rangskik om die tafel? Die manne gis en wonder. “Hulle sê dat daardie man glo voorspellings kan doen, glo 'n profeet of iets! Ek wonder of hy nie dalk deur magiese krag dwarsdeur ons kon sien nie?”

Dit het tyd geword om weer op te pak, want met hanekraai moet hulle in die langpad wees. Intussen het Josef die hoofamptenaar ‘n snaakse bevel gegee: Hy moes heimlik weer die graansakke van die elf manne gaan oopmaak, en hulle geld bo in elkeen se sak plaas. “En vat my silwerbeker,” sê hy vir die verbaasde amptenaar, “en sit hom bo in die sak van die jong seun saam met sy geld.” Josef wil die manne nog een laaste keer toets om te sien of daar waarlik ‘n hartsverandering by hulle gekom het. Wat sou hulle maak as hulle met diefstal gekonfronteer word? En wat sal hulle doen as die lewe van hulle kleinboet bedreig word? Sal hulle toegee aan die druk en hulle eie lewens probeer red?

Die amptenaar voer Josef se opdrag noukeurig uit met ‘n groot vraagteken op sy gesig. Soms verstaan hy Josef gladnie. Maar daardie slim man bevraagteken jy nooit! Sy misterieuse God gee hom baie groot mag.

Donkeroggend word die donkies gelaai, en val die manne in die pad, salig onbewus van die tydbom wat hulle met hulle saamdra. Skaars is hulle uit die stad, of Josef roep sy hoof amptenaar. “Nou moet julle die manne agterna sit. Soek hulle sakke deur, maar sorg dat die seun se sak laaste is. En dan neem jy hulle in hegtenis.”

Maar meneer......,” wil die man nog sê, maar hy bedink hom. Hy kan nou gladnie meer verstaan wat hierdie slim Meneer wil probeer bereik nie. En so sit hy en ‘n afdeling soldate die groepie Israeliete agterna. “Wat het julle besiel?” vra hy bars vir die verbaasde manne. “My meneer het julle net met goedheid behandel, en nou kom doen julle so ‘n lae ding. Waarom beantwoord julle sy goedheid met die slegte?” En dan vertel hy vir hulle baie dramaties dat Josef se baie spesiale silwerbeker, nogal die een wat hy gebruik om al sy voorspellings mee te doen, gesteel is. “En daardie beker het verdwyn nadat julle by hom gaan eet het!” voeg hy by. “Dit kan maar net een van julle wees!”

Die manne trek hulle skouers op: “Waarom sal ons so ‘n lae ding doen? Jy het sélf gesien dat ons die geld wat ons laaskeer in ons sakke gekry het, teruggebring het. Nie een van ons sal steel nie. Jy kan die een in wie se sak dit is maar doodmaak!” Dan voeg Ruben by: “En dan kan jy ons almal maar jou slawe maak!”

Baie dramaties begin die amptenaar by die oudste se sak. Ruben se graansak word deeglik deursoek, maar van die beker is daar géén teken nie. “Ek het jou mos gesê,” wil hy vir die man sê, maar hy bedink homself. Hy kyk hoedat die tweede sak deursoek word, en die derde, sonder enige resultate. Nou begin Ruben gerus raak. En so gaan die hoofamptenaar op die ry af - die sewende, agtste, negende en tiende. Die manne slaak ‘n sug van verligting: daardie belangrike beker is nie hier nie. (Snaaks genoeg word daar niks gemeld van die geld nie. Wat het daarvan geword? Ons kan maar net raai.)

Dan word die jong Benjamin se sak oopgemaak. Ruben voel hoe die bloed uit sy gesig loop. Spierwit van die skok en oopmond staar hy na Benjamin se sak: daar, bo-op al die graan skitter Josef se silwerbeker. Stomgeslaan draai die manne om, terug na Egipte om op die rooi tapyt te gaan staan. Hulle kan dit nie verstaan nie!

Hoe mooi hulle ookal verduidelik, en hoe mooi hulle ookal soebat: Josef bly ongenaakbaar. Benjamin sal sy slaaf word, maar die ander is vry om terug te gaan. Hulle is platgeslaan: “Dit gaan ons pa se dood beteken,” soebat hulle, maar Josef bly by sy besluit.

Die manne is in die moeilikheid oor hulle sonde wat God aan die lig gebring het. Nie die beker nie, maar omdat hulle vir Josef verkoop het! Dit is dáárdie sonde wat hulle inhaal. Nog nêrens hoor ons dat hulle erken dat hulle destyds vir Josef verkoop het nie. Hulle praat net die hele tyd van “die broer wat dood is” of van “die broer wat verdwyn het”.

Dan tree Juda na vore en pleit om genade. Hy is bereid om in Benjamin se plek slaaf te wees. Hy was die een wat voorgestel het dat Josef verkoop word, en nou word hy die pleitbesorger. Juda het hulle gesamentlike skuld bely. Daar was ‘n totale ommekeer by die broers, en veral Juda. Tyd en lyding het gesindhede verander.

n Mens mag nooit iemand afskryf nie, en boonop mag jy die krag van lyding nooit onderskat nie.

Gebed:

Here, dankie dat U bemoeienis met ons maak. Help my asseblief om U hand te herken in dinge wat met my gebeur - dat selfs pyn en lyding soms nodig is om my tot besinning te ruk.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026